Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die ander kant
Jan de Lange: DA kyk die bos mis

Is die DA besig om selfmoord te pleeg?

Die laaste DA-kongres in April 2018 was indrukwekkend, maar dis waar die verdeeldheid begin het wat op verlede week se beleidsbeginsels uitgeloop het.

Daar was ’n sjampanje-atmosfeer danksy die merkwaardige vordering wat die DA in die munisipale verkiesings in 2016 behaal het toe die party saam met sy koalisievennote beheer van die land se twee grootste metro’s, Johannesburg en Tshwane, oorgeneem het. En boonop Nelson Mandelabaai verower het.

Dit was inderdaad die mees diverse partypolitieke nasionale kongres wat nog in die land gehou is. Natuurlik is die meer as 2 000 afgevaardigdes nie op ’n rassegrondslag getel nie, maar dit was duidelik dat swart afgevaardigdes in die meerderheid was. Dit het gelyk asof die DA onstuitbaar is in ’n opmars om die ANC in 2019 te ontsetel.

Daar was net een probleem: diversiteit. Soos dit met politieke kongresse gaan, is daar min reguit gepraat. Maar in die gange en rondom die koffietafeltjies in die konferensiesentrum van die Pretoriase Skouterrein was daar geen twyfel wat dit beteken nie. Op die DA se kandidatelyste vir die verkiesing in 2019 gaan daar minder wit, middeljarige mans wees. Die mees omstrede voorstel was die sogenaamde diversiteitsklousule. Mmusi Maimane het dit voorgestel.

Daarin het die party onderneem om so goed as wat hy kan die diversiteit van die land in al sy strukture te “repliseer”.

’n Ander weergawe van die onderneming is uiteindelik aanvaar wat deur die parlementslede Michael Cardo en Gavin Davis voorgestel is: dat die party aktief stappe sal doen en aanmoedig om diversiteit in eie geledere te bevorder.

En dis waar Maimane se ondergang in die party werklik begin het.

Vanweë verlede naweek se beleidsdokumente is dit duideliker wat die DA oor regstellende aksie (diversiteit) glo.

Daarin sê die nuwe DA hy ondersteun die Wet op Billike Indiensneming, maar nie die doelwit in die wet om numeriese doelwitte op grond van die demografie van die land af te dwing nie.

Daarmee is die DA op dieselfde bladsy as Solidariteit en AfriForum. En dit sê alles waaroor die getwis die afgelope twee jaar gaan. Die DA wil ten alle koste die 250 000 stemme terugkry wat die VF Plus in verlede jaar se verkiesing van hom afgevat het.

En hy gaan dit doen deur regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging aan te val. En in die proses die totale opposisie teen die ANC verswak.

Ons Grondwet vereis van regstellende aksie om die ongeregtighede van die verlede reg te stel. Daardie ongeregtighede was apartheid. Wetgewing wat dit regstel, sal noodwendig ’n rasse-element moet hê.

Wit kiesers hou nie daarvan nie en sal nooit daarvan hou nie, maar ekonomiese data, soos werkloosheidstatistieke, wys dat hulle nie wesenlik daaronder ly nie.

Dis ’n werkplek-vraagstuk wat aan vakbonde oorgelaat moet word. Hulle is baie beter toegerus daarvoor as die DA of enige ander politieke party.

Dis nie die ANC wat regstellende aksie in Suid-Afrika begin het nie. Dit het in 1972 begin met die Sullivan-beginsels wat Amerika aan maatskappye voorgeskryf het. Vandag reguleer die Wet op Gelyke Indiensneming regstellende aksie.

Maar dié kwessie is die kern van binnegevegte wat die DA nou reeds meer as twee jaar lank besig hou. En wie die gevegte gewen of verloor het, maak aan geen Suid-Afrikaner ’n duit verskil nie.

En dis waarom die DA nooit ’n alternatiewe regering vir die ANC sal wees nie. Hy is besig om irrelevant te raak. Hy sien die bome raak, maar kyk die bos heeltemal mis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.