Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jan de Lange: Cyril is suinig om sy mag te gebruik

Drie tot vier weke gelede nog het groot politieke ghoeroes op meningsblaaie vertel dat Cyril Ramaphosa besig is om sy “greep” op mag te verloor. En selfs dat sekretaris-generaal Ace Magashule ’n baie goeie kans het om die land se volgende president te word wanneer hy vrygespreek word van die korrupsieaanklagte teen hom.

Net soos Jacob Zuma vir oudpres. Thabo Mbeki in 2007 verslaan het ná sy avonture in die howe en sy verskille met vervolgingsowerhede.

Dit was nadat oudpres. Zuma sy middelvinger vir die Zondo-kommissie gewys het en Carl Niehaus die magtige Umkhonto we Sizwe-militêre-veterane-vereniging by Fort Nkandla ontplooi het ingeval ’n valk dalk daar opdaag met ’n lasbrief van ’n voorbarige regter of twee.

Maar op die laaste NUK-vergadering voor Paasnaweek het Ramaphosa vir die tweede keer gewys dat hy sy party behoorlik onder beheer het. En dat daar vir Magashule en Zuma geen plek in ’n ANC is waarvan Ramaphosa die president is nie.

Dis nou duidelik dat Magashule teen die einde van die maand nie langer die ANC se sekretaris-generaal gaan wees nie. En dat Zuma se probleme met die Zondo-kommissie en die konstitusionele hof ’n saak tussen daardie drie partye is. Die ANC het daar niks mee te doen nie en wil niks daarmee te doen hê nie.

Ja, Magashule gaan tot op die laaste baklei. Hy gaan nie opsy staan nie en gaan Ramaphosa dwing om hom as sekretaris-generaal te skors. Daarna gaan ’n tugverhoor volg waarna hy waarskynlik uit die ANC geskop gaan word.

Daar is geen waarborge nie, maar ’n tweede presidentstermyn vir Ramaphosa lyk taamlik seker.

Hy probeer dieselfde martelaarskap-strategie volg wat Zuma president gemaak het. Hy wil tyd wen en ’n rebellie teen Ramaphosa stook wat hom op die komende hoofraadsvergadering in Mei in sy amp herstel en Ramaphosa uit die presidentstoel lig op die ANC se volgende leierskonferensie einde 2022.

Maar die politieke landskap lyk heeltemal anders as destyds. Minstens drie van die grootste provinsies in terme van ANC-getalle – Gauteng, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal – staan vierkant agter Ramaphosa. In Mpumalanga sal Ramaphosa ook groot steun kry, hoewel dit nie so eenparig sal wees soos in die ander drie provinsies nie.

In die Vrystaat, Magashule se tuisprovinsie, is daar ’n goeie kans dat Magashule ook die onderspit kan delf. Noordwes, vroeër Supra Mahumapelo se lêplek, is ook in die weegskaal vir die radikale ekonomiese transformasie (RET)-faksie.

Cosatu, wat in 2007 ’n sleutelrol gespeel het in Zuma se oorwinning op die Polokwane-konferensie, is baie verswak as rolspeler in die ANC, maar staan ook agter Ramaphosa.

Daar is geen waarborge nie, maar ’n tweede presidentstermyn vir Ramaphosa lyk taamlik seker.

Sy politieke styl word hopeloos verkeerd verstaan. Hy het reeds ’n ystergreep op die ANC sedert die verkiesing in Mei 2019, maar hy gebruik daardie mag net wanneer dit regtig nie anders kan nie.

Hy is soos ’n ouer wat sy kind toelaat om foute te maak, wat die kind net reghelp wanneer dinge regtig verkeerd loop.

Hy het Zuma en Magashule se sterte lankal geknoop. Hulle kan maar tekere gaan oor die diktatorskap van regters – dit is presies wat die oppergesag van die reg beteken.

Om die ANC te laat oorleef, sal hy die ekonomie werklik radikaal moet transformeer. Hy sal ook die kultuur van korrupsie in die ANC moet hokslaan. Hy sal die beloftes van ’n beter lewe vir almal moet waar maak.

Dis wat hom snags laat wakker lê. En dis waaroor ons snags moet wakker lê.

Meer oor:  Jan De Lange  |  Ace Magashule  |  Cyril Ramaphosa  |  Anc  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.