Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jaag jou drome, moenie wag
Wilhelm Jordaan

Ek is versot op TV-talentontdekkingsprogramme waarin gewone mense se besondere talente opeens tot hul eie verbasing en dié van beoordelaars en kykers tot hoogtes kom wat die gemoed beweeg en selfs trane bring.

Ek praat van programme soos Britain’s Got Talent, sy Amerikaanse en ander eweknieë en plaaslike programme soos Idols en The Voice.

Drie oudisies steek by my vas. Dié van die onaansienlike­ Brit Paul Potts, wat by van die beoordelaars­ ’n siniese, smalende laggie ontlok het totdat hy Puccini se “Nessum Dorma” gesing en almal oorrompel het. Ook dié van die priester Ray Kelly, wat eweneens traak-my-nie-agtig behandel is. Toe sing hy R.E.M. se “Everybody Hurts”: “When your day is long / and the night, the night is yours alone / When you’re sure you had enough / Of this life, well hang on / Don’t let yourself go / ’Cause everybody cries / And everybody hurts sometimes . . .” En almal was oorstelp.

En dié van ons eie toe onbekende Elvis Blue (Jan Hoogendyk), wat kitaar in die hand Leonard Cohen se “Halleluja” gesing en opgedra het aan ’n MIV/vigslyertjie van George. Toe het die beoordelaars (Dave Thompson, Randall Williams en Gareth Cliff) gereken hy kan daardie jaar die Idols-wenner wees. En hy was.

Lei jy 'n vaal, vervelige lewe met ’n vervelige werk wat eintlik niks van jou eis nie?

In baie gevalle waar diesulkes met applous en adorasie begroet word, is dit mense wat geen werklike aansien in ’n beroep het nie, wat handearbeid verrig, los werkies doen en selfs werkloos is, of sukkelend aan hul talent uiting probeer gee. En nou opeens is daar geleenthede wat hulle met passie aangryp.

Dis dan wanneer ek dink aan duisende ander mense (familie, vriende, kennisse en baie onbekendes) wat werklik talentvol is, maar nooit die geleentheid gekry of gegun is om van hul talent bewus te raak of te beoefen nie. Hulle is dalk gelukkig en tevrede met hul lewe en bly maar net droom oor moontlikhede anderkant die horison. Of hulle lei vaal, vervelige lewens met ’n vervelige werk wat eintlik niks van hulle eis nie.

Dis húlle aan wie ’n mens die psigiater/digter Bernard Levinson se gedig “For Rachel” wil opdra: “Rachel lives in a cocoon. / She is obsessed / with the endless tangle / of silken threads. / When will / she discover / she is a butterfly?”

So is daar baie lewens wat op so baie maniere toegespin word deur uitmergelende lewenseise, beproewings, dom keuses, vals ideale, onbenullighede, buitensporige leefstyljagtery, negatiewe selfspraak, swak dissipline en vele meer. En wat verhinder dat mense kan word en wees dít wat diep in hulle verskuil is of wat vir daardie “eendag” wat nog kan kom, eenkant gebêre word.

In sulke mense leef daar dalk iets van die jong seun Oliver in Charles Dickens se roman Oliver Twist. In die Armehuis vra die honger Oliver “vir meer” en in die trant van die verhaal word dit (om vir meer te vra) ’n metafoor vir die verlange na meer menswaardigheid en die verwerkliking van bedekte potensiaal.

Daar is soveel in elkeen wat wag op ontluiking en ontvouing . . .

  • Jordaan is ’n emeritus-professor in sielkunde.
Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Drome  |  Werk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.