Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jacob Zuma: Zondo moet nou sy staal toon

Vir iemand wat sy longe leeg skreeu dat hy sy dag in die hof wil hê, probeer oudpres. Jacob Zuma desperaat om hom uit die warm stoel te wurm.

Sy jongste vertragingstaktiek is om aan te voer dat hy en adjunkhoofregter Raymond Zondo vriende is. Zuma se verweer is dat Zondo as voorsitter van die kommissie van ondersoek na staatskaping daarom partydig sal wees en hom moet verskoon indien die kommissie getuienis van Zuma wil hoor.

Raymond Willemse

Toe die hardkoppige Zuma nie sy sin kry nie, het hy die kommissie sonder Zondo se toestemming verlaat. Ons moenie verbaas wees deur dié onvanpaste optrede nie. Zuma wil nie sy kant van die saak stel nie weens die verdoemende getuienis teen hom. Hy misbruik elke moontlike uitweg om die kommissie te ondermyn en om nié antwoorde aan Suid-Afrikaners te verskaf oor sy aandeel in staatskaping nie.

Zuma het hom nog nooit aan reëls gesteur nie en dink hy is onaantasbaar.

Alle oë is nou op Zondo, wat sê hy moet eers nadink oor hoe daar verder teen dié oudpresident opgetree gaan word wat blykbaar alles in sy vermoë doen om geregtigheid te vertraag.

Daar is niks om oor te tob oor hoe Zuma se gebrek aan eerbied teenoor die regbank hanteer moet word nie.

Ons roem ons altyd daarop dat ons Grondwet een van die beste ter wêreld is. Zuma het nie net ’n middelvinger vir Zondo gegooi nie, maar vir die hele land. Deur sy optrede het hy gewys dat ons almal nie gelyk is voor die reg nie.

Deur sy optrede het hy gewys dat ons almal nie gelyk is voor die reg nie en dat daar twee stelle reëls is.

Waag enige ander landsburger om te doen wat Zuma gedoen het, sal ons nie daardie aand lekker snoesig in ons eie bed geslaap het nie. Zuma, daarenteen, word met handskoene hanteer.

Zondo moet nou beslissend optree teenoor Zuma, soos hy beslissend sou wees teenoor enige ander mens wat minagtend teenoor die kommissie optree.

’n Lasbrief vir Zuma se inhegtenisneming moet uitgereik word omdat hy ’n dagvaarding van die kommissie minag. Ons verwag nie dat hy met boeie in ’n vangwa gegooi moet word nie, maar dat wetstoepassers hul werk sal doen sonder vrees, guns of vooroordeel.

Indien daar versuim word om teen Zuma – wat ook maar deesdae net ’n gewone burger is – op te tree, gaan die regbank belaglik lyk. Die staatskapingskommissie se integriteit gaan ook in twyfel getrek word indien Zondo nie sy staal toon nie.

Met minder as ses maande oor vir die kommissie om sy werk te voltooi, kan sloertaktiek nie toegelaat word nie.

Suid-Afrika soek antwoorde oor die nege verlore jare toe Zuma­ en sy ja-broers die land tot by die afgrond bestuur het.

En ons verwag ook optrede teen staatskapers.

  • Willemse is ’n senior redaksielid van Beeld.
Meer oor:  Raymond Willemse  |  Standpunt  |  Meningsberig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.