Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jan de Lange: Wêreld hou asem op vir Trump, Biden

Die Amerikaanse presidentsverkiesing kom Dinsdagaand (03:00 Woensdagoggend in Suid-Afrika) in volle gang wanneer pres. Donald Trump en sy uitdager, Joe Biden, mekaar in Ohio in hul eerste debat pak.

Oor die wêreld heen word die twee se veldtogte angstig dopgehou, want daar was nog nooit soveel kommer dat emosies die VSA – die wêreld se magtigste land en grootste ekonomie – kan destabiliseer soos in hierdie verkiesing nie.

Die Demokrate agter Biden glo die Amerikaanse demokrasie sal in gedrang kom as Trump herkies word. Hulle gaan dit nog lank onthou dat Hillary Clinton in 2016 teen Trump verloor het, al het sy 3 miljoen stemme meer as hy gekry.

Maar wat hierdie verkiesing vir hulle ’n kruistog maak, is dat Trump se lojale ondersteuners die werklik keiharde konserwatiewes en selfs verkramptes onder die Republikeinse kiesers is. Boonop slaag hy daarin om die meer gematigde Republikeine met intimidasietaktiek lojaal aan hom te hou.

En met dié steun val hy die mees fundamentele instellings in Amerika se demokrasie aan soos die jongste geveg, oor die aanstelling van ’n opvolger vir regter Ruth Bader Ginsburg, wys.

Dis egter bitter moeilik om met enigiemand ’n gesprek te voer sonder ’n meedoënlose aanvoer van feite wat eenvoudig onwaar is.

“Ons leef in baie gevaarlike tye. Daar is ’n veldtog aan die gang om die horlosie terug te draai teen vorderings wat ons die afgelope dekades gemaak het,” het Hillary Clinton verlede week gesê.

“Dis deure wat ons oopgemaak het vir minderheidsgroepe soos gemarginaliseerde vroue en immigrante. Daar is ’n buitengewoon sterk gefinansierde veldtog aan die gang om die howe te gebruik teen hierdie vordering en dit ongedaan te maak. Die besluit om nou ’n regter inderhaas te benoem, is van deurslaggewende belang vir daardie veldtog.”

Selfs politieke wetenskaplikes wat deur die Amerikaanse departement van buitelandse sake gebruik word om buitelandse joernaliste in te lig oor verkiesings is bekommerd oor die groeiende verdeeldheid.

Mark Rozell, ’n kundige van die federale stelsel en verkiesings in die VSA, sê peilings dui onteenseglik daarop dat miljoene Amerikaners in hierdie verkiesing met posstemme gaan stem weens Covid-19.

“Dis Demokrate wat posstemme gaan gebruik omdat Republieke die pandemie minder as ’n gevaar beskou. Dit beteken dat ons nie soos gewoonlik in die nag ná die verkiesing ’n uitslag gaan kry nie, want die posstemme gaan langer duur om getel te word.

“Dit gaan dae, dalk selfs ’n week duur. Dit kan aanvanklik lyk of Trump wen, maar namate meer posstemme getel word, kan die uitslag in Biden se guns swaai. En Trump het reeds begin voorbrand maak daarvoor deur wyd te verkondig dat daar yslike bedrog met die posstemme aan die gang is. Hy het trouens reguit gesê hy sal geen uitslag aanvaar wat deur posstemme verander word nie,” sê Rozell.

In 2016 het Trump ’n baie spesifieke groep Demokrate afgerokkel met beloftes dat hy die vervaardigingsektor gaan “terugbring”. Daarmee het hy drie state – Wisconsin, Pennsilvanië en Michigan – gewen wat vroeër deurgaans Demokraties was.

“Maar Trump het nie sy beloftes nagekom en vervaardigingsektore hervestig nie. Hy sê hy het meer werk geskep as pres. Barack Obama, maar as jy die syfers nagaan, is dit duidelik dat Obama in sy termyn heelwat meer werk per maand geskep het as Trump,” sê dr. Jeffrey Stonecash van die Syracuse-Universiteit in die deelstaat New York.

“Dis egter bitter moeilik om met enigiemand ’n gesprek te voer sonder ’n meedoënlose aanvoer van feite wat eenvoudig onwaar is. Die werklike harde party-mense gee eenvoudig nie om nie. Hulle soek dié feite uit wat hul saak steun. Dit maak sinvolle gesprekke baie moeilik,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.