Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Israel se rol in Afrika

Israel het ’n ingewikkelde geskiedenis met Afrika, ’n vasteland waar daar ook gevestigde belange in die Palestynse saak is, skryf Jo-Ansie van Wyk.

Jerusalem se ou stad. Foto: ISTOCK

Israel se diplomatieke bande met Afrika het die laaste paar jaar aansienlik versterk onder leiding van Benjamin Netanyahu, dié land se premier.

In 2016 was Netanyahu die eerste Israelse leier wat Afrika in 30 jaar besoek het.

Israel se bande met Afrika is dikwels onstuimig weens die Palestynse kwessie, wat sommige Afrika­state as ’n soort Israeli-“apartheidstelsel” beskou. Voorts kry Afrika-regerings se noue bande met Midde-Oosterse state deur die Arabiese Liga dikwels voorkeur bo bande met Israel.

Toenadering

Israel se onlangse toenadering tot Afrika is drieledig. Israel wil graag sy waarnemingstatus by die Afrika-Unie (AU) herwin, handelsbetrekkinge met Afrika bevorder en diplomatieke ondersteuning ter voorkoming van Israel se internasionale afsondering uitbou.

Israel streef daarna om homself in die Midde-Ooste te handhaaf. Sy veiligheid en voortbestaan in die streek is onder druk en Palestynse aansprake op ’n onafhanklike staat kry internasionaal steun, in die streek en elders.

In 1956 was die Goudkus, die huidige Ghana, die eerste Afrikastaat wat volle diplomatieke bande met Israel gesluit het. Teen die 1970’s het Israel bande met 33 Afrikastate gehad. In dié dekade het die getal toenemend gewissel weens Israelse oorloë met sy bure.

Vandag neem diplomatieke bande, of die gebrek daaraan, met Afrikastate verskillende vorme aan. Israel se departement van buitelandse sake tref onderskeid tussen gevestigde, hernude en opgeskorte betrekkinge. ’n Vierde kategorie, erkenning van die staat Israel, word ook onderskei.

Teen die agtergrond van dié kategorieë het Israel diplomatieke bande met 41 van Afrika se 54 state. Israel het 11 ambassades op die vasteland, in Rwanda, Senegal, Egipte, Angola, Ghana, Ivoorkus, Ethiopië, Nigerië, Suid-Afrika, Kenia en Kameroen.

Diplomasie

Israel maak gebruik van verskillende diplomatieke vorme om bande met Afrikastate te bevorder. Dit sluit in ontwikkelingsdiplomasie, wat fokus op landbou, waterbestuur en kommunikasie.

Godsdienstige diplomasie is ’n ander diplomatieke vorm wat Israel aanwend.

Die opkoms en groei van Pinkster- en evangeliese bewegings in Afrikalande is tot Israel se voordeel. Hierdie bewegings beskou hedendaagse Israel as die Bybelse Heilige Land en hul geestelike tuiste wat beskerm moet word. Dié betrekkinge is verder versterk onder die presidentskap van Donald Trump, met die Trump-administrasie se erkenning van Jerusalem as die hoofstad van Israel in 2017 en die verskuiwing van die Amerikaanse ambassade van Tel Aviv na Jerusalem in 2018.

Die Amerikaanse senaat het in Februarie vanjaar, dus ten tyde van die presidensie van Joe Biden, oorweldigend gestem om die ambassade in Jerusalem te hou.

In die laaste dae van die Trump- administrasie, in Desember 2020, het die VSA ’n diplomatieke ooreenkoms tussen koning Mohammed IV van Marokko en Israel bemiddel.

Marokko, wat in 2000 volle diplomatieke bande met Israel verbreek het, het ingevolge die ooreenkoms bande met Israel hervat in ruil vir Amerika se erkenning van Marokko se aansprake op die Wes-Sahara-gebied.

Die AU erken die Poli­sario-Front as die regering in dié gebied en die gebied as ’n onafhanklike staat, die Sahrawi- Arabiese Demokratiese Republiek (SADR) of Sahrawi.

Marokko het die vierde lid van die Arabiese Liga geword wat onlangs bande met Israel herstel het. Die ander lede is Bahrein, Jordanië, Soedan en die Verenigde Arabiese Emirate. Israel handhaaf diplomatieke betrekkinge met Egipte, ’n Afrika-ligalid.

Wapenhandel

Israel se militêre diplomasie met Afrika sluit wapenhandel in. Die nuusagentskap Middle East Eye het vroeër vanjaar berig 4% van Israel se wapenuitvoer gaan na Afrika­state.

Afrikaregerings regverdig dit as noodsaaklik vir die bekamping van terrorisme. Menseregteorganisasies, soos Amnestie Internasionaal, bevraagteken uitvoer na byvoorbeeld Kameroen, Suid-Soedan en Uganda. Die organisasies reken dat ondemokratiese Afrikaleiers, soos Yoweri Museveni van Uganda, Is­raelse wapens en tegnologie gebruik om sy greep te versterk.

Desnieteenstaande is die verhouding tussen Israel en Uganda baie sterk en geskiedkundig.

In 1903, op die Sesde Sionistiese Kongres in Switserland, het Theodor Herzl, stigter van die Sionisme-beweging, Uganda as ’n veilige hawe­ vir Joodse vlugtelinge voorgestel.

Die Uganda-skema, soos dit bekend staan, is daarna met Brittanje bespreek en ’n Britse koloniale gebied in Oos-Afrika is vir dié doel geïdentifiseer­. Sommige bronne reken dat die gebied wel in hedendaagse Kenia eerder as Uganda geleë is.

’n Verdere geskiedkundige gebeurtenis wat die bande tussen Uganda en Israel versterk, is die aanslag op Entebbe, die sogenaamde Operasie Donderslag (Operation Thunderbolt) op 4 Julie 1976.

’n Vliegtuig van Air France wat van Tel Aviv na Parys onderweg was, is gekaap en eers na Libië en daarna na Entebbe in Uganda herlei. Aan boord was 274 passasiers en 12 bemanningslede.

Die kapers was Wilfried Böse en Brigitte Kuhlmann, lede van die Duitse terreurgroep die Revolutionäre Zellen (Revolusionêre Selle of RZ), wat met die Populêre Front vir die Bevryding van Palestina saamgespan het om die vliegtuig te kaap.

Hul eis was die vrylating van 53 Palestyne wat in vyf lande in aanhouding was.

Die ontknoping van dié spannende verhaal is intussen in verskeie rolprentweergawes verwerk: Vic­tory at Entebbe (1976), Raid on Entebbe­ (1977) en Entebbe (2018), en ook geboekstaaf deur William Stevenson (90 Minutes at Entebbe, 1976) en Saul David (Operation Thunderbolt: Flight 139 and the Raid on Entebbe­ Airport, 2015).

Dié gebeure weerklink meer as 40 jaar ná die voorval, want Ne­tanyahu se broer, Yonatan (Yoni), was die enigste Israelse soldaat wat gesterf het in die operasie om die passasiers te red.

Museveni het in 2016 op ’n staatsbesoek van Netanyahu aan Uganda ’n gedenksteen onthul ter ere van Yoni en die gyselaars wat in die drama omgekom het.

Jerusalem se heuwels

Afrika gryp steeds die verbeelding van Israel aan.

Bybelse bevrydings uit Egipte, verwysings na die land van Kus (dele­ van moderne Soedan en Ethiopië) en Josef en Maria se vlug na Egipte met hul baba, Jesus, is deel daarvan. So ook die Uganda-skema van Herzl, die gebeure op Entebbe in 1976 en sedert 1984 die emigrasie na Israel van Ethiopiese Falashas, wat as Jode beskou word.

Desnieteenstaande beklemtoon sommige Afrikastate hul solidariteit met die Palestyne en ’n onafhanklike Palestynse staat. Striemende kritiek op Israel gaan dikwels daarmee gepaard. Intussen verwelkom Afrikaleiers toenemend groot en streekmoondhede, soos Rusland, China, Turkye en Indië, op die vasteland.

In Mei 2009 land ek te midde van die H1N1-viruspandemie op die lughawe­ in Entebbe. By my aankoms in Kampala, nie ver van Entebbe­ nie, merk ek die heuwels om die stad op: soos die heuwels om Jerusalem wat deur eeue die stad beskerm en sy selfvertroue bepaal het.

Israel se hernude belangstelling in Afrika gaan gepaard met ’n meer selfversekerde Israel, wat baat gevind het by die pro-Israel- Amerikaanse regering onder leiding van Trump.

Voortgesette Israelse betrokkenheid by Afrika hang af van Israel se selfvertroue, stabiliteit in die Midde-Ooste, die vriendelikheid van Afrikaregerings en volgehoue ondersteuning van Israel se vernaamste bondgenoot, die VSA, onder leiding van ’n nuwe president.

En, les bes: die wêreld en magsbalanse nadat Covid-19 uitgewoed het.

Prof. Van Wyk is ’n hoogleraar in internasionale politiek verbonde aan Unisa, Pretoria.

Meer oor:  Afrika  |  Israel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.