Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jacob Zuma, die meester van chaos

Is dit werklik moontlik dat mense ná al die jare nog nie vir Jacob Zuma kon uitpluis nie? Hy weet dan alte goed as die bal verkeerd hop vir hom, skryf Tim du Plessis.

Jacob Zuma en Pravin Gordhan (regs) in die parlement. Hoe gaan dié spel eindig? Foto: liza van deventer

Daar is genoeg politieke energie binne (en buite) Suid-Afrika om Jacob Zuma vierkant in sy spore te stuit. Iets daarvan is die afgelope week by die roudiens van Ahmed Kathrada gesien toe ­Zuma die grootste openbare vernedering toegedien is wat enige staatshoof tot nog toe in Suid-Afrika se geskiedenis te beurt geval het.

Die probleem is die anti-Zuma-stroom is amorf en oral oor – en daarom nêrens. Dit word nie gekanaliseer nie en, heel belangrik, dit het geen bekende gesig waaragter die geledere kan sluit nie. Gevolglik is daar geen strategie nie. Almal val terug op wat voorheen vir hulle gewerk het.

Die DA hol parlement toe met die soveelste mosie van wantroue. Die EFF sit af konstitusionele hof toe met ’n versoek dat die land se hoogste hof doen wat die parlement nie kan regkry nie – die president in ’n staat van beskuldiging te stel.

Zwelinzima Vavi, sy nuwe vakbond pas gestig, vorder die mense op om die strate in te vaar en te betoog – al wapen en taktiek wat hy en sy vakbondmakkers ooit geken het. Die ANC-swaargewigte, tans onder die vaandel van “Save South Africa” wil ook betoog.

Hulle wag net vir die volgende begrafnis van ’n ANC-bekende waar hulle in die koelte van die markiestent teen Zuma kan lostrek.

Eintlik wag hulle maar net vir die volgende begrafnis van ’n ANC-bekende waar hulle in die koelte van die markiestent teen Zuma kan lostrek en die roubeklaers sover kry om “phanzi Jacob Zuma, phanzi!” te skree. Die strate is immers warm en die ou mense loop swaar.

Die sake- en die religieuse gemeenskappe sal noodvergaderings van hul strukture hou en agterna droë verklarings van twee A4-bladsye uitreik waarin hulle “ ’n beroep doen” op die president “om die regte ding te doen”. Asof Zuma sal verstaan waarvan hulle praat.

Intussen het nog ’n “magsbasis” so stil-stil tot stand gekom. Dis dienende ANC’s in die parlementêre koukus van die party, in sy topses, in die nasionale uitvoerende komitee (NUK), in ANC-takke oral in die land (veral in Gauteng) wat teen Zuma gedraai het. Dit is ’n kritiek belangrike ­anti-Zuma-faksie, maar dit verkeer tans in ’n toestand van verwildering en verlamming. Die ou kalant het hulle weer lekker uitoorlê en die middelvinger gewys. Sjym.

Al dié anti-Zuma-strome se leiers en segslui herhaal sedert Vrydag, tot satwordens toe, “dit is nou in die hande van Suid-Afrika se mense om die demokrasie terug te vat van Zuma en die staatskapers”.

Hóé, mense? En wat moet ons dóén? Die verkiesing is eers oor twee jaar. Intussen brand Zuma en sy vrybuiters die land af.

Jammer om te sê, maar as al die instansies en mense hier bo gaan aanhou doen wat hulle nog altyd gedoen het, gaan Zuma sy sin kry en ook hiermee wegkom.

Want op die een of ander manier moet die aanslag teen Zuma ’n strategie kry, ’n groot ratverwisseling. “Stop Jacob Zuma” is reeds ’n duidelike doelwit. Nou kort die projek leiers en ’n netwerk vir koördinasie. En natuurlik ’n snellergebeurtenis, ’n vonk wat die ding aan die gang kan kry.

Is dit ’n muitery in die ANC-koukus in die parlement met genoeg ANC-LP’s wat saam met die opposisie stem vir die mosie van wantroue in Zuma? Net 50 ANC-oor­lopers is blykbaar genoeg sodat die parlement Zuma met ’n mosie van wantroue uit sy amp kan dwing.

Ek twyfel baie sterk. Dis nie hoe politieke partye en politiek in Suid-Afrika nog ooit gewerk het nie, allermins in die ANC. Selfs al is die vereiste getal LP’s daar.

Te veel ANC-LP’s weet so iets sal die ANC, waar hul salarisse vandaan kom, noodlottig verwond. Soveel dat hulle binne maande sonder inkomste kan sit. Niks fokus die gemoed soos dié vooruitsig nie.

Om te ver te gaan en die lyn oor te steek is waarvan hy aanmekaar ­gesit is. Hy doen dit sy lewe lank nog.

En andermaal, hulle het geen leier of leiers nie. Die ANC-hoofsweep, Jackson Mthembu, saai verwoed uit op Twitter (teen Zuma). Maar hy is so gemarineer in die ANC-kultuur en denkwêreld, dis ondenkbaar dat hy 50 ANC-LP’s sal oorreed en lei om saam met hom teen hul geliefde movement te stem.

Cyril Ramaphosa sit natuurlik in die parlement, maar hy het tot dusver in gebreke gebly om op te staan vir die okkasie. Hy stem nie saam met Pravin Gor­dhan se afdanking nie, maar hy bly in die Zuma-kabinet, verklaar hy Vrydag, heel bedees.

(Op sosiale media het iemand hom “Cereal” genoem. Nogal gevat – Zuma het hom geëet vir brekfis.) Net ’n grappie!

Vrydag het ons ook ’n hele paar keer gehoor “dié keer het Zuma te ver gegaan; die lyn oorgesteek”.

Is dit werklik moontlik dat mense ná al die jare nog nie vir Jacob Zuma kon uit­figure nie? Om te ver te gaan en die lyn oor te steek is waarvan hy aanmekaar ­gesit is. Hy doen dit sy lewe lank nog.

Hy het weggekom met die korrupsie wat hy saam met Schabir Shaik gepleeg het en met die Khwezi-seksskandaal in 2006. Ook toe hy die dogter van sy eertydse vriend, die sokkerbaas Irvin Khoza, swanger gemaak het.

Die Nkandla- en Sassa-debakels het hom nie geroer nie. ’n Stappie in die tuin.

Moeletsi Mbeki herinner my Vrydag die ding wat jy van Zuma moet verstaan, is dat hy supergemotiveerd is. Hy weet baie goed dat as die bal vir hom verkeerd hop, staan hy gou in die hof as beskuldigde op 783 aanklagte van korrupsie en bedrog, met 15 jaar in die tronk sou hy skuldig bevind word.

Zuma veg letterlik vir sy lewe. Daarom gaan slaap hy laat en staan hy vroeg op. Die dag het nie genoeg ure vir hom om te konkel, te bearbei, te oorreed, om te koop, te dreig en te manipuleer nie.

Die anti-Zuma-beweging het nie so ’n dryfveer nie. Dalk kry hulle dit nou, wie weet?

Moeletsi reken ook die ANC-ligas – vroue, jeug en militêre veterane – is steeds waardevol in Zuma se magsbasis. So ook die miljoene arm swart kiesers in die platteland wat hy in die sakkie het danksy die oorbetaalde tradisionele leiers. “Niemand anders in die ANC het so ’n magsbasis waarmee Zuma aangepak kan word nie,” aldus Moeletsi.

Ek aanvaar sy punt oor die tradisionele ­leiers. Maar die ligas is, soos Cosatu en die SAKP, skaduwees van wat hulle eens was. Hulle kan geneutraliseer word.

Want die ironie is dat Zuma, volgens die meeste indekse ’n kwynende entiteit is. Tog behaal hy op kritieke tydstippe (vir hom) deurslaggewende deurbrake. Hoekom? Want Zuma is ’n meesterlike strateeg. Nes Robert Mugabe, uit wie se handboek hy duidelik afgeskryf het.

Eintlik het Zuma verskeie strategieë wat gelyktydig uitspeel. Sy meesterstrategie het hy bedink en begin implementeer kort nadat hy op die ANC se Polokwane-konferensie hoofleier van die party geword het. Sy doel was eenvoudig: Wat moet ek doen om my te verskans en onaantasbaar in die ANC te maak?

Sy eie posisie kon hy nie versterk nie, want hy was reeds nommer een. Maar hy kon die ANC verswak en dis presies wat hy gedoen het.

Dit het hy gedoen deur die ANC én die alliansie meedoënloos en sistematies van binne uit te hol, te verswak en te laai met sy lakeie – talentlose onderpresteerders wat sal doodgaan van die honger as hulle nie eet by die Zuma-krip nie. Op al die vlakke van die party, van die NUK, die kabinet, die parlementêre koukus, asook die strukture en wetgewers in die provinsies, metro’s en dorpe.

As sekretaris-generaal het Gwede Mantashe die mandaat en die gesag gehad om Zuma se geld- en omkooppolitiek in ANC-strukture te stuit. Maar dit was baie lekkerder om lord te speel in Luthulihuis in Johannesburg. En nuuskonferensies te hou waar hansie-my-kneg-joernaliste hom met neergeslane oë as “EsDjie” aanspreek.

Vandag weet ons hoekom Mantashe nie sy werk gedoen het en Zuma op haarwortelvlak teengewerk het nie. Hy kan nie. Hy is useless. Geen leier se agterent nie. Al waarin hy ooit goed was, was om ’n knorrige vakbondbaas te wees wat vir nywerheidskapteins geknor het en gedreig het met verslete Marxistiese retoriek.

Op Maandag se ANC-nuuskonferensie ná die ANC se NUK-vergadering was dit reeds duidelik: Gwede Mantashe is ’n verslane man. ’n Roemryke loopbaan in die vakbonde en ’n meestersgraad het nie verhinder dat die operator van Nkandla met st. 4 hom volledig uitoorlê nie.

Toe Mantashe Vrydag oor die radio praat oor die kabinetskuiwe het hy geklink soos ’n seuntjie wat by die Randse Paasskou verdwaal het. Hoe pateties.

Dalk is Pravin Gordhan die man om dop te hou. Nie as ’n kandidaat vir Zuma se amp nie, maar as ’n katalisator om al die anti-Zuma-energieë binne en buite die parlement te fokus en te kanaliseer.

Gordhan ry op ’n golf van ongekende simpatie. Hy kan slagoffer speel as hy wil, maar hy doen dit nie, want dis nie in sy aard nie. Hy is toegewyd, energiek, slim en – baie belangrik – geestelik taai. Hy kan roem daarop dat Zuma hom kon verwyder, maar nooit kon elimineer nie.

En Gordhan het een ding wat gans die land na smag, wat Zuma nie het nie en nooit sal hê nie: integriteit.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Tim Du Plessis  |  Anc  |  Kabinetskommeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.