Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Japie Gouws: ‘Dit begin by jou’

Ons tale en kulture is dalk verskillend, maar baie van ons drome is dieselfde, skryf Japie Gouws. 

Japie Gouws

Ons leef in interessante tye. Soms maak dit mens bang, maar soms is mens verstom om deel te kan wees van merkwaardige oomblikke.

Só maak ons geskiedenis. Ons kinders se kinders sal eendag terugkyk en gevolgtrekkings daaroor maak. Of dit goed was of sleg. Of dit opbouend was of nie. Hulle sal interpreteer of dit ’n positiewe bydrae tot die wel en wee van ons land gemaak het of nie.

Wat ons wel vandag weet, is dat daar ’n diep behoefte by die meeste Suid-Afrikaners is vir gebeure wat die siel van die volk aanraak en wat mense se lewens kan verander. Dit het soms te doen met brood-en-botter-kwessies, met toegang tot geleenthede om ’n lewe te maak, en met behoeftes om vir jou kinders en kleinkinders goeie opleiding te gee.

Ons stem vir verandering in plaaslike regering en ons droom van politieke partye wat hul beloftes kan uitvoer, maar het ons enige waarborge dat dit die deurslag gaan gee om die nodige verskille te maak?

In my omswerwinge en doen en late in die Afrikaanse taal- en kultuurlandskap is ek deeglik bewus van die diversiteit wat bestaan. Wanneer ek baie keer met ander taal- en kultuurgroepe te make kry, raak die lappieskombers van Suid-Afrika nog meer kleurvol en divers. Desmond Tutu se reënboognasie is ’n baie gepaste beskrywing om dit te verbeeld.

Jy besef die diepgaande verskille en sienings oor baie goed, maar op grondvlak ervaar jy ook daardie onbeskryfbare eenheid en versugtinge van die meeste van ons diverse en uiteenlopende volksgenote. Ons tale en kulture is dalk verskillend, maar baie van ons drome is dieselfde.

By die ATKV gebruik ons taal en kultuur as meganismes om uiteindelik daartoe by te dra dat Suid-Afrika ’n beter plek vir almal is. Daarmee is ons mikpunt nie om toilette by skole op te rig of om slaggate reg te maak nie – ons moet die regering daarvoor verantwoordelik hou. Die bedoeling is dat ons mekaar se kreatiwiteit en onderlinge lojaliteit aanwend tot voordeel van die gemeenskappe waar ons leef. En ons gebruik taal en kuns en kultuur as wonderlike instrumente om dit te doen.

Die geleenthede om drome te laat waar word van ’n samelewing waar ons respek vir mekaar en mekaar se tale en kulture het, is onbeperk.

Die eindrondes van die ATKV se nasionale projekte is tans weer in volle swang. Die onlangse Applous-korekompetisie vir laer- en hoërskole in die Kruiskerk op Stellenbosch sal onthou word vir die uitstekende en wêreldklaskore waaroor Suid-Afrika beskik.

Maar wat uitstaan, is die diverse samestelling van kore vanuit alle provinsies wat oor maande geoefen en deelgeneem het om vir die eindronde te kwalifiseer. Die entoesiasme waarmee in Afrikaans en ander inheemse en wêreldtale gesing is, die waardering en respek van die koorlede en koorleiers en begeleiers vir mekaar, en die trots by elke lid van die gehore, was verstommend. Dit was ’n tentoonstelling van nasietrots op sy beste.

Die ligteliedjie-werkswinkels en Crescendo van die ATKV kom al bykans 40 jaar aan. Die projek is egter ’n jaar of twee gelede aangepas om meer op die ontwikkeling van nuwe talent te fokus. Daar is met behulp van onder andere bekende kunstenaars soos Anna Davel en Hemelbesem ’n soektog op tou gesit na nuwe potensiaal.

Die resultate was verstommend. Nuwe name soos Whaden Johannes, Frances Brown en Daphne Arends uit Atlantis en Mamre het na vore gekom. Waar hulle optree, raak hulle die hartsnare. Hul vertoning van stories en lied “Die song wil my nie los nie” is ’n platform waar die hartseer maar ook die drome van Suid-Afrikaners uitgebeeld word. Die vertoning word ook binnekort by die Aardklop Nasionale Kunstefees op Potchefstroom aangebied.

Die tantes van Bonteheuwel, Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker, het bekend geword met hul resepte op Amore Bekker se program Tjailatyd, smiddae op RSG. Dit is egter toe hulle resepteboek deur die ATKV en Lapa-uitgewers uitgegee is, dat hulle sterstatus bereik het. Soos Flori sê: “Life begins at sixty!” Die vroue se gewildheid ken geen grense nie en hulle is besig om alle mense te inspireer en drome te gee.

Die geleenthede om drome te laat waar word van ’n samelewing waar ons respek vir mekaar en mekaar se tale en kulture het, is onbeperk. Dit raak die siel van mense aan en verander lewens.

Dit begin by jou.

* Japie Gouws is die besturende direkteur van die ATKV-groep.

Meer oor:  Japie Gouws
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.