Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ja, dalk is dit te laat om ons land om te draai

Berigte van dreigemente wat staatsamptenare teen personeel van die ouditeur-generaal se kantoor gemaak het, is ontstellend, skryf Danny Titus.

Danny Titus

Die land wag in spanning vir die suksesvolle vervolgings van staatskapers en ander bedrieglike oortreders wat die staatskas willens en wetens vir eie gewin geplunder het. Intussen lyk dit of dié dinge nie einde gaan kry nie. Boonop lyk dit of die morele stryd teen apartheid lankal vergete is. Dis asof wyle oudpres. Nelson Mandela glad nie bestaan het nie.

Daar word net gulsig in die trog gevreet.

Ons het gesien hoe oud-minister Bongani Bongo van poging tot omkopery van die getuienisleier in die parlementêre ondersoek na staatskaping by Eskom aangekla word.

Nou blaf Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, op sy party se integriteitskommissie wat aanbeveel het dat Bongo uit sy ampte in die ANC en parlement verwyder moet word.

Ek het so gehoop dat ons politieke partye hulle vir reg en orde sal beywer.

Wanneer word verantwoordelikheid geneem vir die pot wandade wat nou al oorgekook het?

Ek het so gehoop dat ons politieke partye hulle vir reg en orde sal beywer; dis tog die boodskap wat van politieke verhoë verkondig moet word. Wanneer dít gebeur, sal daar weer hoop vir ons land wees.

Maar ons sien die teendeel: Munisipaliteite betaal nie hul rekeninge nie, verbruikers steur hulle glad nie aan hul rekeninge nie, motor- en veral taxi-bestuurders skep hul eie verkeersreëls met wetstoepassers wat weinige, indien enige, invloed het.

Die lys is duiselingwekkend. Om nie eens van die sinlose geweld te praat nie. Wetteloosheid het die nuwe orde geword.

Staatsamptenare wil omkoop en dreig

Nou moet ons boonop van Kimi Makwetu, die ouditeur-generaal, hoor dat sy ouditeurs links en regs geïntimideer word. Hulle word omkoopgeld aangebied en gedreig – selfs met ontvoering.

En dit deur staatsamptenare! Nie deur bendes of sindikate nie, maar deur mense wat met belastingbetalers se geld in die naam van die staat optree.

Ons lees die wetgewers se reaksies nadat Makwetu aan die parlement vertel het van die spanning waaraan sy kantoor onderwerp word: “Dit is regtig kommerwekkend. Elke dreigement moet ernstig opgeneem word.”

Sê ’n ander: “Die situasie is totaal onaanvaarbaar.”

Volgens Makwetu mag dit dalk ’n “goeie plan wees om die oortreders vir ’n verduideliking voor die komitee te daag. Dit mag dalk ’n afskrikmiddel wees.”

Willie Hofmeyr, hoof van die beslagleggingseenheid, sê in sy beëdigde verklaring aan die Zondo-kommissie dat korrupsie in die ANC endemies geword het en dat dit dalk te laat mag wees om dit om te draai.

En dan? Daar is tog seker sterker afskrikmiddels as dít?

Wat gaan in ’n staatsamptenaar se kop aan as hy mense van die ouditeur-generaal se kantoor, ’n grondwetlike instelling, dreig?

Is daar geen respek vir die gereg nie? Is daar lynbestuurders wat ingeroep kan word of het jy soveel immuniteit dat niemand dit durf waag om jou tot orde te roep nie?

’n Mens vra jouself ook af of daar net ’n paar vrot appels is en of die hele stelsel nie siek is nie.

Willie Hofmeyr, hoof van die beslagleggingseenheid, sê in sy beëdigde verklaring aan die Zondo-kommissie dat korrupsie in die ANC endemies geword het en dat dit dalk te laat mag wees om dit om te draai. Hy kom tot die gevolgtrekking dat dit nie individue is wat state kaap nie, maar politieke partye.

Om te dink dat mense soos Hofmeyr en duisende ander deur diep water is om ons land tot by sy demokrasie te bring – baie van hulle in ’n tyd toe daar geen, maar geen vooruitsigte op sukses was nie.

Toe kom die omwenteling en die groot menere en mevroue stap in. Korrupsie is endemies, ingebak in ons stelsel en ja, dit mag te laat wees om dit om te draai.

* Dr. Titus is ’n onafhanklike politieke kommentator. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Anc  |  Danny Titus  |  Bongani Bongo  |  Nelson Mandela  |  Ace Magashule  |  Willie Hofmeyr  |  Kimi Makwetu  |  Korrupsie  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.