Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jaco Strydom: Om jammer te voel, is net nie genoeg nie

In Centurion staan ’n maer vrou met ’n kind en bedel.

Die kind huil en lyk ondervoed. Ek voel kwaad vir die ma wat bereid is om so ver te gaan, vir die land se kindersorgstelsel wat dit toelaat en vir myself wat hierdie verskriklike ding voor my sien afspeel en niks daaraan doen nie.

Op die hoek by die winkelsentrum in Brooklyn staan ’n oom, ek skat hom iewers in die 70, netjies aangetrek, hoed op die kop, bord in die hand.

Ek wonder wat nou eintlik sy probleem is? Hoekom werk hy nie? Drink hy dalk? As daar ’n geldjie naby was sou ek dit gee, maar nou staan hy in die ander baan en die muntstukke lê onder in my rugsak. En ek is haastig. Wat het hy in elk geval gedoen dat sy eie familie hom nie wil help nie en dat hy geen vriende oor het waar hy kan eet of slaap nie?

Die kind op die straathoek naby Hatfield is vuil en duidelik onopgevoed, sy oë al weer rooi, hoog op iets.

Ek weet hy lieg, want hy is duidelik nie regtig gestremd nie. Wanneer ek laataand daar by die robot stop, maak ek dubbeld seker my kar se vensters is toe en die deure gesluit (want ek sou waaragtig misdaad oorweeg het as ek hy was). Ek voel jammer vir hom, maar ken nie eens sy naam nie. Het darem al in die verlede ’n muntstuk of twee vir hom gegee – was eintlik vies vir myself, want ek wil nie die ou se bedelgewoontes aanhelp nie. Hy sal soos die res van ons moet leer om ook te werk vir ’n lewe!

In my agterkop vang ek my dat ek hoop hy is skelmer as wat dit lyk, dat hy tóg iewers ’n warm ding wegsteek, dat hierdie vodde klere nie sy enigste is nie, want dis bewolk en die wind waai al sterker; dit lyk of dit gaan reën.

’n Mens kan nie almal help nie, troos ek myself.

Maar ek ís ’n Christen, só ek bid darem gereeld vir hierdie mense in die verbyry. Ek bid dat God hulle sal seën, dat hy hulle sal raaksien en tog genadig sal wees en ingryp.

Hoe hy dit gaan doen, is ek nie seker nie, want ek het nog nooit gehoor van iemand vir wie ’n kombers, ’n toebroodjie of ’n werk uit die hemel uit gebeam is nie.

Moeder Teresa moes dikwels aanhoor hoe mense met ingewikkelde teologiese vrae worstel. Vrae soos waarom ’n God van liefde toelaat dat die armes so swaarkry.

Haar antwoord was: As jy ’n arm kind op straat sien en jy sou dit waag om vir God te vra waarom die kind dan honger is – en jy sou stil word en mooi luister, sou jy hom kon hoor fluister: “Die kind is honger, want jy gee hom niks om te eet nie.”

As jy ’n volgeling van Jesus is en jy wonder hoe lyk God se plan vir hierdie stukkende ­wêreld, neem ’n selfie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.