Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Johan Fourie: Die ‘onvryheid’ van staatshulp

Verlede jaar kondig Grand Parade Investments aan dat Burger King in Suid-Afrika te koop is. Die doel is om waarde vir hul beleggers te ontsluit en nuwe geleenthede na te streef.

Die beleggingsgroep ECB Africa, met ervaring in die kitskosbedryf, maak ’n aanbod: hulle glo dat, met die regte bestuur en planne, hulle Burger King in Suid-Afrika kan groei tot groter winste.

Dit gaan natuurlik nie maklik wees nie. Die kitskosbedryf is een van die mededingendste in Suid-Afrika.

McDonald’s, Steers, KFC, Nando’s en talle ander ding mee in dieselfde krimpende ekonomie.

Grand Parade Investments slaak ’n sug van verligting. In hierdie moeilike tye kon hulle ’n koper kry.

En dan tree Suid-Afrika se Mededingingskommissie tot die gesprek toe. Nee, besluit hulle vroeër hierdie maand, hierdie transaksie mag nie plaasvind nie. Dis nie weens die niemededingende aard van die transaksie nie: “Die kommissie vind dat die voorgestelde transaksie onwaarskynlik tot ’n wesenlike voorkoming of vermindering van mededinging in enige tersaaklike mark sal lei.”

Kortom, omdat die kitskosmark so mededingend is, gaan ECB Africa nie die prys van Burger King-burgers kan verhoog nie; indien hulle sou, gaan hulle eenvoudig markaandeel verloor.

Wat is dan fout? Die rede vir die afkeuring is eerder weens ’n openbarebelang­argument: Die swart aandeelhouding van Grand Parade Investments gaan nou vervang word deur ’n maatskappy met geen swart aandeelhouers nie – van 68% tot 0%.

Hulle vergeet markte is kompleks.

Dit wys maar net weer wat ekonome lankal weet: Dat goeie bedoelings nie noodwendig goeie gevolge het nie.

Die openbarebelang-wetgewing wat die afgelope paar jaar in die mededingswet ingesluit is, het ten doel om eienaarskap in die ekonomie te verbreed. Dit is, natuurlik, ’n verdienstelike doelwit.

Maar wat beleidmakers (en veral wetgewers) gereeld vergeet, is dat markte kompleks is. Die ingryping hier het ’n rimpeleffek wat baie verder uitkring. Die gevolg van hierdie wetgewing is dat maatskappye in swart besit moeiliker aan wit of aan buitelandse aandeelhouers verkoop kan word. Dit beperk die poel van potensiële kopers wat die waarde van hul aandele aansienlik beperk. Dit is dan wat ook gebeur het: ’n Dag ná die Mededingingskommissie se aankondiging het die prys van Grand Parade Investments, wat op die JSE genoteer is, met 10% gedaal. In plaas daarvan om welvaart vir swart aandeelhouers te skep, het die openbarebelang-wetgewing welvaart vernietig.

Nog ’n gevolg: Watter maatskappy in wit of buitelandse besit gaan nou swart vennote wil aanneem? So ’n stap sal dadelik die maatskappye se waardasie verminder omdat hulle skielik nie meer daardie aandele aan wit of buitelandse vennote sal mag verkoop nie. ’n Beter voorbeeld van skiet-jouself-in-die-voet-wetgewing gaan jy moeilik vind.

Dis maklik om die kommissielede te blameer vir hierdie onnadenkende optrede, maar die kommissielede het nie veel van ’n keuse gehad nie; die wet is die wet. Dit is eerder die dieper beginsel dat ekonomiese uitkomste deur wetgewing reggestel kan word wat hanteer moet word.

Die eerste Burger King-tak in Kaapstad, 2013. Foto: Danielle Karallis

Dis natuurlik ’n baie gewilde siening: Dat die owerheid sy wetgewende magte kan gebruik om die ekonomie te bestuur. En dis nie ’n nuwe idee nie. Om die waarheid te sê, dit is eers in die onlangse verlede – so om en by die laaste twee eeue – dat die magte van die owerheid in so ’n mate beperk kon word dat gewone mense bemagtig is om te innoveer en daarmee welvaart te skep.

Ten spyte van die geweldige welvaart wat hierdie entrepreneurs die afgelope twee eeue geskep het – om die gemiddelde wêreldburger 18 keer ryker te maak as ons voorouers ses geslagte terug – en ten spyte van die lang bewyslas van mislukte staatsondernemings in Suid-Afrika en elders, is daar steeds aptyt vir grootskaalse owerheidsinmenging in die ekonomie.

’n Goeie voorbeeld is die argumente van die Italiaanse ekonoom Mariana Mazzucato. Sy sit nie net op Suid-Afrika se presidensiële ekonomiese advieskomitee nie, maar het in Maart vanjaar ’n lesing aangebied aan al Suid-Afrika se hoofstaatsamptenare, insluitende pres. Cyril Ramaphosa. In haar boek The Entrepreneurial State verduidelik sy dat van die belangrikste innovasies deur die staat “gedryf” is. Die staat het dus, volgens Mazzucato, ’n sleutelrol om te speel wanneer dit by ekonomiese ontwikkeling kom – as reguleerder én as belegger.

Nonsens, sê Deirdre McCloskey en Alberto Mingardi in The Myth of the Entrepreneurial State. Dit was nie die owerheid wat ons ryk gemaak het nie. Inteendeel. Politici, van plaaslike vlak tot nasionaal, is dikwels eerder ’n hindernis vir innovering as ’n fasiliteerder daarvan.

Hul reëls en regulasies maak dit tipies vir entrepreneurs moeiliker eerder as makliker om hul idees in die mark te toets.

Natuurlik is daar voorbeelde waar die owerheid ’n bydrae tot innovasie gemaak het, maar hierdie voorbeelde word baie selektief deur die voorstanders van owerheidsinmenging gekies. Met al die geld wat regerings oor die laaste eeu bestee het, moes hulle tog iewers iets kon regkry, verduidelik McCloskey en Min­gardi. Selfs ’n stukkende horlosie is twee keer ’n dag reg. Die toets is nie of hulle iéts reggekry het nie. Die toets is of hulle méér kon regkry as die ongebreidelde kreatiwiteit van gewone mense wat elkeen hul eiebelang nastreef met markgetoetste idees. En die antwoord is onteenseglik “nee”.

McCloskey en Mingardi verduidelik dit so: “In enige mark is daar ’n noue verband tussen wat jy betaal en wat jy ontvang. Maar daar is byna geen verwantskap tussen vir wie jy stem en wat jy van die owerheid ontvang nie. Dit is hoekom mense deurlopend ongelukkig is met hul regering, en hoekom dit gewoonlik ’n slegte idee is om aan politici oor te laat wat deur vrywillige ooreenkomste in die private sektor opgelos kan word.”

Selfs in die mees burokraties doeltreffende lande waar net die beste en slimste gekies word om staatsposte te vul, is die owerheid hopeloos om innovering te “dryf”. Niemand weet wat die toekoms inhou nie, selfs nie eens die slimste onder ons nie.

Wanneer entrepreneurs kanse waag met nuwe idees en innoverings maar misluk, dra hulle self die koste van die mislukking. Wanneer politieke entrepreneurs kanse waag maar misluk, dra die belastingbetaler (of toekomstige belastingbetaler) die koste. Dis een rede hoekom die owerheid baie meer (en duurder) misluk as die private sektor.

Tog sien die Suid-Afrikaanse regering dit nie so nie. Hul diepgewortelde idee, soos in etlike beleidsdokumente na vore kom, is om self ontwikkeling te “dryf” (weer daardie woord). Dit strook met die benadering van die ontslape Malawiese ekonoom Thandika Mkandawire, wat die leerstoel in Afrika-ontwikkeling by die London School of Economics beklee het.

Hy het nog tot net voor sy tragiese dood in Maart die strukturele aanpassingsprogramme van die Bretton Woods-instellings geblameer vir Afrika se agteruitgang in die 1980’s en 1990’s. Dis ten spyte van nuwe navorsing wat toon dat dit juis hierdie programme was wat Afrika-ekonomieë in die 2000’s weer op ’n groeitrajek geplaas het.

Beteken dit die owerheid het geen rol nie? Natuurlik nie. Ons bly in die mees ongelyke samelewing ter wêreld met ’n rampspoedige hoë werkloosheidskoers.

Die fiskale stelsel help (reeds) om belastinginkomste van die rykes na die armes te kanaliseer. Die ideaal is dat dit gebeur met so min moontlik onbevoegde ingryping. ’n Basiese inkomstetoelae is ’n goeie begin om die ondoeltreffendheid van staatsbestedingsprojekte (en korrupte amptenare) te systap. Waar staatsbesteding wel nodig is, soos aan onderwys en gesondheid en infrastruktuur, kan die private sektor help. En vermy tog maar daardie reëls en regulasies in die arbeidsmark en kapitaalmark wat ten spyte van hul goeie bedoelings werklike bemagtiging bloot belemmer.

Soos met Grand Parade Investments.

Dis tyd dat wetmakers (en die ondersteuners van staatsinmenging) besef dat jy nie markuitkomste deur die regstelsel kan regtower nie. (Begin sommer om McCloskey en Mingardi se hoofstuk 21 – “The Economic Errors of Lawyers . . .” – te lees.) Daai wette gaan in alle waarskynlikheid net nuwe en duurder probleme skep, soos dat swart aandeelhouers nou hul welvaart kwyt is. Boonop herinner die burokratiese paternalisme ’n mens darem baie aan ’n vorige politieke bestel wat vir swart entrepreneurs voorgeskryf het waar en aan wie hulle mag koop en verkoop.

Wetgewing soos hierdie is nie hoe mens entrepreneurs, swart of wit, bemagtig nie. Dis nie hoe jy welvaart skep nie. Dis die definisie van ekonomiese “onvryheid”. As hulle werklik ’n verskil wil maak moet die wetgewers eerder Burger King se slagspreuk in gedagte hou wanneer hulle weer wil inmeng: “Have it your way.”

  * Prof. Johan Fourie doseer ekonomiese geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch.


Meer oor:  Johan Fourie  |  Burger King  |  Insentiewe & Dinge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.