Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
DEBAT: 'Ek het my kind geborsvoed tot hy kon praat'

Voordat sy ’n kind gehad het, het sy ook gedink sy sal nooit borsvoed totdat die kind self vir “melkies” kan vra nie. Sy was verkeerd, skryf Riëtte Grobler.

Riëtte Grobler en haar seuntjie, Izak.

Die reg om self te besluit, is een van die grootste voordele van vrouwees in 2017.

Kinders of nie? Keiser of natuurlike geboorte? Bottel of bors?

Die ironie is dat dié baie intieme keuses dikwels met ’n klomp samelewingsvoorwaardes gepaardgaan wat vroue laat twyfel en skuldig voel oor die besluit wat hulle geneem het.

Borsvoeding is seker een van die beste voorbeelde hiervan.

Die ma’s van bottelbabas word oor die kole gehaal omdat hulle hul kinders ontneem van ’n hele string voordele van borsmelk. Die ma’s van borsbabas, soos ek, moet op hul beurt luister na almal se menings oor hoeveel, hoe lank en wat almal as “normaal” beskou.

LEES OOK: 'Die donker kant van borsvoeding'

Die voordele van borsvoeding is legio. Dit versterk baba se immuniteit, voorkom allerlei vorms van kanker by die ma en verminder selfs die waarskynlikheid van vetsug by ma’s en babas.

Om te borsvoed was egter vir my ’n instinktiewe en hoofsaaklik emosionele besluit. In dieselfde wiegstoel waarin my eie ma my tot op sowat 18 maande geborsvoed het, kon ek in die eerste wasige, deurmekaar dae van moederskap ’n verhouding met my eie seuntjie begin bou.

Daar was mense wat gemaan het dat my seuntjie net te afhanklik van my gaan raak en dat dit ' ’n bietjie vreemd' is om hom tot op amper twee jaar te borsvoed.

Dit het die grondslag gelê vir ’n reis van 22 maande en van ’n fase in ons albei se lewe waarvan ons moeilik afskeid geneem het.

Natuurlik was dit aanvanklik ongemaklik om te voed, natuurlik het ek soms gesmag na die vryheid om iets op die ingewing van die oomblik te doen, natuurlik het ek na my borste gekyk en gewens ek het meer sexy bikini’s gedra voordat ek swanger geraak het. Maar elke opoffering en duur botteltjie lanoliensalf was die moeite werd.

Daar was mense wat gemaan het dat my seuntjie net te afhanklik van my gaan raak en dat dit “ ’n bietjie vreemd” is om hom tot op amper twee jaar te borsvoed.

Voordat ek self ’n kind gehad het, het ek ook altyd gedink ek sal nooit borsvoed totdat my kind self vir “melkies” kan vra nie.

Ek was verkeerd.

Bottelkultuur

Die Wêreldgesondheidsorganisasie raai aan dat babas tot op ses maande uitsluitlik geborsvoed word en daarna tot op twee jaar, terwyl hulle ook die nodige vaste kos kry.

Hoe lank jy borsvoed is egter ’n persoonlike besluit, sê dr. Nan Jolly, ’n dokter van Port Elizabeth wat ook ’n leierskapsrol vervul in die La Leche League (LLL), een van die wêreld se voorste organisasies ter ondersteunings van borsvoeding.

“Alle babas speen mettertyd,” sê sy.

Ons ekonomie en maatskaplike stelsels is ontwerp om ma en baba van mekaar te skei, wat dit werklik moeilik maak om maklik en suksesvol te borsvoed.

“Die keuse om te borsvoed is ’n persoonlike een. Dit gaan oor die verhouding, nie oor voedingswaarde of die voedingsmetode nie. Net soos seks oor ’n verhouding gaan en nie bloot ’n manier is om ’n baba te verwek nie.”

Sy meen die meeste ma’s wil net die beste vir hul babas hê en dat dit nie nuus is dat borsvoeding die beste is nie.

“Maar ons industriële samelewing het ’n bottelvoedingskultuur. Die nonsens wat algemeen oor borsvoeding geglo word, is verstommend en die meeste daarvan gaan gepaard met gru-stories van ma’s wat probeer borsvoed het in ’n bottelvoedingskultuur. G’n wonder sommige ma’s wil dit nie eens daar waag nie – dit is baie soos die bangmaakstories oor kindergeboorte wat ma’s laat besluit op ’n keiser.

“Gesondheidsdiensverskaffers is deel van dié kultuur en kry geen opleiding oor borsvoeding nie, met die uitsondering van dieetkundiges. Die raad wat hulle gee waarborg meestal dat borsvoeding moeilik gaan wees en babas prematuur gaan speen.

“Ons ekonomie en maatskaplike stelsels is ontwerp om ma en baba van mekaar te skei, wat dit werklik moeilik maak om maklik en suksesvol te borsvoed.”

‘ ’n Deel van my het gesterf’

Jolly het haar destyds self as nuwelingma en ervare dokter in die staatsdiens voorgeneem om te borsvoed omdat sy eerstehands ervaar het wat die impak is as ’n baba nié borsmelk kry nie.

“Ek het getrou die hospitaalroetine vir borsvoeding gevolg, maar het my kind met ’n bottel gevoer teen die tyd wat ek by die huis gekom het. Dit het vir my gevoel asof ’n deel van my gesterf het. Ek het nie geweet waarom of hoe alles so verkeerd gegaan het nie.

Later was ek en my kind so gemaklik met borsvoeding dat ek ’n spertyd agter my rekenaar kon haal met hom aan my bors.

“Met my tweede baba het ek die gids getiteld The Womanly Art of Breastfeeding by iemand geleen. ’n Lig het vir my opgegaan en ek het my dogter tot op twee en ’n half jaar gevoed.

“Ek was kwaad oor die afwesigheid van basiese akkurate inligting en ondersteuning wat my daarvan weerhou het om my eerste baba te borsvoed en het besluit om myself beskikbaar te stel vir enigiemand wat daardie ondersteuning met húl babas nodig gehad het. Daarom het ek by die LLL aangesluit.”

Dit moet die norm word

Ek was gelukkig.

Die pediater het my ná my seun se geboorte rustig gewys hoe om te borsvoed. Die verpleegpersoneel in die kraamsaal was ook sorgsaam met dié onervare ma.

As ek hulp nodig gehad het met ’n voeding, was daar vinnig iemand om raad te gee, moed in te praat en te wys hoe.

Later was ek en my kind so gemaklik met borsvoeding dat ek ’n spertyd agter my rekenaar kon haal met hom aan my bors.

Anél Olsson, ’n borsvoedingsaktivis wat die organisasie Normalise Breastfeeding SA in reaksie op mense se negatiewe persepsies oor borsvoeding in openbare plekke gestig het, meen Suid-Afrikaanse vroue word te min blootgestel aan ander vroue wat borsvoed en dat dit een van die redes is waarom so min vroue die keuse maak om dit te doen.

“Ek het ’n vriend van ’n klein, landelike dorpie in Natal wat nie kan verstaan waarom ek ’n borsvoedingsaktivis is nie. In die klein dorpie waar hy vandaan kom, is borsvoeding die norm,” sê sy.

Sy stem saam met Jolly dat daar van regeringsvlak tot op grondvlak beter gekommunikeer moet word met mediese praktisyns en vroue, sodat ’n ondersteunende, eerder as kritiserende borsvoedingskultuur die norm kan word.

Uit my eie ervaring weet ek hoe belangrik daardie ondersteuning is omdat ’n mens vinnig kan begin twyfel in jou eie oordeel as jy so baie van jou tyd alleen op ’n wiegstoel in die babakamer deurbring.

Jolly sê vroue borsvoed meestal makliker wanneer hulle familie of vriende het wat ook borsvoed of geborsvoed het.

Maar soos die skool waarheen jy jou kind gaan stuur of die taal waarin jy hom gaan grootmaak, berus die besluit by niemand anders as by jou nie.

Ek is bly ek het dié keuse vir ons gesin gemaak.

* Grobler is ’n vryskutjoernalis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.