Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ja, woorde wek, maar dade trek

Noudat Jacob Zuma se politieke loopbaan prakties op ’n einde is, is dit net asof die son ’n bietjie helderder skyn, asof die meisies op straat net ’n bietjie mooier is, asof selfs die waterprobleme in die Kaap met ’n bietjie meer moed aangepak kan word.

Die Zuma-nagmerrie se einde het aangebreek. Wat beteken dit, en wat sê dit van Suid-Afrika en van die ANC?

As iemand wat graag eerder die glas as half vol sien as half leeg, is ek geneig om te sê van nou af kan dit net beter gaan. Enigiemand, ook Cyril Ramaphosa, kan net beter as Zuma wees.

En inderdaad, dit wys dat daar selfs in die ANC ordentlike mense is vir wie Zuma se skaamtelose plundering van die land te veel was. Al was dit maar met ’n flenterdun meerderheid, Zuma ís uitgedwing. Dis positief.

Maar ’n mens sou ’n fout maak as jy reken die huidige morele Saharawoestyn gaan deur die Paradys vervang word. Daarvoor is die verrotting in die ANC te diep gewortel.

Onthou dat dié morele verrotting nie ’n gevólg van Zuma se optrede is nie. Dis eerder andersom: Die morele agteruitgang het al in die struggle-tyd, in die jare sestig, begin. En Zuma se plundery is ’n gevolg daarvan.

Die vraag is of Ramaphosa dit sal kan omkeer.

Hy maak wel die regte geluide. Op byna elke byeenkoms waar hy optree, trek hy te velde teen oneerlikheid en korrupsie en dreig dit sal met wortel en tak uitgeroei word.

Ja, ja, ja. Zuma het ook by geleentheid teen korrupsie gepraat. Woorde wek, dade trek.

Ja, ja, ja. Zuma het ook by geleentheid teen korrupsie gepraat. Woorde wek, dade trek.

Ek wil aanvaar dat Ramaphosa genoeg gesonde verstand het om te weet Suid-Afrika is op pad na ’n afgrond as die korrupsie, wat welig tier soos onkruid, nie gepak word nie. Maar daar is ’n paar vrae.

Een: Is hy van plan om sterk genoeg op te tree? Of wil hy aan die kantlyn, as mense nie kyk nie, tog maar sy pond vleis hê?

Twee: Staan hy sterk genoeg in die ANC om die pynlike stappe te doen wat nodig is? Kan hy al die oneerlike korruptes, soos dit eintlik hoort, genadeloos aanpak sonder om ’n opstand teen homself uit te lok?

Drie: Gaan hy nie verplig voel om ’n paar “geskenke” aan die ANC-ondersteunerskorps uit te deel om sy posisie te versterk nie?

Dit lyk immers of hy met sy beloftes dat grond sonder vergoeding genasionaliseer sal word, reeds met iets soos dit begin het.

Daardie beloftes het weliswaar gepaard gegaan met ’n onderneming dat dit nie die ekonomie of voedselvoorsiening in gevaar mag bring nie.

Wat natuurlik bykans onmoontlik is, want as jy grond op enige beduidende skaal sonder vergoeding gaan afvat, gaan dit die ekonomie onherroeplik benadeel en voedselvoorsiening in die gedrang bring.

Dus, watter een van die twee Rama­phosas is die egte een? Die een wat streng teen korrupsie wil optree en die ekonomie nie wil benadeel nie; of die een wat soos Julius Malema populisties wil wees en grond uitdeel?

Bowendien is daar nog die groot vraag of Ramaphosa wil voortgaan om die minderhede, veral die Afrikaanssprekendes, in die tande te skop.

Of gaan hy verstandig wees deur dié groepe juis aan die staat te bind deur die aanslag op hul taal, identiteit en kultuur te staak?

Dis dié, liewe vriende, dat ek huiwerig is om te vroeg bly te word. Laat die son maar skyn, laat die meisies glimlag en kom ons pak die droogte met geesdrif aan.

Maar kom ons kyk eers wat Rama­phosa dóén voordat ons van vreugde begin dans.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Jacob Zuma  |  Dade  |  Menings  |  Zuma-Herroeping  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.