Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ivor Price: Die liefde hoop regtig alles en verdra alles
Dikwels rol ons ons oë wanneer hulle onbewustelik mekaar se sinne voltooi, of erger, wanneer hulle mekaar se gedagtes lees.

Voorverlede week kom vra my pa my waar bêre ek die koffie. Hy en my ma kuier by my in Jozi.

Onder in die kombuiskas, onder die mikrogolfoond, sê ek. Dankie, sê hy, want ek wil jou ma met ’n koppie koffie wakker maak uit haar middagslapie. Dit is hoe dit nog altyd was. Hulle is die versinnebeelding van ware liefde. Geduldig. Gedienstig. Gedweë.

As jy die een sien, kan jy maar weet die ander een is ook in die omtes. Hulle gaan nêrens sonder mekaar nie – al is dit ook soms onder groot protes van die ander. (Die ander, uiteraard my pa, maar hy weet goed wie slaan die sweep.)

Selfs wanneer my pa (’n predikant) huisbesoek moet doen, is daar ’n goeie kans dat my ma sal saamry sodat hy darem nie alleen op die pad hoef te wees nie.

Vier oë is mos beter as twee, jy weet, hoewel sy ook met liefde in die kar sal wag as ’n gemeentelid dalk ’n private sakie wil aanroer.

Inkopietyd is die heel ergste, want my pa hou nie van winkelsentrums nie. Maar hy weet teen dié tyd van beter, en skakel die kar aan sonder om selfs een keer daaroor te kla. Hy self sit sy voete nie in die winkels nie en wag dikwels ure lank geduldig in die kar totdat my ma weer haar opwagting met ’n trollie maak. Daarna pak hy die sakke een vir een in die kar, die bestanddele simbolies van hul liefde.

Volgende week is hulle 39 jaar getroud – ’n leeftyd, as jy my vra. Waar hulle die krag vandaan kry om amper vier dekades lank dag en nag in mekaar se gesigte vas te kyk, sal net hulle weet. Maar hulle laat die huwelik maklik lyk.

Op troues – wanneer daar gewoonlik uit 1 Korinthiërs 13 voorgelees word – dink ek dikwels aan my ouers. Hul liefde is regtig lankmoedig en vriendelik – en van jaloesie en grootpraterigheid is daar ook nie sprake nie.

Dit bedek alles. Glo alles. Hoop alles. Verdra alles.

Dikwels rol ons ons oë wanneer hulle onbewustelik mekaar se sinne voltooi, of erger, wanneer hulle mekaar se gedagtes lees. Menige gesprek is al gevoer met net één kyk, en menige argument is al verloor met net één frons. ’n Goeie begrip het immers net ’n halwe woord ­nodig.

So hier is hulle nou, 39 jaar later. Gemeet aan vandag se standaarde is dit omtrent ’n wêreldrekord, want soveel mense van my geslag bly nie meer langer as drie, vier jaar getroud nie. Baie beskou selfs die huwelik as tydelik – ’n ­lastigheid met saamwoon as ’n meer realistiese opsie.

Alles en almal is vervangbaar en as ’n huwelik vandag tien jaar hou, kan jy deesdae omtrent jou silwer herdenking vier.

Maar nie my ouers nie. Hulle sien duidelik vir nóg 39 jaar kans.

  • Ivor is ’n SABC2-nuusleser en medeaanbieder van Monitor op RSG.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.