Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jacob Rooi: Grondwet: Blameer die trae politici

Met die aanvaarding van ons Grondwet in 1996 was niemand honderd persent tevrede nie, met mense soos Mangosuthu Buthelezi, IVP-leier, wat dit as ’n verlengstuk van ANC-beleid bestempel het. Rapport het geskryf die gebreke daarin was duidelik te sien. Die Nasionale Party was ook ontevrede en wou onder meer die doodstraf daarin hê.

Louis Green van die ACDP, die enigste party wat teen die Grondwet gestem het, het gesê die ander partye sal later hul fout agterkom. “Die land gaan moreel nog verder verval. Die Grondwet lê die grondslag vir die insinking,” het hy gesê.

Deesdae hoor ’n mens toenemend mense wat wonder of ons veelgeroemde Grondwet geskik is vir ’n land met soveel ongelykhede, misdaad en korrupsie.

Ouers kla die Grondwet ontneem hulle die mag oor hul kinders en beskerm eerder die menseregte van misdadigers; nie dié van slagoffers nie. Kinders steek mekaar dood in skole en rand onderwysers aan. Die moordenaar kry dalk 25 jaar en die staat verplig die wetsgehoorsame belastingbetaler om die uitvaagsel in die tronk aan die lewe te hou, maar die naasbestaandes van slagoffers ly hul lewe lank. Soveel vir die reg op lewe...

Boonop lieg en bedrieg politici en amptenare en steel die land rot en kaal terwyl weinig in die tronk beland.

Slegte mense kan ’n goeie grondwet vernietig en goeie mense kan ’n slegte grondwet laat werk.

G’n wonder ons Grondwet is al beskryf as ’n Rolls-Royce geparkeer in ’n plakkerskamp nie.

Maar moet die Grondwet alle skuld kry vir die agteruitgang in die land?

’n Ou uitdrukking lui: Slegte mense kan ’n goeie grondwet vernietig en goeie mense kan ’n slegte grondwet laat werk.

Wyle prof. Marinus Wiechers, een van Suid-Afrika se leidende grondwetlike kenners, het altyd gesê hy het nooit op Kempton Park (waar oor die Grondwet onderhandel is) uitverkoop nie, die ANC het Kempton Park uitverkoop.

Wiechers het ’n beduidende rol gespeel in die opstel van sowel die grondwet van Namibië as Suid-Afrika s’n.

Die Grondwet stel bepaalde eise waaraan voldoen moet word. Dit sê byvoorbeeld elkeen het inherente waardigheid en die reg dat dit gerespekteer en beskerm word. Almal is gelyk voor die reg. Elkeen moet geregtig wees op ’n regverdige verhoor, ensovoorts.

Die Grondwet lei egter nie polisielede op en stel nie aanklaers en staatsamptenare aan en hou hulle verantwoordelik nie. Die probleem lê dus nie by ons gebrekkige Grondwet nie. Dit lê by die toepassers daarvan.

Die waarheid is: In ons land is dit in die politici se belang dat dit nie behoorlik werk nie. As dit werk soos dit moet, was ’n voormalige president en talle ANC-kaders en EFF-diewe reeds agter tralies.

Pleks van die Grondwet blameer, moet ons daarop aandring dat dit sonder aansiens des persoons toegepas word.

Meer oor:  Monduitspoel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.