Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jammer oor die verlede, maar...

In die geskiedenis van die wêreld is veel onreg gepleeg. ’n Mens dink aan volksmoord, slawerny, marteling, verowering, verdrukking, diskriminasie – noem maar op.

’n Man in tradisionele drag by ’n monument vir slawe in Amsterdam, Nederland. Die burgemeester het amptelik verskoning gevra vir die land se aandeel aan slawerny. Foto’s: AP

Die vraag is nou of die “plegers” van die onreg die slagoffers formeel om verskoning moet vra. En, indien wel, of dit met materiële vergoeding van allerlei aard moet gepaardgaan.

Dit is vanjaar 149 jaar gelede dat Nederland as een van die laaste lande in Europa slawerny formeel afgeskaf het. Die meeste slawe het tot 1863 in Suriname, ’n Nederlandse kolonie aan die noordooskus van Suid-Amerika, geleef.

Sedert 1975, toe Suriname onafhanklik geword het, vier die swart afstammelinge van dié slawe die fees “Keti Koti”, wat dui op die kettings van slawerny wat in 1863 gebreek is.

In die laaste weke woed ’n debat in Nederland oor die vraag of die Nederlandse staat vir sy aandeel aan die slawernyverlede formeel om verskoning moet vra. Dit sou dalk implikasies vir ons eie apartheidsverlede kon hê – maar meer dáároor later.

’n Advieskommissie wat die regering verlede jaar oor die saak aangestel het, het aanbeveel dat die regering wel verskoning vra. Daar moet erken word dat slawerny en slawehandel ’n misdaad teen die mensdom was, aldus die kommissie.

Die aanbeveling lui dat die verskoning in ’n wetsontwerp vervat word. Daar moet finansiële ondersteuning gegee word aan ’n slawernymuseum, ’n kennissentrum oor die slawernyverlede en monumente oor die saak.

Tot dusver was Mark Rutte, die gematig-konserwatiewe Nederlandse premier, langtand om formeel om verskoning te vra. Nog in Februarie het Rutte, wat ’n graad in geskiedenis het, gesê die kabinet meen dit gaan die polarisering tussen wit en swart net verder vergroot as daar om verskoning gevra moet word.

As historikus het hy moeite met dié aandrang, het hy gesê. Wie is hy om ’n morele vinger te wys na sy voorgangers uit dié tyd? Nederland was toe ook geen demokrasie nie, maar ’n outokrasie. Verreweg die meeste Nederlanders het destyds geen seggenskap gehad nie.

‘Tot slaaf gemaaktes’

Die gevolg was dat die linkse burgemeester van Amsterdam, Femke Halsema, toe die voortou geneem het. Aangesien Amsterdam, wat destyds (net soos vandag) die ekonomiese hartklop van Nederland was, ’n prominente rol in die verslawing van honderdduisende mense gespeel het, het sy op ’n spesiale plegtigheid op 1 Julie formeel namens die stad verskoning gevra.

Sy het wel ’n belangrike nuansering gestel: “Geen enkele Amsterdammer wat nou leef, het skuld aan die verlede nie. Maar as bestuur aanvaar ons ons verantwoordelikheid.”

Femke Halsema, burgemeester van Amsterdam, verlede week by die geleentheid waar sy erken het Nederland het ’n aandeel aan slawerny gehad.

In ander groot stede, veral in Den Haag, Rotterdam en Utrecht, word nou ook oor die saak gedebatteer.

’n Ander geluid was afkomstig van die Leidse historikus prof. Piet Emmer, wat in ’n artikel in De Volkskrant geskryf het dat slawerny nie slegs ’n Europese “erfsonde” was nie: In Afrika het swart leiers strooptogte op ander stamme en gemeenskappe uitgevoer en die gevangenes as slawe aan Europese slawehandelaars verkoop.

Bowendien was die situasie van die slawe in Suriname, vergeleke met dié van wit werkers op die Nederlandse platteland, nie só erbarmlik nie.

Dis duidelik dat die debat minstens gedeeltelik deur politieke korrektheid gevoed word. So meen talle linksgesindes dat jy nie meer van “slawe” mag praat nie, maar van “tot slaaf gemaaktes” om die gedwonge aard van slawerny te beklemtoon. So asof slawe hulle ooit vrywillig in slawerny begeef het.

Ook Halsema het in haar toespraak slegs na “tot slaaf gemaaktes” verwys.

Historiese konteks

Die debat is ’n goeie voorbeeld van hoe ideologie ’n nugter blik op die geskiedenis kan skeeftrek.

Dat verskeie Duitse staats- en regeringshoofde sedert 1945 herhaaldelik verskoning vir die massamoord op ses miljoen Jode en die gewelddadige besetting van die grootste deel van Europa gevra het, is begryplik.

Dat Britse en Amerikaanse leiers nie terselfdertyd verskoning gevra het vir hul eie oorlogsmisdade in die vorm van massale lugbombardemente op Duitse stede (gevolg: ’n halfmiljoen burgerlike sterftes) nie, is dalk minder begryplik.

Op sigself is daar nie soseer iets verkeerd met die aanteken van ’n apologie vir onreg van die verlede nie, maar dit moet ’n aantal nuanses in ag neem.

Byvoorbeeld: Daar kan nie van mý as individu verwag word om skuldig te voel of ek­skuus te vra dat slawerny tot 1834 in die Kaapkolonie wettig was nie. Ek is pas in 1948 gebore en selfs my ouers, grootouers en oorgrootouers het geen aandeel aan dié onreg gehad nie.

Tweedens moet die onreg van die verlede in ’n behoorlike historiese konteks beskou word. Sonder om slawerny, uitbuiting of diskriminasie te verdedig – dit was destyds wel algemeen aanvaarde verskynsels wat nie breedweg as immoreel gesien is nie; ook nie onder talle swart mense nie (soos Emmer aandui, het hulle dikwels graag tot die slawehandel bygedra).

Daardie morele kompas het eers in die loop van die 17de en 18de eeu langsamerhand gegroei totdat dit in die 19de eeu deurgebreek en tot die afskaffing van slawerny gelei het. Moenie die morele besef van jou eie tyd verabsoluteer nie.

In die derde plek is dit waar dat die gevolge van historiese onreg dikwels nog dekades lank voortwoeker. Dit sien jy waar daar steeds teen die afstammelinge van slawe, oorwegend mense met donker velle, gediskrimineer word.

Maar dit onthef die betrokkenes nie van die plig om self ook aan hul eie opheffing te werk nie. John Kane-Berman wys vandeesweek in ’n artikel daarop dat iemand in The Wall Street Journal geskryf het dat linksgesindes meer geïnteresseerd is in swart lyding as in swart prestasies en dat dit die wyse waarop swart mense viktimisasie deur wittes oorkom het, insluit.

Die een of ander tyd breek die dag immers aan dat jy jou eie gemeenskap se agtergesteldheid nie meer slegs aan ’n wit rassistiese kultuur kan toeskryf nie; dat jy self skouer aan die wiel moet sit om jou gemeenskap op te hef.

Apartheid wás verkeerd

Leopold Scholtz

Dit bring my by ’n verdere nuanse uit. Sonder om die morele en praktiese skuld van sake soos slawerny en rassediskriminasie te ontken, kan dit geen ekskuus wees om nou teen die gewese diskrimineerders te diskrimineer nie.

Ek het geen moeite om te sê dat apartheid moreel verkeerd was nie. As historikus sou ek egter my taak versaak as ek daarby vassteek sonder om rasioneel te probeer verklaar waarom die beleid in die eerste plek toegepas is. En dan kom jy uit by die Britse verdrukking en diskriminasie teen die Afrikaners, wat by laasgenoemdes aanleiding gegee het tot ’n eksistensiële angs, die vrees om as volkte verdwyn.

Of apartheid die korrekte antwoord was, is nie nou ter sake nie; wel dat apartheid ’n rasionele ontleding verg wat nie by morele veroordeling stilstaan nie.

Wat ’n mens egter vandag in Suid-Afrika sien, is ’n ANC-regering wat klaarblyklik wraak op die wit mense in die algemeen en die Afrikaners in die besonder probeer neem deur teen Afrikaans te diskrimineer en ’n beleid te voer wat dit vir die Afrikaners moeilik maak om as volk te oorleef.

Ja, veroordeel morele onreg uit die verlede. Maar neem die historiese konteks in ag, en moenie die morele onreg uit vergange se dae beantwoord met huidige morele onreg nie.

Dan vernietig jy die morele gesagsposisie wat jy andersins kon gehad het.

  • Dr. Scholtz is ’n skrywer en onafhanklike kommentator wat in Nederland bly.
Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.