Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Van Alle Kante
Ivor Price: ’n Mens is mos nooit te oud om te droom
Ivor Price

Daar is net ’n handvol oomblikke in die lewe wat nie met geld gekoop kan word nie. Momente so kosbaar dat jy dit herhaaldelik in jou geestesoog sien afspeel – nog lank nadat die stof gaan lê het. ’n Byna hipnotiese herinnering aan dit wat was, en seblief tog weer moet wees.

Dit is die opwellende hartstog wanneer jy ’n pasgebore baba vir die eerste keer in jou hande vashou; die reuk van jou ma se soetpampoen wat uit die kombuis aangewaai kom wanneer jy die voordeurklokkie lui.

Dit is die presiese oomblik wanneer ’n bruidegom tevergeefs na sy sakdoek soek wanneer sy bruid in die kerkgang afgestap kom. Vir ewig en altyd syne.

Verlede Vrydagaand was só ’n hoendervleis-gebeurtenis. Die een oomblik het ’n Namakwalandse vriendin, Danneline Ramsden, nog agter in die aantrekkamer van ’n Stellenbosse teater geduldig haar groot debuut staan en inwag.

Die Namakwalanders, soos Danneline-hulle, sê jy “xhoulag” wanneer jy uit die maag lag.

Die volgende oomblik was sy ’n nuwe ster op die horison aan wie se lippe bykans 300 mense gehang het; ’n storieverteller en woordkunstenaar in eie reg wat nie ’n tree vir enigiemand anders hoef terug te staan nie.

In die gehoor was haar ouers, Japie en Densie, wat ’n paar dae vroeër alliepad uit Komaggas gery het om Danneline se produksie Xhoulag mee te maak.

Van haar ander familielede het agterna vertel dat hulle 1 600 km afgelê het om ook daar te kon wees, want ’n mens maak mos net één keer jou debuut; jy skenk net één keer die lewe aan ’n spesifieke droom.

Die Namakwalanders, soos Danneline-hulle, sê jy “xhoulag” wanneer jy uit die maag lag. Getrou aan die naam van haar produksie het ons dan ook vir ’n uur lank vergeet van die smerige politiek (of eerder, die politruuks!), en sommer ook die dag se dosis skete en pyne weggebêre in ’n plek waar niemand dit ooit weer sal vind nie.

Saam met haar het ons gereis deur haar heimat en deur haar vertellings mense soos haar oorle’ Ouma Eva ontmoet wat ons andersins nie sou ken nie – al het sy ons lank reeds gegroet.

Daai vreugde se naam is Xhoulag, en ek kan nie wag om te sien watter pad sy met hom gaan stap nie. ’n Mens is immers nooit te oud om te droom nie.

Ons het saam met haar in die plaaskombuis geeltee gebrou soos in die ou dae, en gelag en gelag en gelag tot ons nie meer kon nie.

Dit was in egte Nama-tradisie ’n “Xhamkoe se brou” (lekker koppie tee), en het herinner aan die dae van wyle Jan Spies en Tolla van der Merwe.

Wat Danneline se storie so besonders maak, is nie net die feit dat sy tuis hoort in die geselskap van storievertelgrotes soos Pietman Geldenhuys en Andries Vermeulen nie. Dis dalk eerder die feit dat sy geen moeite ontsien het om haar droom te verwesenlik nie.

En daar staan sy nou – op 44 met ’n bondeltjie vreugde in haar arms.

Daai vreugde se naam is Xhoulag, en ek kan nie wag om te sien watter pad sy met hom gaan stap nie. ’n Mens is immers nooit te oud om te droom nie.

Meer oor:  Ivor Price  |  Rubriek  |  Van Alle Kante  |  Menings  |  Droom  |  Ouderdom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.