Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jan de Lange: Woensdag se boodskap vir DA

Daar is altyd ’n uur van waarheid – ’n oomblik in tyd wanneer die harde werklikheid jou in die gesig staar.

Donderdagoggend, toe die uitslae in 95 tussenverkiesings oor die land bekend gemaak word, was só ’n uur vir die DA. Baie Suid-Afrikaners het tot taamlik onlangs nog gehoop dat die DA die hoeksteen gaan wees van ’n mededingende en lewenskragtige politieke koalisie teen die ANC, maar hy het Donderdag sy agteruitgang voortgesit met ’n verlies van nege stadsraadslede en kleiner meerderhede in die 14 ander wyke wat hy behou het.

Daardie steun syfer in twee rigtings: na die VF Plus en na ander kleiner partye soos die Good-party en Al Jama-ah.

Daar is wel plekke waar die ANC wyke van die DA afgeneem het soos in Broederstroom-Kosmos in Noordwes en Lenasia en Riverlea in Johannesburg, maar dis hoofsaaklik omdat die DA se steun in ander rigtings weggekalwe het.

Die VF Plus was die DA genadig deur nie kandidate te stel in Saldanha en Secunda nie. As daar VF Plus-kandidate was, sou die DA waarskynlik nie die paal gehaal het nie.

“Ons het daaroor gedink en dit versigtig oorweeg, maar uiteindelik besluit om dit nie te doen nie. Ons wil nie verdelend wees nie, maar by nabetragting was dit dalk ’n fout,” sê dr. Corné Mulder, die VF Plus se hoofsweep.

Moet dus nie geld daarop wed dat die DA ná aanstaande jaar se munisipale verkiesing nog in Kaapstad gaan regeer nie.

Trouens, die uitslae in die Wes-Kaapse stadsrade verberg eintlik die stroom van kiesers wat die party verlaat het. In George was vyf wyke vakant waar die DA in 2016 met meerderhede van 53,6%, 53,1% 62,9% en 55,8% gewen. Die meerderhede het Woensdag gekrimp tot 36,2%, 32,8% en 37,6%. In die vierde wyk het Good gewen met ’n meerderheid van 37,6%.

In Kaapstad was net een DA-wyk vakant. Kariena Maré van die DA het 73,04% van die stemme in die wyk gekry, maar net 19,1% van die kiesers het gaan stem. Dis die laagste stempersentasie Woensdag waarin ’n opposisieparty gewen het.

Moet dus nie geld daarop wed dat die DA ná aanstaande jaar se munisipale verkiesing nog in Kaapstad gaan regeer nie. Die VF Plus gaan nie weer so gaaf wees om nie kandidate in die metro te benoem nie en vir bruin en swart kiesers word die alternatiewe buite die ANC heelwat groter.

Naas Good gaan Herman Mashaba se Action SA op die stembrief wees. Hy gaan veral in Gauteng ’n groot faktor wees, maar in die Wes-Kaap gaan dinge heelwat ingewikkelder raak.

Wanneer die stemme in 2021 klaar getel is, gaan die woord “koalisie” nes in 2016 op almal se lippe wees. Helen Zille, wat verlede maand herkies is as die voorsitter van die DA se federale raad, het haar al skerp uitgespreek teen koalisies, maar John Steenhuisen, die party se nuwe leier, sê die DA sal “net” koalisies sluit as dit op formele ooreenkomste berus.

Informele, losse ooreenkomste soos in 2016 met die EFF, wat die DA in staat gestel het om Tshwane, Johannesburg en Nelson Mandelabaai van die ANC af te neem, sal nie weer gesluit word nie omdat dit te onstabiel is.

Wel, die VF Plus was in 2016 tot ’n groot mate ’n passiewe vennoot in daardie “losse” koalisies. Maar dié party is besig om homself te herontwerp. Hy is besig met ’n oorgang van ’n regse party na ’n konserwatiewe party. Die jong mense wat hy verlede jaar parlement toe gestuur het, is indrukwekkend, om die minste te sê.

Wanneer 2021 se uur van waarheid aanbreek, gaan die VF Plus deel wees daarvan.

As opposisieleiers ernstig is oor hul werk, sal hulle voor die verkiesing hieroor met mekaar praat sodat hulle kiesers nie voor onmoontlike keuses stel nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.