Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jan de Lange: Tyd om oor BIG te praat – met erns

Nie almal weet dit nie, maar Pietermaritzburg was een van die land se mooiste stede. Min mense van buite het die eiesoortige mengsel van ’n plattelandse kultuur geken in ’n stad (ja, dis ’n stad!) met ’n Brits-koloniale verlede en ’n sterk Duitse invloed.

Maar die eens Victoriaanse sakekern met sy moderne besighede in stokou gerestoureerde geboue is nou ’n rommelhoop. “Totsiens, Pietermaritzburg,” skryf een van die alumni op die Facebook-groep van Gert Maritz, vroeër een van die stad se twee Afrikaanse hoërskole, by ’n video van die bykans onbegaanbare strate vol gebreekte glas en ander gemors tussen swart verbrande geboue en winkelvensters.

Almal het dit die afgelope 25 jaar tot vervelens toe gehoor: Suid-Afrika sit op ’n kruitvat wat eendag gaan ontplof. Dis al so baie gesê dat mense opgehou het om daaroor wakker te lê.

Vir KwaZulu-Natal het die ontploffing op 8 Julie begin. Die woedende, honger hordes het die strate en geboue ingevaar, gevat wat hulle kan en verbrand wat hulle nie kon saamvat nie. En dis heel moontlik nog nie verby nie. Hulle kan terugkom.

Dis duidelik dat die gewelddadige strooptogte deel was van ’n plan om soveel chaos as moontlik te saai. Mens kan dit sien deur bloot te kyk na die teikens wat gekies en die hardste geslaan is.

Maar almal wat nugter dink, weet dat die groter wordende gaping tussen ryk en arm die land ryp gemaak het vir hierdie ramp.

Moet geen fout maak nie: Wat in KwaZulu-Natal gebeur het, is ’n tydige waarskuwing vir die res van die land.

Soos Lukhona Mnguni, politieke navorser van geweld in daardie onstuimige provinsie, gesê het: 20% daarvan is vooraf beplan. Die res was spontane opstand wat selfs die aanhitsers verbaas het.

Moet geen fout maak nie: Wat in KwaZulu-Natal gebeur het, is ’n tydige waarskuwing vir die res van die land. Dit wag op almal van ons as ons nie ons sake in orde kry nie. As ons nie begin aandag gee aan die dinge wat saak maak en ophou om ons openbare debatte met beuselagtighede te voed nie.

Kort voor die geweld uitgebars het, op 30 Junie, het die Pietermaritzburgse groep vir ekonomiese geregtigheid en waardigheid gewaarsku dat die pryse in ’n kosmandjie vir die minimum waarop ’n gesin vir ’n maand lank kan oorleef, in die tien maande tot einde Junie met 7,1% gestyg het tot R4 128,23.

“Ma’s (vroue wat in fokusgroepe gebruik word om die kosmandjie saam te stel) sê stygings in kospryse het al die behoorlike voedingswaardes op die borde van hul gesinne ingesluk,” het Mervyn Abrahams, wat die navorsing beheer, gesê.

“Hoë kospryse en werkloosheid lei tot maatskaplike onrus. Die geskiedenis het dit al oor en oor bewys. Dit bereik ’n punt waar ingehoue protes meer gewelddadig word en die vervoer van goedere en dienste op ons openbare snelweë ingekort word, waar private eiendom en staatsveiligheid bedreig gaan word. Die reg van ’n honger kind en haar nog hongerder ma om te bestaan, om te oorleef en om te eet, gaan veel belangriker word as enige reg op private eiendom,” was Abrahams se voorspelling agt dae voordat Zuma tronk toe is.

Drie maande vroeër, einde Maart, is al die toelaes finaal beëindig wat die staat aan armes uitbetaal het om te vergoed vir hul verlies aan werk en ander inkomstes weens die Covid-19-inperkings.

Daar kan geen twyfel wees dat dit ’n reuserol gespeel het in die ramp ná Zuma se inhegtenisneming nie. Daarom is die herinstelling daarvan een van die eerste stappe wat aangekondig is.

Dis ook nou duidelik dat ons oor ’n basiese inkomstetoelaag (BIG) sal moet praat.

Dit sal ’n ernstige debat moet wees. Los liewer die hooghartigheid waarmee vorige gesprekke die afgelope kwarteeu daaroor gevoer is.

Meer oor:  Jan De Lange  |  Pietermaritzburg  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.