Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jan de Lange: Vergeet Zille – kyk na telbord oor regstel-aksie

Die arme DA.

Net soos met Helen Zille se berugte kolonialisme-twiet, hou sy agter die skerms vol dat niks verkeerd is met die jongste gemors waarin sy dié eens belowende party gedompel het nie.

“Sy is nie besig om die party seer te maak nie, sy is besig om ons te vernietig. Sy is letterlik besig om ons tot die derms oop te vlek,” het ’n voorste lid van die DA se nasionale koukus verlede week gesê.

Twee afsonderlike bronne in die koukus sê DA-peilings wys dat die party maar kan vergeet van sy oorheersende posisies in Johannesburg en Pretoria.

“As ons gelukkig is, sal ons in Kaapstad aan bewind kan bly, maar net as ons ’n koalisievennoot kry.”

Ander deelnemers aan die party se kru veldtog teen regstellende aksie die afgelope jare, moet saam met Zille die skuld dra vir haar sinnelose uitspraak dat Suid-Afrika vandag meer rassistiese wette het as onder apartheid. Omdat hulle nie kans sien om feite in die oë te kyk nie.

Munisipale bestuur is die ANC se swakpunt. En die DA se sterkpunt.

Art. 9(2) van ons Grondwet is die grondslag vir regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging. Die effens lomp Afrikaanse weergawe lui: “Ten einde die bereiking van gelykheid te bevorder, kan wetgewende en ander maatreëls getref word wat ontwerp is vir die beskerming of ontwikkeling van persone, of kategorieë persone, wat deur onbillike diskriminasie benadeel is.”

Dis die akkoord wat ons in 1994 gesluit en in 1996 formeel aanvaar het. Ons aanvaar maatreëls soos regstellende aksie in ruil vir ’n stelsel waarin gelykheid, eiendomsreg, onafhanklike howe en al die ander voorregte van ’n grondwetlike demokrasie verskans is. Daar is niks rassisties daaraan nie.

Die kwartaallikse arbeidsmagpeiling, wat die land se amptelike werkloosheidskoers meet, is een van bitter min amptelike peilings wat steeds op grond van ras gedoen word. Juis om vordering met regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging te meet.

Die jongste peiling wys dat werkloosheid die afgelope jaar met 2,5% gestyg het tot 30,1% – die skerpste styging in tien jaar. Maar as jy op ’n rassegrondslag kyk, lyk die prentjie heelwat anders.

Onder wit mense het werkloosheid gestyg van 7,6% ’n jaar gelede tot 8,1% teen einde Maart. Statistieke Suid-Afrika projekteer dit na getalle toe, wat wys dat rondom 33 000 wit mense die afgelope jaar werkloos geraak het en dat 164 000 wit mense werkloos is. Maar onder swart Suid-Afrikaners het werkloosheid gestyg van 42,5% tot 44,1%. En getalsgewys het 869 000 swart mense die afgelope jaar hul werk verloor en is 7,07 miljoen van hulle nou werkloos. Met ander woorde, 26 keer meer swart mense het hul werk verloor as wit mense.

Ja, die toepassing van regstellende aksie is meestal ’n ramp, soos enigiets anders wat ons staatsdiens aanpak. Oral in die staatsdiens, maar veral op munisipale bestuursvlak.

Munisipale bestuur is die ANC se swakpunt. En die DA se sterkpunt. Hy het dit immers al oor en oor bewys. Hier’s ’n stukkie raad vir John Steenhuisen, wat waarskynlik die nuwe partyleier gaan word: Vergeet propaganda-foefies soos aanvalle op regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging. Dit werk vir Solidariteit, maar hulle is ’n vakbond wat op heeltemal ander beginsels opereer.

Die DA moet liewer met sy sterkpunte werk. Julle het ’n realistiese kans om daarmee te slaag, maar julle sal ander, kleiner opposisiepartye moet saamneem op die reis. As julle slaag, gaan julle deur die bank ’n werklike en opbouende verskil aan Suid-Afrikaners se lewens maak. Die kiesers, wit en swart, smag daarna en sal julle daarvoor beloon. Ook op nasionale vlak.

* Jan de Lange is Rapport se politieke beriggewer.

Meer oor:  Jan De Lange  |  Regstellende Aksie  |  Werkloosheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.