Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ja, die virtuele lewe wérk, maar daar’s ’n angel
Martie Retief Meiring

Vir die gewone mens kan die koronapandemie dalk soos ’n slagveld voel, maar vir navorsers is dit ’n paradys. Ons, ons gewoontes, ons sondes, ons vergrype, ons aanpassings of nie-aanpassings word fyn dopgehou.

Die nuwe normaal is moontlik al gevestig. Dis die dubbele lewe – die virtuele lewe en jou “ou” lewe. Die pandemie het ons nie heeltemal gefnuik nie. Dit het darem toegang tot tegnologie gelaat. Met jou foon, tablet of rekenaar kan jy dapper die toekoms tegemoetgaan.

Jy hoef nie meer in ’n kar of op ’n bus te klim om die dag “by die werk”deur te bring nie. Jy is in jou eie huis of woonstel, en dis waar jou sitkamerbank, kombuistoonbank of selfs jou bed jou kantoor word.

Die goeie ding is jy word die verkeer gespaar; die slegte ding is gereelde gewoontes vlieg by die venster uit: jy eet, slaap, doen en dink anders.

Navorsing aan die Harvard-Universiteit toon mense is geneig tot die “dut”-sindroom, eerder as sewe tot agt uur se “goeie” slaap. Ook is bevind dat baie tuiswerkers min of glad nie slaap nie.

Dikwels word verwys na die 1964-voorbeeld toe ’n 17-jarige Amerikaanse student vir 11 en ’n half dae lank nie geslaap het nie. Sy brein het niks oorgekom nie. Maar ’n paar jaar later het hy aan erge slapeloosheid begin ly.

Kinders se slaappatroon word ook gevaarlik. In China het gevaarklokke in Julie begin lui toe ondersoeke gedui het op kinders se groter toewyding aan rekenaarspeletjies. Hulle het moeilik aan die slaap geraak en dan weer moeilik wakker geword.

Die gevare in die virtuele lewe is nie net die afhanklikheid van die skerm nie.

Die gevare in die virtuele lewe is nie net die afhanklikheid van die skerm nie. Dis ook die “pik-pik” (snacking)-sindroom en die nabyheid van die koekieblik, die broodblik en die yskasdeur wat so maklik oopgemaak kan word.

Vetsug het volgens waarneming toegeneem. Dink maar aan jou eie lewe en hoe gemaklik jy jou kitskos voor die rekenaar sit en eet.

Die virtuele lewe het ook ’n ander verskynsel gelewer. As ons op skerm moet verskyn, dan maak ons soos baie professionele TV-sprekers net ons sigbare deel mooi.

Geskeer, gekam, gegrimeer verskyn ons, terwyl ons dikwels ondertoe net in ’n oefenbroek en sloffies sit.

’n Regisseurswenk vir diegene wat gereeld Zoom of Skype is om werklik na die agtergrond te kyk: boekrakke is baie gesog (die kyker kan probeer raaksien watter titels die man of vrou op die skerm lees).

Dikwels vertel die kaggelmonstertjies of foto’s op die rak agter die kyker ook iets van die spreker. Potplante is ’n wenner.

Sprekers verskyn soms in hul slaapkamer en jy dink dis darem te erg, terwyl jy bes moontlik in jou eie slaapkamer die skerm sit en dophou!

En dis juis die gevaarlike “sit” in die virtuele lewe waarteen navorsers gedurig waarsku. Ry fiets, stap, hardloop, strek, spring tou, beperk kinders se skermtyd.

En, bowenal, hou die koekieblik toe!

Meer oor:  Martie Retief-Meiring  |  Yskas  |  Vetsug  |  Kombuis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.