Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jaar van bikini, Cheetah, Zuma
Gert Coetzee

Die jaar 2016 was die jaar van die bikini. Dit was die tweestukkie se 70ste verjaardag. Viva!

Asook die jaar van die Cheetah, wat in die Chinese kalender so verklaar behoort te word.

En die jaar van Wayde en tannie Ans. Met ’n goue medalje en ’n wêreldrekord van 43,03 s. om dit te beaam. Asook die nie-amptelike vryheid van die stad Bloemfontein.

Al voel dit nou eers soos Junie, is dit Desember. En tyd vir nuuskeuses van die jaar. Kon ’n mens dit maar lig en sexy hou . . .

Maar orde-veranderende gravitas geld. Voorspelbaar dus was 2017 Trump se troefjaar, Brexit se wegbreekjaar en post-waarheid se liegjaar.

Ongelukkig in Suid-Afrika was dit weer die jaar van JZ. Sug. Nie omdat hy weg is nie, maar omdat hy vasklou.

Al het politieke profete telkens verklaar nóú is dit verby, was dit het einde niet. Dit is al ’n jaar ná Nenegate en die konstitusionele hof se Nkandla-uitspraak, en die OB (Thuli, nie Busisiwe nie) se verslag oor staatskaping is ou nuus, maar steeds staan Jacob regop. Ge-doom of te nie.

Hy bly “die man van die mense”. Al is hy ná 2016 se munisipale verkiesing nie meer ’n metro-man nie.

Eerder as opgewonde uitsprake oor die einde van die einde van die Zunami, is meer versigtige menings nou dat Nommer Een tot die ANC se 54 ste nasionale konferensie (by ’n sover onaangekondigde venue) in Desember 2017 (pogings van wederstrewiges om dit te vervroeg het misluk) Nommer Een, ook van Suid-Afrika en van die staatskas, sal bly. Dan kry die ANC ’n nuwe Nommer Een. Die vraag nou is of die huidige Nommer Een dan steeds as Nommer Een van die land sal aanbly, soos wat hy veronderstel is – tot met 2019 se nasionale verkiesing.

En of die nuwe Nommer Een (van die ANC) nie dan – in Desember 2019 – ook sommer as nuwe Nommer Een (van Suid-Afrika) in die Uniegebou sal ingleuf nie? Ook om ’n gedeelde magsentrum – soos ná Polokwane 2007 – te vermy.

Die klem skuif na wie die nuwe Nommer Een dan gaan wees. Veral omdat die huidige Nommer Twee – Cyril Ramaphosa – van die ANC en van die land nie oorweldigende steun in die party het nie. Lang storie.

Toenemend skuif die “versigtige” mening van politieke kenners nou na dr. Nkosazana Dlamini-Zuma as verstek-kandidaat om nuwe ANC-leier en Suid-Afrikaanse president te word.

Dlamini-Zuma (66) is nie die mees inspirerende kandidaat nie, maar die ANC loop nie juis oor van kandidate wat die verbeelding positief aangryp nie. In haar tyd as minister van gesondheid was daar wel die Sarafina-skandaal wat as die “model” vir latere ANC-korrupsie met tenders beskryf is, maar in die groot makrokosmos van latere vergrype in die party het dit ietwat in die vergetelheid verdwyn.

Tog word sy as tegnokraties en administratief vaardig beskou, met veral haar latere termyne by buitelandse en binnelandse sake ter steun hiervan. Ook vra die ANC-vroueliga al lank vir ’n vroulike leier.

Haar sterkste aanbeveling is haar posisionering – ’n tradisionalis veilig in die pro-Zuma-kamp van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) van 104 lede wat verlede week se interne aanslag teen pres. Jacob Zuma – hy van Nommer Een-faam – afgeweer het.

Die blote feit dat die NUK oorwegend Zuma-gesind is, staaf dat hul voorkeur-kandidaat as opvolger – Dlamini-Zuma – die voorloper moet wees.

G’n dramatiese veranderinge kan onder haar te wagte wees nie.

En die kans dat sy ’n Thuli op die ANC gaan trek, is minder as nul.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Brandpunt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.