
Jana Luther
‘Die jantjies laat my gril. Oulike, betekenislose woordjies wat my skaam maak vir Afrikaans.”
Komende van iemand toe kollega Sophia in VivA se Taalwerkersforum vra: “Kosmense, Pharos se Engels-Afrikaanse woordeboek gee ‘jantjie’ vir ‘corn dog’. Sê asseblief vir my ons het intussen iets anders daarvoor uitgedink.”
“Mieliebrak”, “worsie-op-’n-stokkie”, “mielieworsie” . . .
“Hulle noem dit ‘yankees’ hier rond. Dalk waar die ‘jantjies’ (gril) vandaan kom,” sê nog iemand. ’n Ander: “Niemand gaan weet wat hulle eet as hulle kleinletter-‘jantjies’ eet nie, behalwe die mense wat woordeboeke vir voorgereg verorber.”
Ja. “Jantjie” maak ons skaam. Maar die skoen pas. Ek gaan wei in die WAT.
In Vroeë Afrikaans het die Hollanders se “hop, Marjannetjie”, wanneer iemand ’n baba op en af op die skoot of knie wip, “hopmajannetjie” geword. “Hopmajantjie maak”, “hopmajantjie spring” is ’n speletjie of dans waarby ’n mens op en af op jou hurke spring.
“Die weerkaatsing van die spieëllig speel hopmajantjie op die vloer,” dig C. Louis Leipoldt.
“Die weerkaatsing van die spieëllig speel hopmajantjie op die vloer,” dig C. Louis Leipoldt.
Naas fieterjasies kan iemand fitterjantjies, nukke, grille hê. Kaf, bog is pure gamajantjies. ’n Skynheilige skelmstreek, ’n judasstreek, word by Wellington ’n “hakkerejantjiestreek”.
’n “Jantjie-van-alles” se hande staan reg. Is die raakvatter ’n vrou, is sy ’n “jansie”- of ’n “antjie-van-alles”. In die ou dae kon mense mekaar “jantjie maak”, jaloers. ’n Jantjie Kontant was voorbarig; Jantjie Rooibeen verlief; Jantjie Sekuur presies. Die Kaapse Suidoos was Jantjie Skuinsdwars; Jantjie-sonder-erg was min gespin; Jantjie Volstruis was oral tuis.
Baie diere, voëls, plante dra vandag nog dié woord in hul volksname: In die Noordweste is “jantjiesoetjiestrap(per)” verkleurmannetjie se kind; die geelborstinktinkie se ander naam is “geelborskleinjantjie”. Die vis “mooinooientjie” heet ook “jantjietoontjies”. “Maljantjie” is ’n haarskeerderspinnekop. Een van die ander name van die plant beter bekend as “eendjies”, “gansies” of “kankerbos” is “jantjiebarend”.
Só duik “jantjie” al skertsende ook by kos en drank op (al wil ons dit nie meer hardop hoor of sê nie): “jantjiebier” vir gemmerbier, “skurwejantjies” vir hawermoutkoekies, “gladdejantjies” vir smoothies. Vandag maak dié gejantjie, al dié jantjies en jantjiery, ons verleë. By laasgenoemde was die grilfaktor al hemelhoog.
Net prof. Gerhard van Huyssteen merk op: “Ek hou van die volksetimologiese ‘jantjie’. Lekker dat ons skurwejantjies en gladdejantjies het.”
Deesdae nog een. “Jislaaik, Jantjies!” skryf Netwerk24. Op Twitter stuur iemand “ ’n nuwe woord vir die HAT: ‘Briljantjies’. Jy gebruik dit as Herschel vir die Bokke gaan druk.”
Ek skaar my by Gerhard. Lekker dat ons Jantjies het. Ek hoop dié een kry ’n mieliebrakborg.
- Luther werk vir die Virtuele Instituut vir Afrikaans.