Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jan de Lange: ’n Man wat weet hoe Magashule nou voel

’n Vriend vertel my hoe hy in die 1980’s as tiener­aktivis in hegtenis geneem is op die klein Vrystaatse dorpie waar hy grootgeword het.

“Die veiligheidspolisie wou my aanhou, maar dit was in die aand en hulle kon nie die landdros opspoor om die aanhoudingslasbrief te onderteken nie. Hy was bietjie van ’n rondloper,” vertel hy.

“Jy, kleintjie, jy moet f***f, maar ons weet waar jy bly. Ons kom haal jou oor ’n week of twee,” het die bevelvoerder uiteindelik gesê. “Kleintjie” is ná ’n paar klappe en ’n vuishou in die maag daar weg na die oorvol township-huisie waar sy ma en sy vier sibbes bekommerd vir hom gewag het.

“Die volgende paar weke was onhoudbaar. Ek het my verbeel dat elke kar wat verbykom besig is om my dop te hou. Ek het met my klere en selfs skoene aan my voete in die bed geklim.”

Toe hy dit nie meer kon vat nie, het hy sy broer oorreed om ’n tassie met die nodigste uit die huis te smokkel sonder dat hul ma dit weet. En toe het hy in die nag gevlug Johannesburg toe.

“Dis hoe Ace Magashule vandag voel. Hy weet hulle gaan hom kom haal, maar hy weet nie wanneer en waarvoor nie. En ek gun hom daardie gevoel wat ek destyds gehad het,” sê my vriend, vandag ’n belangrike rolspeler op die tussenvlak tussen Luthuli-huis en die regering.

En in die nuwe kabinet sal die Zuma-Magashule-faksie bitter min of geen rol meer speel nie.

Magashule se inhegtenisneming is onafwendbaar. En dit gaan die ANC tot in sy fondamente skud. Die nasionale vervolgingsgesag sal beslis doodseker moet wees dat sy saak teen Magashule waterdig is voordat hy in hegtenis geneem en voor die hof gedaag word. Hy sal dieselfde dag waarskynlik op borgtog vrygelaat word, maar hy sal nie na Luthuli-huis kan terugkeer nie.

Ramaphosa sal Magashule se adjunk, Jessie Duarte, opdrag gee om ’n spesiale, uitgebreide vergadering van die nasionale uitvoerende komitee te belê. Al die provinsiale ampsdraers woon ook ’n uitgebreide NUK-vergadering by met volle stemreg. Ramaphosa behoort oorweldigende steun op die vergadering te hê. Die Vrystaatse afgevaardigdes sal by hul voormalige premier staan en dalk Mpumalanga, afhangende van die standpunt wat adjunkpres. David Mabuza inneem. Maar die res is vierkant agter Ramaphosa. As Magashule teen daardie tyd nog nie self bedank het nie, sal hy as sekretaris-generaal geskors word.

Die NUK kan besluit om Duarte in die pos te laat waarneem tot die volgende leierskonferensie in 2022, of selfs om Senzo Mchunu, wat by die Nasrec-konferensie naelskraap teen Magashule verloor het, die pos te laat oorneem. Maar hulle kan ook ’n ander mens in die pos aanwys. Dit en die komende ondervraging van oudpres. Jacob Zuma voor die Zondo-kommissie gaan meebring dat Ramaphosa en sy vertrouelinge in beheer is van die ANC.

Hy sal waarskynlik in een of ander stadium sy kabinet skommel om aan te pas by die herstelprogram wat Donderdagmiddag aangekondig is. En in die nuwe kabinet sal die Zuma-Magashule-faksie bitter min of geen rol meer speel nie.

Dis altyd lekker om te bespiegel oor wie uitgeskop kan word en wie kan binne bly, maar daar is belangriker dinge om in gedagte te hou. Soos dat dit beslis ’n stabiele maar verswakte ANC gaan wees wat volgens die Grondwet voor einde Augustus 2021 munisipale verkiesing moet gaan hou. Almal weet wat die toestand van die land se plaaslike owerhede is. En wat die vermoëns van ANC-stadsraadslede is.

Magashule se vertrek kan die einde wees van partypolitiek en ideologie op plaaslike owerheidsvlak. En die begin van gesonde verstand met ’n oog op dienslewering. Maar gaan dit gebeur?

Meer oor:  Ace Magashule  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.