Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Joernaliste help bou ons demokrasie

Die bedreiging en intimidasie van joernaliste is slegte nuus vir ons demokrasie. Dit wat ’n toegewyde joernalis soos wyle Suna Venter ervaar het, skree ten hemele.

Ons mag nie swyg as daar gepoog word om die stemme van profetiese joernaliste stil te maak nie.

In godsdienstige tradisies word profetiese spreke hoog gewaardeer. Profetiese spreke in ’n demokrasie het minstens vyf funksies.

Profete herinner eerstens voortdurend aan die visie van ’n nuwe samelewing. In ons Grondwet word die visie geformuleer van ’n samelewing van menswaardigheid. Die boustene van menswaardigheid is helende versoening, omarmende geregtigheid, verantwoordelike vryheid en gelykwaardigheid.

Die tweede taak van profete is om verraad teenoor hierdie visie te ontmasker. Dit is hul verantwoordelikheid om met moed en onverskrokkenheid onreg aan die kaak te stel.

Derdens vertel profete die verhale van mense wat seerkry en swaarkry en wat verontreg word. Hulle vertel ook getrou die verhale van hoop, herstel en heling.

Die vierde taak van profete in ’n demokrasie is om deeglike navorsing te doen, om tegniese ontledings te doen, om alle tersaaklike inligting op die tafel te plaas, om deursigtigheid te omarm, om aanvaarbare interpretasies van inligting te bevorder, om ingeligte openbare gesprek en debat te verseker en om volwasse openbare menings te help kweek.

Ons mag nie swyg as daar gepoog word om die stemme van profetiese joernaliste stil te maak nie.

In die vyfde instansie verseker profete dat besluitneming en beleidvorming die visie van menswaardigheid onthou, asook die verraad teenoor die visie, die stories van veral noodlydendes en die insigte wat vloei uit tegniese ontledings en openbare gesprekvoering.

Hulle verseker veral dat die potensiële impak van beleid op die mees brose in die samelewing deeglik in ag geneem word.

Profetiese spreke gedy slegs as dit gepaardgaan met priesterlike bewoënheid en omgee. ’n Priesterlike ingesteldheid beteken dat die leed en lyding van mense jou nie onaangeraak laat nie, maar dat dit jou spreke, besluitneming en optrede rig.

Priesterlikheid bepaal ook die motief van profetiese spreke, naamlik om veronregtes te herstel en oortreders te roep tot orde en bekering tot die visie van ’n goeie samelewing.

Vir goeie beleid en getroue beleidsimplementering en -monitering het ons profetiese helderheid en priesterlike bewoënheid nodig.

Joernaliste met ferm profetiese stemme en sagte priesterlike harte is onontbeerlik hiervoor. Ons eer joernaliste soos Suna Venter. En hierdie eer word onder meer gesien in verbintenisse soos hierdie: “Hou jul hande van ons joernaliste af.”

  • Nico Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Suna Venter  |  Intimidasie  |  Demokrasie  |  Joernaliste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.