Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jan H. Marais: Kultuurdraer van Afrikaans
Jan. H. Marais se standbeeld op die kampus van die Universiteit van Stellenbosch. Foto: Gallo Images

Die toekenning van die Jan H. Marais-prys aan proff. Hennie van Coller en Ina Wolfaardt-Gräbe vir hul uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal het die aandag getrek midde-in die stryd om Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch, wat ’n medetoekenner van die prys is.

Wie was Johannes Henoch Marais­, oftewel Jan of Jannie Marais­? ’n Werk oor hom deur Pieter­ Kapp verskaf die antwoord.

Jannie, die jongste van nege kinders, is op 8 September 1850 op die plaas Coetzenburg buite Stellenbosch gebore. Sy ma was ’n nooi Neethling.

In 1870 het Jannie en sy broers Piet, Abraham en Christian na die pas ontdekte diamantvelde in die noorde vertrek. In vennootskap het hulle by die Colesberg-koppie (wat die Groot Gat in Kimberley sou word) die een kleim ná die ander opgekoop en finansiële sukses begin smaak. Christian was die finansiële man, Pieter die organiseerder en openbare figuur en Jannie die planmaker.

Versiende soos hulle was, het die Marais-broers verskeie plase opgekoop, soos die huidige Spytfontein en Langberg.

Daar het hulle met mielies en koring­, trekvee, slagvee en selfs brandhout in die duisende mynwerkers se behoeftes voorsien. Diamante was wel steeds hul vernaamste bron van inkomste.

In 1891 het Jannie na Coetzenburg teruggekeer. Hy het by verskeie sakeondernemings in die Boland betrokke geraak en sy kapitaal verder uitgebou. Deur sy verbintenis met die Victoria Kollege het hy ’n leidende figuur geword. Van 1899 tot 1910 was hy Stellenbosch se lid van die Kaapse Wetgewende Raad en sedert Uniewording in 1910 Volksraadslid.

Met sy broers het Jannie bygedra tot die uitbou van die Victoria Kollege – hy onder meer met die aankoop van grond vir sportvelde, Christian met finansiering vir die oprigting van die C.L. Marais-bi­blioteekgebou en die verkryging van die koshuise Harmonie en Wilgenhof, en saam met nog ’n broer, Frikkie, met finansiering vir die bou van die Hofmeyr-saal.

Op 54-jarige leeftyd het Jannie met Elizabeth de Villiers getrou. Marais, Neethling en De Villiers – vooraanstaande Afrikanerfamilies bymekaar.

Op 30 Mei 1915 het Jannie gesterf. Sy testament het ruim voorsiening vir sy vrou gemaak. Ook vir die Stellenbosse instellings wat hy reeds lank ondersteun het: die Moederkerk, die kweekskool, die munisipaliteit vir die aanlê van ’n park en die bou van ’n stadsaal, en die hospitaal. Verder die Kindersendinghuis, Kaapstad en Worcester se skool vir blindes en dowes.

Maar dit is veral Jannie se groot nalatenskappe vir die Afrikaner wat die aandag trek – sy finansiële bydrae tot die stigting van Nasionale Pers en Die Burger, en die op­rigting van twee trusts, Het Jan Maraisfonds (£100 000) en Het Jan Marais Nationale Fonds (£40 000). Eersgenoemde was ter stigting van ’n universiteit in Stellenbosch, soos bepaal met onderrig in Afrikaans (en vir sy tyd ook Nederlands). Dit het in 1918 gerealiseer.

Sedert 2004 het die fondse op aanbeveling van prof. Andreas van Wyk, voorsitter, ook die behoud en uitbou bevorder van die Afrikaanse taal en kultuur onder alle bevolkingsgroepe en die materiële en geestelike welsyn van die bevolking van die Stellenbosch-distrik oor kleurgrense heen, met onder meer studiebeurse.

  • Pretorius is emeritus-professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Terugblik  |  Menings  |  Fransjohan Pretorius  |  Stemme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.