Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jan Taljaard: Moeg vir ellende in SA? Dis draagliker as jy oorsee is...

Koos is gatvol. Hy is gatvol vir ’n land waar ’n geleerde en opgevoede regter oënskynlik so getraumatiseer is deur die litanie van kinderverkragtingsake wat voor haar beland, dat sy onnadenkende en rasgekoppelde uitlatings op sosiale media maak.

Hy is gedaan met ’n land waarin sekere gemeenskappe deur dekades van politieke, sosiale en ekonomiese onreg so gebrutaliseer is dat verkragting en dwelmmisbruik soos Kaposi-sarkoom op ’n terminale vigslyer se liggaam uitslaan.

Koos is moeg vir die skrikbewind van narsistiese Jakobyne op sosiale media wat elke gewaande of onteenseglike onreg in eie belang uitbuit om hul aansien tussen ander aanlyn spoke te laat styg en só die nasionale diskoers te dikteer. En politieke partye wat soos kitsrakkers uit ’n speelgoedboks spring om te oordeel.

Hy is gatvol vir staatshospitale wat nie net in gebreke bly om basiese beginsels van gesondheidsorg toe te pas nie, maar op sekere plekke ook nie meer kos aan pasiënte kan voorsien nie. Gatvol vir ’n gebroke skoolstelsel, wat ten spyte van ’n stewige begroting nog steeds nie aan die armstes van armes ’n gelyke kans kan gun nie en dat skole afgebrand word omdat tenderpreneurs nie weer onder aan die voedselketting wil beland as munisipaliteite saamsmelt nie.

Ten spyte van die historiese tekortkominge van suiwer sosialistiese stelsels, bly Koos ’n leunstoel-Marxis wat periodiek elke drie jaar wedergebore word. Daarom is hy raadop met die nuwe elite en politieke partye wat steeds Adam Smith se “onsigbare hand” van ongebreidelde kapitalisme en afwentelende rykdom voorstaan, terwyl die kloof tussen ryk en arm sigbaar groei.

Hy is bang vir die populistiese retoriek van sekere politici wat die gegewe uitbuit, asook die verharding van gevoelens tussen wit en swart.

Dit alles maak hom verward.

Koos kan nie verstaan hoe die geldmagte en hul apologete spog oor ’n land wat van die meeste en grootste winkelsentrums ter wêreld het nie. Hy dink dit is sieldodende verskynsels wat die enorme skuldlas van die gewone salaristrekker en ’n verbruikerskultuur aanmoedig, terwyl dit klein ondernemings in hul moer in marginaliseer.

In die lig hiervan wil hy by voorbaat huil oor ’n bewese korrupte staatsbestel wat saam met sakelui planne maak vir ’n fonds om entrepreneurskap aan te moedig, terwyl hy voor sy wedergebore Marxistiese siel weet die meeste van daardie geld gaan in die sakke van konsultante en allerlei soustrein-bemagtigingsorganisasies beland.

Koos wil eintlik in Londen gaan bly waar hy van plan is om Jimmy Page se beste vriend te word. Dan sit hulle net en luister na ou plantasie-blues op Jimmy se platespeler tussen ekskursies na Leighton
House waar die musikant hom kennelik sal verkneukel aan Victoriaanse kunsobjekte.

Smart is soveel meer verteerbaar as dit ver van jou is.

Meer oor:  Jan Taljaard  |  Lunsriem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.