Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Januarie is die bidsprinkaan se maan(d)

Maan vir maan, al om die son, word ons tyd hier afgemeet. Maand vir maand. Sonjaar ná sonjaar.

Oorspronklik was ’n maand ’n maanmaand. Van ’n oerwoord wat “meet” beteken het, kom die woord “maan” en “maand”. Die ou Arabiese, Boeddhistiese, Chinese, Hebreeuse, Hindoe-almanakke is almal maanalmanakke.

’n Volmaan verskyn een keer per maand, soms twee keer. ’n Tweede maan word soms ’n “bloumaan” genoem. Aan elke maan en sy maand word gewoonlik ’n gebeurtenis gekoppel. In die looimaand looi die ou Germane velle, in die sprokkelmaand sprokkel hulle, maak hulle brandhout bymekaar. Ná die lente-, gras- en bloeiselmaand breek die somermaand aan. In die hooimaand word gras gesny; in die oesmaand geoes. Dan lê die herfs- en wyn- en slag- en wintermaand voor.

Ná ’n praatjie daaroor in die RSG-program Taaldinge kry ek e-pos van Pieter Bosman. Het jy geweet, vra hy, dat Suid-Afrika sy eie maan(d)name het? Kyk op cfah.org.za, die webwerf van die Sentrum vir Astronomiese Erfenis, ’n maatskappy sonder winsbejag “wat inligting oor die land se tasbare en ontasbare sterrekundige erfenis opteken, bewaar en versprei”.

Met elke volmaan gaan ’n geleentheid verby om ikoniese, trots Suid-Afrikaanse gebeure en verskynsels te vier.

Nie net is die name van die antipodiese Noordelike Halfrond in die Suid-Afrikaanse konteks irrelevant nie; met elke volmaan gaan ’n geleentheid verby om ikoniese, trots Suid-Afrikaanse gebeure en verskynsels te vier. Om dié rede het die sentrum ’n werkgroep gestig en in Khoi-, San- en !Xam-mitologieë, en die verhaleskat van die ander inheemse kulture na name vir getye van die maan gaan soek wat ongeveer met die maande van vandag se Westerse, Gregoriaanse kalender ooreenstem.

Onder leiding van Edward Foster is name uit die prekoloniale tyd oorweeg; name uit die amptelike tale, maar ook uit tale wat nié meer gepraat word nie of net nog deur enkele afstam­melinge van die land se oorspronklike inwoners. Uit ’n finale lys is uiteindelik 23 konsepte geïdentifiseer wat elk ’n unieke faset van Suid-Afrika se kulturele en astronomiese erfenis weerspieël: een vir elke eerste volmaan in ’n maand, plus nog een vir ’n moontlike tweede volmaan, behalwe vir Februarie, wat vir twee volmane te kort is.

So word Januarie onder ons Suidernaghemel Mantismaan(d), die maan(d) van die bidsprinkaan, met ’n luiperdmaan, as daar ’n tweede volmaan­ is. Dassiemaan(d), Februarie, dra die naam van Mantis se vrou. Maart is Oesmaan(d), soms met ’n okermaan; April Diamantmaan(d), soms met ’n goue maan; Mei Rypmaan(d), met ’n vuurmaan; en Junie Sustersmaan(d), dalk met ’n heuningmaan. Meerkatmaan(d), met sy protea­maan, is Julie; Vredesmaan(d), met sy stofmaan, Augustus. September is Lentemaan(d), met ’n bloukraanmaan; Oktober Walvismaan(d), met ’n olifantmaan; November Melkmaan(d), met ’n wolmaan; en Desember Springbokmaan(d), met ’n elandmaan.

  • Rig taalvrae of voorstelle vir die rubriek aan my by redakteur@afrikaans-vandag.co.za.
  • Luther is ’n mederedakteur van die WAT.
Meer oor:  Jana Luther  |  Januarie  |  Maan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.