Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jan de Lange: Wat wag op ons ná die vertrek van Ace?

Dit lyk na ’n uitgemaakte saak dat die “swakste president in die geskiedenis van die ANC” die sekretaris-generaal uit die party gaan skop.

Ja, Ace Magashule het sy hand heeltemal oorspeel met sy nagtelike “skorsing” van sy president, Cyril Ramaphosa. Dalk het hy dit geweet en doelbewus daarmee deurgedruk om vir sy volgelinge te wys wat op hulle wag as hulle hom nie uit die party volg nie.

Mense soos hy, Tony Yengeni, Bongani Bongo, Kebby Maphatsoe en ander “radikale ekonomiese transformasie”-apparatsjiks sal loop uit die ANC en ’n ander politieke tuiste gaan soek.

Die politieke temperatuur kan in die komende weke heelwat warmer word wanneer die konstitusionele hof vir Jacob Zuma vonnis weens sy minagting van ons regsproses. Dit kan die uittog van die stroom politieke hiënas en ander aasdiere uit die ANC nog groter laat word.

Dit gaan nie skeuring en politieke herskikking wees wat al so baie voorspel is nie. Maar moenie die uittog onderskat nie. Dat Magashule by Nasrec vir Senzo Mchunu naelskraap gewen en tot sekretaris-generaal verkies is, wys dat hy en sy groep ongetwyfeld betekenisvolle steun in die ANC het.

Dit was die stadige pas van transformasie wat ’n swart besittersklas bevoordeel het wat Cosatu en die SAKP agter Zuma geskaar het.

Sedert die ANC in 1994 aan bewind gekom het, is daar spanning oor ekonomiese beleid. Dis ’n interne tweedrag wat moeilik is om behoorlik te beskryf. Dit het lank jare lank die gedaante gehad van ’n stryd tussen die sosialiste en die kommuniste in Cosatu en die SAKP, aan die een kant, teen die nasionaliste, maar dis ’n oorvereenvoudiging, want aan albei kante is daar uiteenlopende denkskole, intellektuele groepe en bestuurskaders wat nie in dié ruwe kategorieë pas nie.

Die spanning word gedryf deur die noodsaaklikheid van transformasie van die land se ekonomie. Dit was die stadige pas van transformasie wat ’n swart besittersklas bevoordeel het wat Cosatu en die SAKP agter Zuma geskaar het.

Dis waarom leiersfigure in die groep soos Gwede Mantashe, Zwelinzima Vavi en Blade Nzimande teen Thabo Mbeki se ekonomiese konserwatisme en agter Zuma ingeval het. Daar was geen alternatief wat vinniger ekonomiese transformasie sou oplewer nie.

In die drie jaar sedert Zuma tot ’n val gekom het, het hy, Magashule en die ander hul bes gedoen om veld terug te wen met die “witmonopoliekapitaal”-sentiment. Hulle gebruik wraaksentimente oor apartheid om steun te probeer mobiliseer.

Maar nou lyk dit of hul speletjie binne die ANC in ’n doodloopstraat beland en hulle sal ’n ander heenkome moet soek.

Waarheen sal hulle gaan?

In die Mbeki-tydvak was daar geen alternatiewe vir die ontevredenes nie, maar vandag is dit anders.

Julius Malema sê hulle is nie in die EFF welkom nie, maar dis gevaarlik om enigiets te glo wat hy sê.

Daar is net te veel gemeenskaplike grond en selfs openlike vriendskappe tussen die EFF en die sogenaamde RET’s in die ANC om Malema te glo.

Die neerlaag en waarskynlike uitdryf van die RET’s gaan beslis beteken dat Mzwandile Masina sy burgemeestersketting in Ekurhuleni sal moet teruggee.

Hy is ’n groot gabba van Malema en kie. Die EFF het hom tot dusver min gesteur aan plaaslike owerhede, maar is by ’n punt waar hy dit nie langer kan ignoreer nie. En Masina is geslyp daarin.

Daar is nog talle sulke voorbeelde van gemeenskaplikheid tussen Magashule se RET’s en Malema se EFF.

Die ANC is kwesbaar aan sy linkerkant. Die antwoord daarop is twee balle wat Ramaphosa gelyktydig in die lug sal moet hou: vinniger, doeltreffende transformasie. En ’n groeiende ekonomie.

Meer oor:  Jan De Lange  |  Transformasie  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.