Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jan Smuts slaan toe in die Elandsrivierpoort
Fransjohan Pretorius

Genl. Jan Smuts se inval in die Kaapkolonie tydens die Anglo-Boereoorlog was ’n merkwaardige veldtog.

Op 17 September sal dit 120 jaar gelede wees dat hy met ’n verrassingsaanval op die 17th Lancers in Elandsrivierpoort die Britse militêre owerhede gewaarsku het dat sy teenwoordigheid in die Kaapkolonie ernstig opgeneem moet word.

Sedert die wes- en suidfront in Maart 1900 verkrummel en die Boeremagte uit die Kaapkolonie onttrek het, was die Boereleërleiding begerig om daarheen terug te keer.

Soos Smuts dit gestel het: Hulle kon die operasionele terrein dramaties vergroot noudat daar op guerrillataktiek besluit is. Terselfdertyd kon hulle die militêre druk op die republieke verminder en die rebellie in die Kaapkolonie laat herleef.

Op 4 September 1901 het Smuts gevolglik met 220 man en ’n aantal swart agterryers die Oranjerivier in die Herschel-distrik in die Oos-Kaap oorgesteek.

Onmiddellik het die Britte met ’n grootskeepse agtervolging begin.

’n Aantal noue ontkomings het Smuts se kommando onder groot druk geplaas, aangesien genl.maj. sir John French besig was om ’n kordon om hulle te trek.

Voorts was die kommando aan snerpende koue in ’n onherbergsame gebied blootgestel, en ’n kwart van die burgers was sonder perde.

Baie bandeliers was leeg.

Op 17 September het die kommando ’n lang kloof in die Bamboesberge, noord van Tarkastad, binnegetrek. ’n Plaaslike boer het ’n patrollie van Smuts gewaarsku dat daar voor hulle, op Modderfontein in Elandsrivierpoort, ’n Britse mag met ’n kanon en masjiengewere was.

Dit was 130 man van die 17th Lancers onder kapt. V.S. Sandeman en lord Vivian. Hulle is deur maj. Douglas Haig per trein van Stormberg gestuur om Smuts voor te lê.

Al was van sy burgers nog te voet op pad, het Smuts besluit om onmiddellik aan te val. Onderweg kom die Boere ’n niksvermoedende Britse patrollie teë.

Baie van die Boere was geklee in kakie-uniforms wat hulle van Britse krygsgevangenes afgeneem het.

Baie van die Boere was geklee in kakie-uniforms wat hulle van Britse krygsgevangenes afgeneem het.

In die oggendmis het die patrollie die Boere vir Britse troepe aangesien.

’n Kort geveg het uitgebreek – soos Deneys Reitz later geskryf het – “almost at handshake distance”.

Die groot geveg met die Lancers wat daarop gevolg het, was kort, bloedig en beslissend.

Aan Boerekant het een man gesneuwel en ses is gewond.

Britse ongevalle was 29 dood en 45 gewond – omtrent soveel as wat dieselfde regiment met die beroemde “Charge of the Light Brigade” in 1854 in die Krimoorlog verloor het.

Die buit was groot. Reitz verduidelik: “We had ridden into action that morning at our last gasp, and we emerged refitted from head to heel. We all had fresh horses, fresh rifles, clothing, saddlery, boots and more ammunition than we could carry away, as well as supplies for every man.”

Smuts het daarna sy ontberingstog deur die Oos-Kaap, die Kaapse Middelland en die Wes-Kaap na Namakwaland in die Noordwes-Kaap voortgesit.

Maar die Britse uniforms waarmee die Smuts-kommando hulle toegerus het omdat hulle nie ander klere gehad het nie – Reitz was byvoorbeeld in ’n koringsak geklee – sou bittere gevolge vir Boer en Brit inhou.

Sommer gou ook.

  • Pretorius is ’n emeritus professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Fransjohan Pretorius  |  Jan Smuts  |  Elandsrivierpoort  |  Toeslaan  |  Soldate  |  Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.