Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jaco Strydom: Trump sou Jesus by stembus klop
Dat vandag se wêreld lyk, soos hy lyk, is dit omdat die Christene dit verkies.

Net ná Donald Trump sê hy gaan “die k*k uit Islam-fundamentaliste se olievelde bombardeer”, skree hy: “I love war!” Die skare juig. Hy gaan ook ’n muur bou om immigrante uit te hou – waarvoor Mexiko gaan betaal – en dit gaan ’n mooi muur wees, voeg hy by, want die kans is goed dat die muur een dag “The Trump Wall” genoem gaan word.

Vir dié wat Trump ken, is dit nie vreemd nie. Wat wel vreemd is, is die feit dat die oorgrote meerderheid van die groep mense wat hom toejuig Christene is – volgelinge van ­Jesus wat van geweld hou.

Dit herinner aan George Bush. Sy grootste ondersteuning was ook vanuit Christen-Amerika, die sogenaamde “Bible Belt” in die ­Suide. Hulle het so geglo in wat hy doen, dat hulle hom vir ’n tweede termyn verkies het, selfs nadat dit duidelik geblyk het dat hy Irak onnodig ingeval het. Hy erken vandag daar was nie wapens van massavernietiging nie.

Daar is sekerlik ruimte dat Christene vir verskillende politici in ’n verkiesing stem, maar ’n mens kry die idee dat as Trump teen Jesus sou staan, hy meer stemme by die Christene sou kry as Jesus. Wat Jesus sê, staan lynreg teenoor wat Trump sê. Gaan lees Mattheus 5-7.

Dieselfde is natuurlik ook waar vir die ondersteuners wat Jacob Zuma ook vir ’n tweede termyn verkies het (80% van Suid-Afrikaners verklaar hulle is Christene) – om nie eens te praat van die ou Suid-Afrika nie.

Die feit is, as ’n wêreld waarin daar soveel Christene is soos vandag se wêreld lyk, is dit omdat die Christene dit verkies. Dieselfde is natuurlik ook waar vir die keuses wat Moslems in die Midde Ooste maak.

Jy sou natuurlik kon argumenteer dat godsdiens die groot probleem in die wêreld is, maar die wêreld van Stalin, Mussolini, Kim Jong-oen, Mao Zedong en ’n klomp ander ­ateïste was toevallig nie beter nie.

Sou ons Christene egter doen wat Jesus voorstel, by onsself begin en eers die balk uit ons eie oog haal, sou ons die woorde van Gandhi ernstig opneem: “I love your Christ, but I despise your Christianity.” Hy sê dit in reaksie op die Britse Christene wat sy mense in hul eie land verdruk en ’n enorme klomp goed gesteel het – soos die Koh-i-Noor-diamant in die koningin van Engeland se kroon.

Die probleem met politiek en oorlog is dat diefstal nie meer diefstal is nie en moord nie moord nie. Dié dat die Engelse destyds ons Boere se plase kon stroop en 29 000 vroue en kinders kon laat sterf in konsentrasiekampe. Daai Britse soldate was almal Christene.

Die hele apartheidsregime ook.

Leiers wat Jesus volg, bestaan nie in ons wêreld nie. En as hulle bestaan het, was die kans maar klein dat die toenemend bloeddorstige en materialistiese Christene van vandag vir hulle sou stem.

Meer oor:  Jesus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.