Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jakkalse is nie skaapwagters van aard nie
Annelie Botes

In die kop van byna alle mense broei ’n boek wat wag om geskryf te word. Niemand wil spoorloos sterf nie.

Ek het baie vingers nodig om te tel hoeveel mense al by my aangeklop het vir raad oor publikasie. Dis hartseer dat ek hulle moet wegstuur, want soos tannie Dalene Matthee gesê het: Dis jy en jy alleen. Mý enigste raad is: Skryf jou boek, al is dit onbeholpe. Lê dit voor aan ’n erkende uitgewershuis en stuur skietgebede op.

Die kans is hoog dat dit afgekeur sal word, want uitgewers is klipharde besighede wat éérstens kyk na wins. As jou storie nie verkoopbaar is nie, sal hulle nie met jou sake doen nie.

As jy wel ’n storie het wat hulle deur dekades se ervaring weet ’n goeie verkoper sal wees, al wemel dit van taal- en spelfoute, sál hulle jou onderskraag.

Dit verwoed my om te sien hoe word aspirante uitgebuit deur sampioen-uitgewers wat oornag opspring en die heelal aan onervare skrywers belowe. As jy vir soveel en susveel inkoop, sal hulle jou boek ontwikkel tot ’n topverkoper. Hulle hét glo die kundigheid. Ja, glo . . .

Die aspirant swel van trots. Hy betaal. En die nagmerrie begin.

Want dis nie uitgespel hy moet pa staan vir alle komende kostes nie. ’n Redakteur en taalversorger, gewoonlik sy stiefneef in Pofadder wat desjare ’n taalonderwyser was. Tipograwe. Proeflesers. Duiselingwekkende drukkerskoste.

Dit verwoed my om te sien hoe word aspirante uitgebuit deur sampioen-uitgewers wat oornag opspring en die heelal aan onervare skrywers belowe.

Laat ek julle nie verveel met die tegniese aspekte van ’n boek se geboorte nie. Tik op Google in: Publishing scams. Daar is talle gruverhale van geldjakkalse wat die laaste pennie uit hoopvolles gewring het. Toe die gedrukte produk oplaas die lig sien, is hulle skoonveld. Want die ooreenkoms het nie bemarking en verspreiding ingesluit nie. Die verslae skrywer sit met ’n berg boeke wat stof opgaar. Sy droom én spaarrekening is verpletter.

Die goue reël: As ’n “uitgewer” jou soveel soos 5c vra om jou boek te publiseer, bly weg. Want die oomblik dat jy jou oorspronklike teks indien, word álle koste die uitgewer s’n. Moet jou nie laat mislei deur tref-en-trap-jakkalse nie. Eendagsvlieë wat kwyl om hul nessie warm te hou uit jóú beursie en drome.

Anderdag kom hier ’n vrou met ’n dik pak papiere. Gedigte wat sy oor vier jaar geskryf het, waarvoor sy ’n aanlyn skryfskool R400 per maand betaal vir kommentaar. R400 per maand oor 48 maande is R19 200. Bloedgeld, vir belaglike regmerkies en smiley faces. Bedrogspul om van te tjank soos ’n wolf in die winter.

Prediker 12:12 sê: “Daar kom nie ’n einde aan die skryf van baie boeke nie . . .” Wat sal wees, sal wees. Moet nooit ophou probeer nie. Maar moenie dat die eendagsvlieë op jou gesig kom rondkruip nie. Tog is ek dankbaar daar is wel enkele manuskrip-ontwikkelaars met integriteit wat dromende aspirante se paaie kruis.

Hou net jou oë oop, want jakkalse is nie skaapwagters van aard nie.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Skrywers  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.