Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jan de Lange: Cyril wys dr. Pieter hoe word mens kwaad

Pres. Cyril Ramaphosa het al twee keer in die openbaar – elke keer in die parlement – sy selfbeheersing verloor.

Die eerste was toe hy John Steenhuisen, destyds hoofsweep van die DA, in Mei 2018 toegesnou het om te “shut up” toe Steenhuisen en sy bankmaat, Mike Waters, Ramaphosa getreiter het toe hy vrae oor die minimum loon beantwoord. Hy het dit later teruggetrek.

Die tweede keer was tydens sy antwoord op ’n voorstel van dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, dat die ekonomiese heropbou ná Covid-19 die ideale geleentheid is om ’n einde te maak aan swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie.

Ramaphosa se woede was dié keer berekend en rasioneel. Dit was nie woede wat probeer kwets nie, maar wat wil toesien dat die “oorsaak” van daardie woede dit nooit weer doen nie.

Dit was tydens ’n aanlyn parlementsitting en Ramaphosa het die vraag van sy kantoor in die Uniegebou beantwoord. Dit het enkele sekondes minder as tien minute geduur met ’n kil inleiding: “As daar enige verandering aan swart ekonomiese bemagtiging is, sal dit ’n verskerping wees.”

Ons is soos ’n kar met ’n 12-silinderenjin, maar die kar loop op net vier silinders.

Daarvandaan het dit opgebou na ’n klimaks: “Ek het al baie gesê ons ekonomie is geskaad, omdat ons nie al ons mens- en geldbronne en die natuurlike hulpbronne van die land benut nie.

“Ons is soos ’n kar met ’n 12-silinderenjin, maar die kar loop op net vier silinders. En die enigste manier om dit reg te maak, is om swart mense in die hoofstroom van die ekonomie in te bring. Swart mense wat doelbewus uitgesluit is deur wette, beleid, konvensies en gebruike.”

En toe die klimaks: “Dis ’n skande – ’n skande vir hulle wat steeds mag en eienaarskap het – dat ons steeds in hierdie situasie sit . . . regstellende aksie is regeringsbeleid en sal voortgaan . . . ons as Suid-Afrikaners sal saam moet aanvaar dat dinge eenvoudig moet verander. Anders gaan diegene wat uitgesluit is, daarop reageer. En dan kan ons alles verloor . . .”

Dit het ’n pleidooi ingesluit wat meer soos ’n bevel geklink het: Dat “agbare Groenewald en sy soort” liewer met oplossings moet kom wat ’n uitwerking op mense se lewe gaan hê pleks van voortdurende klagtes, probleme en vasklouery aan die voorregte wat wit mense geniet. “Diegene vir wie dit normaal is, leef in ’n wêreld wat vir ons vreemd is.”

Helen Zille, die DA-voorsitter, het pas vir die eerste keer van haar laat hoor sedert haar twiet dat Suid-Afrika tans meer raswette het as onder apartheid.

Soos almal van ons, ook Ramaphosa, is Zille kwaad omdat Ace Magashule se seun vir hom ’n BMW van R2 miljoen gekoop het ná sy suksesvolle Covid-19-staatstender om seep en gesigmaskers aan die Vrystaatse regering te verskaf.

Dit het vir haar en ander soos sy weer laat moed skep vir komende verkiesings. Zille meen ons leef in ’n misdaadstaat weens swart ekonomiese bemagtiging (SEB), want die ANC het korrupsie met SEB wettig gemaak. SEB “soos gekonseptualiseer en toegepas deur die ANC”, het korrupsie gewettig en dit moreel aanvaarbaar gemaak, sê sy in ’n meningstuk wat Donderdag gepubliseer is.

Ja, SEB en korrupsie hou hande vas. Gaan jy dus korrupsie tot niet maak deur SEB te beëindig?

Vraag is, me. Zille, hoe konseptualiseer die DA SEB of ander wette wat gelykheid bevorder?

Die Grondwet vereis sulke wette. As die DA die amptelike opposisie wil bly, sal hy vir swart kiesers iets op die tafel moet sit wat meer geloofwaardigheid het as “die vrye mark”. Want die EFF bied heelwat alternatiewe.

Dit gaan die kruks van ons volgende verkiesing wees.

Meer oor:  Jan De Lange  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.