Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jaloersbuie tot komloertjie en dambrekerbuie

In die Noordelike Halfrond, word daar dikwels gespog, het bewoners van die ysgebiede meer as 200 verskillende woorde vir sneeu: dik sneeu, dun sneeu, ligte sneeu, swaar sneeu; sneeu in die winter, in die lente; soggens, saans . . . Om die dans te vier van die een wat daar buite haar wit karos oor die Moederstad uitsprei, speel ek vandag in die reën. Nou ja, nie letterlik nie, maar knus op my balkon, met die WAT oop op my skoot. En ek tel.

As dit bakstene reën, reën dit geweldig hard. Bokhaelreën se druppeltjies verys met die val. Vandag se reën is ’n bolandsreën, ’n aanhou- dende, sagte reën; nie ’n spoelreën nie, maar ’n intrekreën wat die grond deurdrenk. Donderreën, soos in die Karoo, gaan met blitse en don-der, met gromwolke gepaard. ’n Doutjie, ook Skotse doutjie genoem, ’n kibbie of ghibbie, uit Khoi, is ’n sagte, ligte reëntjie; ’n fyn motreën, maar nie heeltemal so fyn soos misreën nie: As dit ghibbie reën dit saggies; ’n misreën klam net so effens.

’n Enkele los bui, by Vanwyksvlei, is ’n komloertjie; elders ’n natmakertjie. As sonskyn, reën of koue mekaar afwissel, speel die weer konsertina. Konsertinareën val in kort buie terwyl die lug tussendeur oop- en toetrek.

As die reën só vroeg val dat die oes misluk, is dit ’n hongerreën. Plasreën plons. ’n Baie swaar bui is ’n kieriebui; nog swaarder buie, dambrekerbuie.

In die Kaap, in die ou dae, is reën omstreeks 1 Desember apprentjiesreën genoem. Volgens die WAT omdat dit op 1 Desember 1838, die dag toe die slawe vry geword het, buite die gewone reënseisoen swaar gereën het. Van 1834 tot 1838 was die slawe nog nie werklik vry nie, maar nog ingeboek as “apprentices”.

Soms reën dit nie juis nie; dit sabbie of sibbie net.

Soms reën dit nie juis nie; dit sabbie of sibbie net. Sifreën aan die ander kant, val aanhoudend. Soms kiesa, of kwietsja, dit dae aaneen. In die oostelike dele van die land staan dié sagte somerreën tussen November en Maart, wat soms tot drie weke (drie maal agt dae) neersypel, ook as ’n drie-agtdaereën bekend.

Die deurdringende landsreën wat wanneer die geelperskes ryp word tot “14 dae in die boorde val”, soos Anton Goosen sing, is ’n geelperske­reën. ’n Droëperskereën, daarenteen, wanneer die perskes gedroog word, rig skade aan.

Jaloersbuie val nie eweredig nie, maar sak in strepe uit, sodat boere wat niks kry nie, jaloers is op hul bure wat wel natweer kry.

In reën en sonskyn tegelyk trou die jakkalse; trou jakkals met wolf, met bobbejaan se vrou, met boer se dogter. ’n Ligte buitjie terwyl die son skyn, is ’n jakkalstroureëntjie; ’n jakkalstroutjie, jakkalsdoutjie of jakkalsbruilof. Gure weer is katte-en-hondeweer. Hondeweer is onplesierig, koud, winderig, onstuimig. Nat weer, eendeweer.

Was hier genoeg plek, sou ek dalk tot 200 kon tel. By viva-afrikaans.org tel ek verder.

Jana Luther werk vir die Virtuele Instituut vir Afrikaans.

Meer oor:  Jana Luther  |  Woorde  |  Taal  |  Weer  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.