Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jaar lank in die voorste linie

Gesondheidswerkers word dikwels voorgehou as die helde in die stryd teen die Covid-19-virus, maar weet ons regtig wat hulle alles moet deurmaak? ’n Jong dokter en apteker het hul ervarings met Michael le Cordeur gedeel.

Van gesondheidswerkers word daar in die pandemie amper die onmenslike verwag, met pasiënte wat angstig, siek en soms selfs onbeskof is. Illustrasies: iStock

Waar dr. Nawaal Sonday en Naazneen Ahmed-Sonday oorkant my sit, lyk dit asof die twee skoolmaats sommer nog gister op die skoolbanke van Klein Nederburg Sekondêr in die Paarl gesit het.

Sonday is deesdae ’n dokter by die Khayelitsha-hospitaal op die Kaapse Vlakte en Ahmed-Sonday werk as apteker in die Paarl se besigste winkelsentrum.

Op 28 verraai hul jeugdige voorkoms kwalik die spanning, emosionele druk en gevaar wat dié skoonsusters daagliks moet deurmaak.

Sonday is nou twee jaar in haar pos en ek wonder hoekom sy ’n dokter geword het.

“Aanvanklik wou ek ’n veearts word, want ek is baie lief vir diere. Maar later het ek ’n passie ontwikkel om mense te help. Ons kom van ’n area waar daar baie geweld is, waar mense baie pyn ervaar. Ek wou met alles in my ander se pyn help verlig. Dis baie rewarding as ek ander mense kan help. Uiteindelik is ek Stellenbosch toe.”

En die Eed van Hippokrates? Hoe reageer ’n dokter daarop in die middel van ’n pandemie?

Sy dink diep na voor sy antwoord. “Wanneer jy graad vang, lê ons almal die eed af. Selfs vandag het ek nie ’n probleem om altyd die hoogste etiese norme teenoor my pasiënte na te kom soos wat ek onder eed onderneem het nie.”

Eed van Hippokrates

Sy huiwer ’n oomblik en kyk dan af na haar hande. “Maar niemand, ja, niemand, het ons voorberei op wat op ons gewag het nie. En dit is flippen taf. Die een oomblik praat jy met ’n pasiënt. Die volgende oomblik is hy weg. Soms moet jy moeilike besluite met families bespreek. Ons kon na niemand toe gaan vir advies nie. Dis iets wat elke dokter vir haarself moes uitwerk. Soms wil jy weghardloop, maar jy kan nie, want jy het ’n eed afgelê.”

Vir Ahmed-Sonday was dit anders. “Ek kon ook ’n loopbaan volg in die sakewêreld, soos my pa, want ek was ewe goed in rekeningkunde. Maar my ma het die heeltyd gesê sy sien my as ’n apteker. Uiteindelik het ek ’n staatsbeurs gekry om aptekerwese te swot aan die UWK (Universiteit van Wes-Kaapland). Die rekeningkunde kom handig te pas in die apteek, want jy moet stelsels verstaan.”

Haar puik Afrikaans prikkel my. Hoe praat sy ná vyf jaar op die UWK nog sulke goeie Afrikaans?

“Dis ons huistaal,” kom die antwoord vinnig. “En dit sal altyd so bly. Die meeste van my pasiënte is ook Afrikaans, so ek praat Afrikaans uit respek vir my pasiënte.”

Omdat Sonday ’n staatsbeurshouer was, kon sy in haar finale jaar ’n paar opsies vir plasing op haar voorkeurlys plaas. Daarna is dit net pure geluk as jy wel in die Wes-Kaap beland. “Ek kon netsowel in Mpumalanga of Limpopo geland het, so, toe ek sien ek word in Khayelitsha geplaas, was dit ’n verligting om ten minste in die Wes-Kaap naby jou ouerhuis te wees.”

Sy praat met lof van die goed toegeruste hospitaal. “Dit is ’n betreklik nuwe sekondêre hospitaal, nog nie tien jaar oud nie, met al die dissiplines, wat ideaal is vir ’n jong dokter soos ek omdat jy aan al die dissiplines blootgestel word en jou dus voorberei vir die toekoms.”

Volgens haar is die hospitaal beter ingerig as jou gewone klinieke en het dit al die nodige toerusting vir byna elke mediese geval. Slegs gevalle wat hulle nie kan hanteer nie, word verwys na die tersiêre hospitaal (in hierdie geval is dit Tygerberg).

Lewe red binne 15 minute

Hoe lyk ’n dag van ’n dokter in Khayelitsha se hospitaal?

“Ek staan soggens sesuur op en ry seweuur uit die Paarl na Khayelitsha. Veral in die winter is dit erg. Dit is 55 km van mis en donkerte langs die gevaarlike N2. Verwag ook dat ’n hond of ’n kind enige tyd oor die pad kan hardloop. Jy moet dus seker maak jou ligte en jou wipers werk.

“Amptelik strek my dag van agtuur soggens tot vyfuur saans. Ek werk egter in interne geneeskunde, so jou dag is nie klaar voor jou werk klaar is nie.

“Ná aankoms sien jy al jou pasiënte, en help waar jy kan. Tydens die piek van die eerste vlaag het elke dag-dokter 30 Covid-19­pasiënte per dag gesien, tesame met jou ander pasiënte van ongeveer 20 per dag, wat beteken elke dokter sien ongeveer 50 pasiënte per dag.

“Ná vier dae doen jy ’n bestekopname en probeer jou getalle afkry. Jy besluit wie is gesond en kan ontslaan word. Op die vyfde dag is jy op call. Dit is as ’n dokter ’n afdag het, maar enige tyd gebel kan word vir hulp of diens. Die daaropvolgende dag sien jy weer al jou pasiënte.”

Sy is slegs een naweek per maand af en kry 22 dae verlof per jaar. Dit probeer sy so reël sodat sy darem oor die groot feesdae die huis kan wees. Verder probeer sy om die verlofdae te kombineer met ’n af naweek sodat sy af en toe ’n “langnaweek” het om tyd saam met haar enkelma en suster deur te bring. Haar pa is vroeg oorlede.

Haar werk het baie uitdagings. “Soms wil jy badkamer toe gaan; soms slaan jy jou etenstyd oor, want jy dink jy kon ’n lewe in daai 15 minute gered het. Soms kom jy saans tuis, dan het jy nooit die toilet besoek of iets geëet nie.”

Mense is afgestomp

Ahmed-Sonday ondervind dieselfde uitdagings in die apteek, veral omdat dit in ’n groot winkelsentrum is.

“Ek moes die laaste tyd leer om my kos binne vyf minute af te sluk. Ons mense is baie ongeduldig (selfs onbeskof, prewel sy saggies).

“Mense wil nie wag nie. Soms staan die lyne uit by die deur tot om die hoek. En almal wil gehelp wees.”

Sy vertel wanneer iemand vermoed hy het Covid-19, is hy veronderstel om ’n telefoniese konsultasie met sy huisdokter te hê, en op die dokter se aanbeveling te gaan vir ’n toets.

“As die toets positief is, moet die dokter ’n voorskrif vir ons e-pos en ons lewer af. Maar nou kom staan die mense met hul siek liggaam daar by ons in die ry en stel ons almal bloot. Sommige mense toon alle simptome van Covid-19. Maar hulle bly in denial.”

Sonday belig ’n ander menslike aspek van Covid-19.

“Dikwels bel ek ’n familielid om die pasiënt te kom haal wat van Covid genees is. Dan is die respons: ‘Nee, sy kan nie nou huis toe kom nie. Sy gaan ons almal siek maak. Is daar nie ’n plek in die hospitaal waar julle haar kan hou nie?’ Dis die eerste teken dat mense begin om afgestomp te raak vir ander se pyn weens die virus.”

‘Ek is bang, ja’

Soms is dit tjailatyd vir Sonday, maar dan het sy nog so ses pasiënte oor. “Jy voel sleg om dit af te skuif op die dokter wat by jou oorneem, dan werk jy maar aan. As jy jou kom kry, is dit tienuur of elfuur die aand. Ek het een aand eenuur by die huis gekom. Dan moet jy weer ses­uur opstaan.

“Dit skep ander gevare. As ek so laat werk, is ek konstant met my ma op die foon. Elke vyf minute sê ek waar ek my bevind; so, as iets met my gebeur, weet hulle waar om te begin soek. Khayelitsha is ’n baie gevaarlike woonbuurt.

“Ons probeer om saans in ’n konvooi huis toe te ry. Maar dis nie altyd moontlik nie. My motor is al met klippe bestook. Maar jy durf nie stilhou nie. Een van my kollegas het een aand ’n pap wiel gekry. Hy het stilgehou . . . en ek het hom nooit weer gesien nie,” sê Sonday.

Gesondheidswerkers het die afgelope jaar na vore getree as die helde van die pandemie.

Iemand wat elke dag sy lewe waag om ander lewens te red, moes só sterf? Wie sorg vir die versorgers, wonder ek.

Is julle ooit bang, wil ek by Sonday en Ahmed-Sonday weet.

“Ek is bang, ja,” antwoord Sonday vinnig. “Maar nie bang om my werk te doen nie. Want dit was my keuse. Maar ek is bang om saans huis toe te ry. Daar is byna elke dag ’n optog in Khayelitsha. Dan moet ons ompaaie ry deur onbekende gebiede. Baie dae verdwaal ek. Dan vrees ek iemand kan my hijack. Wat Covid betref, is ek bang ek sal my ma en suster aansteek. Hulle is weerloos. My ma is nie meer jonk nie.”

Ahmed-Sonday voel dieselfde. “Ek glo dat ek al immuun is teen die siekte. Maar ek het ’n man en ’n baba. My pa is ’n diabeet. Wat as ek hulle aansteek? Daarom pleit ons dat mense by die protokol hou. Mense haal hul masker af om met jou te praat. Soms handhaaf hulle nie die afstande in die lyn nie en moet jy hulle vra om ’n tree agteruit te staan. Ons word dikwels gevloek. Kyk daar buite: Dit is minder as die helfte van die mense wat hul maskers dra. Dít maak my bang.”

Selfversorging

Ek wil by Sonday weet hoe sy na haarself kyk.

“By die hospitaal haal ek nooit my masker af nie en dra ook ’n visor oor die masker. Ek change dadelik na my scrubs toe en trek dan die spesiale beskermende klere bo-oor aan. Jy is soms twaalf uur in daardie ongemaklike klere.

“Sodra ek in die kar klim, saniteer ek my hande, my arms en die stuurwiel. By die huis meng ek nooit my wasgoed met die ander huismense se klere nie. Dit word apart gehou en apart gewas. Dan hoop jy maar vir die beste. Maar as ek eerlik moet wees, moet ek erken, ons kyk nie goed genoeg na onsself nie,” sê sy.

Ahmed-Sonday beaam dit. “Ek sê vir almal rondom my om ’n immuunbooster te neem, maar ek doen dit nie self nie. Ek werk skofte van tien uur. Wanneer ek moeg en afgemat voel, neem ek wel ’n booster. As jy uitgeput is, is jy baie vatbaar en kan die virus maklik ’n houvas op jou kry. Sommige mense koop meer as R1 000 se immuunversterkers en jy wonder waar kom daai geld vandaan. Oumense kom met hul Sassa-kaarte om immuunversterkers te koop. Die mense is almal paniekbevange.”

Glo sy as ’n apteker in boererate? “Knoffel, suurlemoene en gemmer is goed. Veral gemmer is baie goed. Ek maak ’n brousel daarvan vir my man. By die apteek is ’n bruistablet wat ’n kombinasie is van knoffel, suurlemoen en gemmer, baie gewild. Dit is aan te beveel en vlieg van ons rakke af. So nou en dan sal ek ook enetjie vat.”

’n Laaste afskeid

Ek is seker albei het in hierdie tyd dinge beleef wat hulle vir altyd sal bybly. Ek kies my woorde versigtig om dit te vra.

Ahmed-Sonday is gereed met ’n antwoord. “Die een geval wat ek nie uit my kop kan kry nie, veral omdat ek ook onlangs ’n ma geword het, is die jong vrou wat agt maande swanger was en haar pille by die apteek kom haal het. Toe ek vra of sy opgewonde is oor die komende kleinding, bars sy uit in trane. Haar man is pas oorlede aan Covid-19. Haar baba gaan oor ’n maand sonder ’n pa gebore word”.

Sonday se storie is net so aangrypend. “Ek het ’n pasiënt gehad wat ál swakker geword het. Ek het geweet wat wag. Op ’n manier het hy ook die ergste begin vrees. Toe vra hy my of ek kan reël dat sy vrou hom kom groet. Ek kon dit nie doen nie. Selfs al wou ek. Maar my hart het gebloei vir hom.

“Toe reël ek met sy vrou dat sy buite die hospitaal by die venster kom staan. Hy het tot teen die venster geloop en hulle het ’n kort gesprek gehad. ’n Afskeidsgesprek, as jy wil. Toe druk hulle hul hande teen mekaar, teen die vensterruit. Die trane het vrylik gevloei. Hy is die volgende dag dood.”

Sy onthou nog baie soortgelyke episodes, maar een ander staan uit. “Daar was ’n man, ongeveer my ma se ouderdom. Hy was baie siek. Tygerberg was vol en ons het alles vir hom gedoen wat ons kon. Soms weet jy net as iemand dit nie gaan maak nie. Toe vra hy my of ek net sy hand sal vashou. Ek het. En dit is hoe hy gesterf het. Met sy hand in myne. Ek kon die nag nie slaap nie.”

Laat die dinge hulle snags wakker lê?

“Baie. Te veel. Partykeer neem ek myself kwalik as ek iemand nie kon red nie,” sê Sonday.

Baie, baie moeg

En die entstof? Met ons gesprek was die regering se plan om gesondheidswerkers in te ent reeds op dreef.

Sal hulle die entstof neem?

“Dis waar wat hulle sê: Dokters maak die slegste pasiënte,” sê Sonday met ’n vonkel in die oog. “Om daardie rede sal ek die entstof neem, al beteken dit ook net dat my liggaam meer weerstand kan bied. Ter wille van die veiligheid van my familie.”

Ahmed-Sonday is minder opgewonde. “Ek wonder of daar genoeg navorsing gedoen is . . . Maar aan die einde van die dag sal ek dit seker neem. Soos Nawaal gesê het, al doen jy dit ook net om jou gesin te beskerm.”

Ek wil by Sonday weet of sy moeg is. “Baie, baie. Ná die eerste golf moes ons pasiënte sien wat ons tydens die pandemie nie kon sien nie. En net toe ons dink ons kan begin rus, was die tweede golf op ons. Deesdae is die getalle darem bietjie af. Ek sien nou ongeveer 15 Covid-pasiënte per dag. Ander dokters rapporteer dieselfde. Maar ons is baie moeg, fisiek en emosioneel. Party aande raak ek aan die slaap voor die TV met my bord kos op my skoot.”

Alles die moeite werd

Was die tweede vlaag erger as die eerste? Volgens Sonday was daar in Khayelitsha nie ’n groot verskil wat hulle as dokters kon agterkom nie. Maar volgens Ahmed-Sonday was hulle baie besiger in die apteek.

Michael le Cordeur

En as jy weer kon kies, sal jy weer hierdie loopbaan kies?

“Ek sou weer apteker kies, dis baie rewarding. Baie arm mense kom na ons toe want hulle kan nie ’n dokter bekostig nie, of hulle kan nie afkry by die werk nie.

“Nou kom hulle na ons toe – soms met net ’n R100 – in die hoop dat ons hulle kan gesond maak. Dan moet ek al my kennis inspan en besluit of die pasiënt dokter toe moet gaan en of ek kan help.

“Dan werk ek ’n hulpverleningsplan uit om daardie persoon te help. Soms tel jy daai R5-pynpille uit en jy rek die begroting sodat hulle alles kan kry wat hulle nodig het vir R100. Baie mense maak staat op my. As hulle ’n dag uit die werk bly, dan verloor hulle ’n hele dag se geld. Dit kan hulle nie bekostig nie.”

Ook Sonday is baie beslis oor die vraag en antwoord “Ja” sonder om twee keer te dink.

“Ek geniet dit steeds om mense te help. Ons kry baie support van ons kollegas. Soms dink jy dis nie ’n lewe om te hê nie, maar net die wete dat jy iemand ’n kans gee op die lewe, maak dit alles die moeite werd.”

  • Prof. Le Cordeur is hoof van die Universiteit Stellenbosch se departement kurrikulumstudie in die fakulteit opvoedkunde.
Meer oor:  Koronavirus  |  Pandemie  |  Gesondheidswerkers  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.