Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is vuil politiek nou die norm?
Christo van der Rheede

Dit gaan tans nie goed in Suid-Afrika nie. Xenofobiese aanvalle en die gepaardgaande vergelding, geweld teen vroue en kinders, algemene misdadigheid, ’n ekonomie wat poer-poer, binnegevegte in die regerende party en beleid wat net verdere ekonomiese rampspoed gaan meebring, rysmier ons demokrasie. 

Die hoop wat daar met die aanstelling van pres. Cyril Ramaphosa ontstaan het, begin stelselmatig vervaag. Mense is nou meer verward as ooit en bitterlik teleurgesteld. Waaroor almal wel saamstem, is dat dinge nie so kan aangaan nie en dat die president en sy kabinet hul rug moet styf maak.

Daar moet sterk leiding gegee word om ’n einde aan hierdie sinnelose geweld te maak. Maar dié hoop beskaam. Die geweld brei daagliks uit. Wat gaan hier aan? En waarom die vele teenstrydige uitsprake deur ANC-leiersfigure? Ná amper ’n week van xenofobiese aanvalle in Pretoria, Johannesburg en ander gebiede het Ramaphosa eindelik gereageer.

In ’n videoboodskap het hy gebied dat die aanvalle moet end kry. Ace Magashule, sekretaris-generaal, sê weer in ’n toespraak ’n dag daarna aan Sasco-studente by die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie dat swart mense nie ander mense met dieselfde velkleur moet aanval nie. Want hulle is mede-Afrikane. Waarom húlle aanval, terwyl mense met ligte gelaatstrekke nie aangeval word nie? 

Wit mense is blykbaar nie Afrikane nie; hy verwys na hulle as “uitlanders”, wat daarop uit is om Afrika te verdeel en oor Afrika te heers. Dit is imperiale, fascistiese en rassistiese magte wat die ideaal van ’n verenigde Afrika wil ondermyn deur stamgebondenheid te bevorder. En by implikasie agter die geweld sit, sê hy. 

Wit mense is blykbaar nie Afrikane nie; hy verwys na hulle as “uitlanders”, wat daarop uit is om Afrika te verdeel en oor Afrika te heers.

Hy noem ook dat die regering nie by die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) óf die VSA geld gaan bedel nie, want hul missie is om Afrika te verdeel en te heers. Dit speel af in dieselfde week dat die Wêreld- Ekonomiese Forum se Afrika-beraad in Kaapstad gehou word. Mense van alle velkleur, etnisiteit, geloof, status of statuur, verteenwoordigend van die hele wêreld en met verbintenisse met die Wêreldbank en die IMF, woon dit by met een doel voor oë: om Afrika en Suid-Afrika vorentoe te neem. 

Op die beraad het Ramaphosa sy eie doelwit bevestig om beleggings van  R1,2 triljoen na Suid-Afrika te lok, asook dat ’n tweede beleggingsberaad beplan word. Twee leiers van dieselfde party met uiteenlopende standpunte.

Terwyl die een sy uitlatings oor die etniese boeg gooi en wit mense, die VSA en die IMF blameer vir alles wat verkeerd loop in die land, flikflooi die ander een met afgevaardigdes van oor die wêreld heen. Hierdie botsende standpunte is op feitlik elke beleidsterrein ter sprake. Selfs by begrafnisse. Die verdeeldheid in die ANC is sigbaar en tasbaar.

Tog word daar hard probeer om ’n beeld van eenheid voor te hou. Wie mislei wie?Daar gaan nie ’n dag verby sonder uiteenlopende standpunte deur ANC-kabinetslede en -leiers oor grond, die Reserwebank, Nasionale Gesondheidsversekering en die ekonomie nie. 

Die reaksie op Tito Mboweni, minister van finansies, se hervormingsvoorstelle vir die ekonomie is ’n sprekende voorbeeld hiervan. Die onderlinge getwis spoel ook nou al oor na regsgedinge oor naamskending tussen eertydse kaders!

Waar is die partydissipline? Waar is die etiek? Waar is die toewyding aan die land en om landsbelange eerste te stel? Het die politiek van gemene spel nou die norm geword? 

Van der Rheede is adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA.

Meer oor:  Xenofobie  |  Vuil Politiek  |  Vrouegeweld  |  Rysmier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.