Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jan de Lange: IMF se Zim-lessie

Ons is op die hoogtepunt van die Covid-19-pandemie. Dit gaan so sleg dat ons waarskynlik nie eers sal agterkom as dit dalk begin beter gaan nie.

Maar moenie die moontlike uitwerking onderskat van die ooreenkoms wat krokodil-president Emmerson Mnangagwa se bankrot regering in Harare die afgelope week met die land se Commercial Farmers Union (CFU) onderteken het nie.

20 jaar nadat Robert Mugabe se bendes sowat 5 000 wit boere met genadelose geweld van hul plase af verwilder het, het Mnangagwa se regering omtrent ’n jaar gelede moeilike gesprekke met die einste boere begin voer om hulle te vergoed. Baie van hulle is vandag verarmde bejaardes wat alles verloor het.

Nee, Mnangagwa het nie skielik ’n gewete ontwikkel nie. Met omtrent ’n derde van Zimbabwe se inwoners wat as ekonomiese vlugtelinge in ander buurstate ’n lewe probeer maak, verset wat in die binneland teen hom oplaai oor hongersnood en nog meer buitelandse sanksies wat dreig oor die Zim-regering se minagting vir die opposisie, het hy uiteindelik besef hy sal sy land se ekonomie moet probeer herbou.

Daarvoor het hy geld nodig. Vir bykans drie jaar al steek hy voelers uit na die Wêreldbank en Internasionale Monetêre Fonds vir ’n ekonomiese hulppakket.

Elke keer was die antwoord: Voordat enige lenings oorweeg kan word, sal die boere vergoed moet word wie se eiendom sonder vergoeding onteien is.

As ons parlement ons Grondwet so sou wysig, sal dit ’n skending van internasionale regsbeginsels wees.

China, wat Zimbabwe al dikwels uit die knyp gehelp het omdat hy enorme platinumreserwes in Zimbabwe in die oog het, het voorverlede jaar lid van die IMF geword en kan dus nie dié keer help nie.

In Suid-Afrika bevestig dit die standpunt wat prof. Elmien du Plessis van die Noordwes-Universiteit probeer tuisbring het by die ad hoc-komitee wat ’n wysiging moet opstel vir ons Grondwet sodat dit voorsiening maak vir onteiening sonder vergoeding: Daar bestaan nie so iets soos onteiening sonder vergoeding nie. As ons parlement ons Grondwet so sou wysig, sal dit ’n skending van internasionale regsbeginsels wees.

Dít leer Mnangagwa nou op die duur manier.

Die enigste manier waarop dit gedoen kan word, is as die grond geen waarde het nie. Maar dan sal hy steeds die verbeterings op die grond moet vergoed.

Dis presies wat nou in Zimbabwe gebeur. Daardie boere word vergoed vir die verbetering op die grond wat hulle 20 jaar gelede verloor het. Die waardasies van die verbeterings op grond ter waarde van sowat $3,5 miljard is deur verteenwoordigers van die Wêreldbank gedoen.

Is dit nie die bitterste ironie dat dit gebeur in dieselfde tyd waarin die IMF Suid-Afrika se hulppakket van R71 miljard goedkeur nie?

Die ad hoc-komitee in ons parlement het einde Mei tegnies ophou bestaan, maar die parlement het drie weke later besluit dat dieselfde komitee herskep moet word en sy werk moet hervat. Die komitee sal eers kan voortgaan wanneer behoorlike openbare sittings gehou kan word ná die Covid-19-pandemie. Die huidige regulasies verbied dit. En tog: In die vorige ronde openbare sittings oor die vraag of die Grondwet gewysig moet word, is Zimbabwe telkens voorgehou as ’n model. Mugabe is ook die EFF-leier Julius Malema se held danksy sy grondhervormingsmodel. Daardie dae is verby, Malema.

Om die vergoedingskwessie te omseil, is voorgestel dat ’n proses geskep word om grond teen ’n nulwaarde te waardeer en dan sonder vergoeding te onteien.

Die gesprekke in die komitee het geëindig met ’n geskil oor die omstandighede waaronder die grond teen ’n nulwaarde onteien kan word. Die ANC wou hê dit moet in aanvullende wetgewing uitgestippel word, maar die DA en die VF Plus wil dit in die Grondwet hê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.