Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Monduitspoel:
Jacob Rooi: De Lille dalk deel van ANC se Kaapse plan

Dit was nog altyd vir die ANC ’n bitter pil dat hy nooit daarin kon slaag om ’n volstrekte meerderheid in die Wes-Kaap te behaal nie.

Die naaste aan dié ideaal was in 2004 toe hy by 45,3% gaan draai het. In die laaste provinsiale verkiesing in 2014 het die party tot 32,9% teruggesak. Die kans vir 50% in 2019 lyk baie skraal.

Tog sal die ANC glo en verkondig daar is ’n moontlikheid om die DA, wat in 2014 59,4% gekry het, tot onder 50% te druk en dalk die provinsiale regering met koalisievennote oor te neem.

Hiervoor is ’n strategie waarskynlik reeds aan die werk.

Moet dus nie verbaas wees as die ANC Patricia de Lille oorreed om sy Wes-Kaapse premierskandidaat te wees nie.

En dat adv. Lennit Max, voormalige Wes-Kaapse kommissaris van polisie wat reeds aangedui het hy is nie weer vir die DA beskikbaar nie, ook deur pres. Cyril Ramaphosa opgeraap word nie.

Dit sal twee slim skuiwe wees.

Die ANC sal ook aanvoer hy ondergaan vernuwing onder Ramaphosa ná die skandalige Jacob Zuma-jare wat die party baie stemme gekos het.

De Lille, wat sê sy het nog baie om te bied, sal op die DA wraak kan neem. Slaag die koalisieplan nie, het die party ander poste om te bied. Max beskik weer oor baie plattelandse steun.

Daarby is die moreel in die DA-geledere in die provinsie laag en die ontevredenheid oor die De Lille-sage strek wyd.

As daar reeds gesprekke was tussen haar en die ANC, sou die slinkse strategie wees om die hoftwis so lank moontlik uit te rek en haar as slagoffer voor te stel. Sommige sê sy doen dit reeds.

De Lille as ANC-premierskandidaat kan die DA ook dwing om sensitief te wees oor wie die party as premierskandidaat (as opvolger vir Helen Zille) in die veld stoot. Die dilemma is dit: Jy het ’n swart leier, wit burgemeester (in De Lille se plek) en wys dan boonop ’n wit premierskandidaat aan . . . Dit kan brandstof vir die kleiner “bruin” partye bied.

Intussen melk De Lille die twis met die DA fluit-fluit. Sy voer aan sy wil haar naam skoon hê en is oral in die nuus en bou verder aan haar profiel. DA’s sê sy het die tugverhoor teen haar laat sloer, De Lille sê weer dis die party se skuld.

As daar reeds gesprekke was tussen haar en die ANC, sou die slinkse strategie wees om die hoftwis so lank moontlik uit te rek en haar as slagoffer voor te stel. Sommige sê sy doen dit reeds.

Word ’n vroeë verkiesing gehou, is die vraag of die DA genoeg kans gaan hê om van die skade te herstel. Maar die ANC gaan steeds ’n steil bult hê om te klim.

Die vraag is of die waarde van De Lille groter is as die 4,7% steun wat haar Onafhanklike Demokrate in 2009 na die DA gebring het – en of dit na die ANC sal swaai. Daarby ag kiesers gewoonlik die party groter as die individu en die DA-handelsmerk in die Wes-Kaap is sterk.

Tog het bruin kiesers al gewys hulle deel maklik slae uit.

Die vraag is of hul woede so groot is om die DA te straf en of hulle glo die ANC verdien om die provinsie te regeer.

Meer oor:  Politiek  |  Monduitspoel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.