Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jeugfiksie moet werklikheid tog ook wys
Prof. Hennie van Coller

Onlangs lees ek ’n berig oor die Stormers wie se harte en lywe seer is nadat hulle teen die Hurricanes verloor het. In die berig word gesê “Mbonambi . . . was aan die voorpunt van ’n groep spelers wat met hulle hart op hul mou gespeel het”. Eish! Laat ek maar my hart op my mou dra: die gebruik van Afrikaans in die media is beroerd verby.

Ná sulke swak Afrikaans pak die depressie oor die kwynende status en gebrekkige gebruik van Afrikaans my. ’n Goeie kuur is om te lees. Die afgelope maande het ek onder meer ’n dertigtal Afrikaanse jeugverhale gelees – almal ingeskryf vir ’n literêre prys. Te dikwels hoor ek daar is min boeke vir jong Afrikaanse lesers en hulle moet dan noodgedwonge Engelse boeke lees. Lees gerus boeke in Engels (en ook in ander tale as jy kan): só verken jy die heelal en jouself.

Vir jong Afrikaanse lesers is daar egter vandag baie goeie boeke beskikbaar. Boeke waarin ’n verskeidenheid van motiewe en temas benut word. Die idilliese ruimtes van Lynnekom, Kwaggaberg en Keurboslaan van weleer het in eietydse jeugfiksie plek gemaak vir die Suid-Afrika van vandag. Dikwels is die ruimte die ietwat onherbergsame stedelike ruimte waar drankmisbruik, dwelmgebruik en geweld aanwesig is en gesinne disfunksioneel raak. Opvallend is dat outentisiteit voorop staan en dat kragwoorde, sleurtaal (sleng) en skunnighede (smerigheid) selde ontbreek.

Die idille van die harmoniese reënboognasie in mitiese Afrika leef in hierdie jeugfiksie sterk.

Jong mense leef dikwels in die oomblik en daarom handel die meerderheid tekste oor die hier en nou van Suid-Afrika waar veral die multidiversiteit opvallend is. Tog is daar historiese fiksie (met opvallend baie belangstelling in die Khoi en San) en soms weer toekomsfantasieë. Realistiese uitbeelding word afgewissel met fantasie en goor omstandighede met besoeke aan eksotiese ruimtes soos Parys en afgeleë eilande.

In bykans alle boeke ontbreek raspejoratiewe of -vooroordele. Daar word trouens baie moeite gedoen om rasseharmonie op skole te beskryf en hoofkarakters se beste of “spesiale” vriende is dikwels van ander rassegroeperings. Jeugverhale is van oudsher didakties van aard en dit wil aan jong, ontwikkelende lesers waardes en hou-dings meedeel wat moreel en eties is. Daarom begryp ek dat mense van kleur telkens besonder positief voorgestel word (maar nie waarom Afrikaners altoos die boosdoeners is nie).

Die idille van die harmoniese reënboognasie in mitiese Afrika leef in hierdie jeugfiksie sterk. As daar egter in 30 boeke byna niks gerep word van rassespanning, verkragting, plaasmoorde, geweldsmisdade, staatskaping, korrupsie, swak dienslewering, vrot paaie, beurtkrag en dergelike nie, besef jy dat die verskillende uitgewers almal voorskriftelik is en dat skrywers afgeraai – en waarskynlik verbied – word om hieroor te skryf.

Dit is nie net ’n vorm van sensurering nie, maar van verwringing. Realistiese weergawe van die werklikheid verg onvervalste eerlikheid. Dan eers kan probleme getakel en dalk selfs opgelos word.

Meer oor:  Hennie Van Coller
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.