Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Johan Fourie: Skeisake (en die ding met dogters)

Waarom is die egskeidingsyfer onder ouers van meisies hoër as die gemiddelde?

Uiteindelik is daar klinkklare, empiriese bewyse vir wat pa’s eintlik lankal weet: Dis moeiliker om dogters groot te maak as seuns.

Vir lank weet sosiaal-wetenskaplikes al dat ouers van meisies meer geneig is om te skei as die ouers van seuns. Die effek is nie enorm nie, maar dit is steeds daar in die data. Maar hóékom dit so is, was nog altyd ’n kopkrapper.

Een hipotese is dat ouerpare ’n sterk voorkeur vir seuns het. In lande soos Indië en China is daar baie meer mans as vroue. Die Nobelpryswenner-ekonoom Amartya Sen het al dekades gelede die verskynsel van 100 miljoen “vermiste meisies” verduidelik: ’n Sterk voorkeur vir seuns beteken selektiewe aborsies of selfs babamoord. Die egskeidingsverskil tussen die ouers van seuns en die ouers van meisies in ontwikkelde lande soos Amerika, het navorsers gedink, is maar net nog ’n voorbeeld van hierdie sterk voorkeur vir seuns.

Maar ’n nuwe studie deur die ekonome Jan Kabátek en David Ribar in The Economic Journal stel ’n ander hipotese voor. Hulle maak gebruik van gedetailleerde Nederlandse familiedata en wys dat daar geen egskeidingsverskille is tussen die ouers van seuns en meisies in die eerste 12 jaar ná die geboorte van die kinders nie. Dis daarom moeilik om te glo dat daar ’n inherente voorkeur vir seuns is; as daar was, sou dit darem sekerlik in die eerste 12 jaar al na vore kom. Dit is egter slegs wanneer die kinders ouer as 13 (maar jonger as 18) is dat die ekonome ’n beduidende verskil vind. Hulle bereken, byvoorbeeld, dat die ouers van 15-jarige meisies 10% meer geneig is om te skei as die ouers van 15-jarige seuns. Hulle skryf dit toe aan verhoogde verhouding­spanning in gesinne met tienermeisies.

Daar is meer spanning in gesinne met meisies.

Maar wat het dit met ekonomie te doen? Sommige akademici verwys spottenderwys na ekonomie as die imperialistiese wetenskap. Hulle is reg. Wanneer die meeste studente vir hul eerste ekonomieklas aansit, is die verwagting dat hulle gaan leer hoe die geldmarkte werk of, vir die meer oningeligte, hoe om “geld te maak”. Maar dis nie wat ekonome doen nie. Soos ’n bekende dosent eens gesê het: As ek geweet het hoe om geld te maak was ek nie nou hier nie.

Dis beter om aan ekonomie te dink as die studie van menslike gedrag. Ekonome wil verstaan hoekom mense sekere keuses maak – en of daardie keuses beter of slegter is vir hul welstand en welvaart.

En daarom bestudeer ons nie net mense se geldsake nie, maar al die gelowe, gewoontes en ander goeters wat mense se gedrag bepaal.

Soos volksverhale. Dink aan volksverhale as die versameling van stories, tradisies en doenwyses wat uniek is aan ’n groep mense en wat oor generasies oorgedra word. Die jonger generasie Afrikaanssprekendes sing dalk nie meer volksliedjies nie, maar daar is steeds goed wat oor geslagte heen saam kom – van kinderstories en tolletjiebrei tot die resep vir beskuit en wat om te doen as ’n leeu jou bestorm.

In ’n nuwe artikel in die Quarterly Journal of Economics (QJE) skep die ekonome Stelios Michalopoulos en Melanie Xue ’n nuwe datastel van volksverhale vir meer as 1 000 samelewings. Hulle gebruik dan gevorderde masjienleertegnieke en kom tot drie gevolgtrekkings.

Die eerste is dat gemeenskappe wat tradisionele stories vertel waarin vroue as onderdanig aan mans uitgebeeld word, ook meer geneig is om vandag wette te hê wat vroue ondergeskik stel aan mans. Mens kan nie help om aan die onselfsugtige durf van Racheltjie de Beer te dink as ’n teenvoeter vir sulke onderdanigheid nie.

Michalopoulos en Xue vind ook dat gemeenskappe wat volksverhale vertel waarin mededinging tussen die karakters skadelik eerder as voordelig is, is ook meer geneig om risiko-sku te wees – en ook minder entrepreneurs te hê. Ek hoor hoe Storieman se skilpad vir die haas sê: “Stadig maar seker wen dikwels die beker.”

Miskien het sulke stories die stigters van FirstRand en Capitec en Atterbury geïnspireer om suksesvolle firmas te bou.

Sommige gemeenskappe het baie stories waarin bedrieërs uitgevang en gestraf word. Sulke gemeenskappe, vind Michalopoulos en Xue, het ’n hoër vlak van vertroue en is ook voorspoediger. Ek onthou uit my kinderdae ’n paar van Pieter W. Grobbelaar se Jakkals en Wolf-stories waarin die skurk Jakkals altyd met moord weggekom het. Miskien moet ons na die wortel van Steinhoff en ander se gekonkel in Jakkals se manewales gaan soek.

Dis nie net ou volksverhale wat ons gedrag beïnvloed nie. Baie van ons neem besluite nie op grond van goeie inligting nie, maar eerder op grond van wat die mense om ons doen. Een van die belangrikste besluite in ons lewe – en een wat duisende voornemende studente voor Maart sal moet neem – is die keuse van studierigting. Hoe neem studente hierdie belangrike besluit?

Dis die vraag wat ’n span van nege outeurs in nog ’n QJE-artikel vra. Hul antwoord: broers en susters. Hulle gebruik data van Chili, Kroasië, Swede en die VSA om te wys dat jonger kinders gereeld bloot hul ouboet en ousus se voorbeeld volg, ongeag of dit vir hulle ’n goeie besluit is of nie.

Die outeurs maak staat op afsnypunte in toelatingsvereistes om te bevestig dat hierdie resultate oorsaaklik is, met ander woorde, dat ons seker kan wees dat die jonger kinders die oueres se besluite bloot naboots. Interessant genoeg, hierdie verwantskap verdwyn heeltemal wanneer die ouer broer of suster nie universiteit klaarmaak nie; skielik is Ouboet of -sus nie meer so ’n fantastiese rolmodel nie.

Die feit dat mense selfs die belangrikste lewensbesluite “uitkontrakteer” het natuurlik implikasies verder as die individu. Universiteite probeer hard om so toeganklik vir soveel moontlik mense te wees, maar indien die advies van ouer broers en susters belangrik is in die keuse van baie studente beteken dit dat sommige groepe oor- en ander onderverteenwoordig gaan wees. Dit laat mens ook wonder: Moet universiteite groter beurse gee aan eersgeborenes omdat die kans dat Boeta in Ousus se voetspore sal volg baie groter is?

Universiteite is natuurlik een plek waar ons hierdie rolmodel-effek duidelik kan meet. Nog ’n onlangse studie kom van my eie vakgebied. Hoewel die tendens besig is om te verander, veral in Suid-Afrika, word mans oorverteenwoordig in die ekonomie. Twee Amerikaanse ekonome, Catherine Porter en Danila Serra, het gewonder of hulle vroue kan aanmoedig om ekonomie te studeer deur eerstejaarstudente aan meer vrouerolmodelle bloot te stel. Hulle vind ’n groot invloed: Terwyl slegs 9% van vroue ekonomie as hoofvak gehad het voor die ingryping, het dit daarna tot 17% gestyg.

Dat ons van vrouerolmodelle leer, het ook implikasies vir die studie oor egskeidings. Ten spyte daarvan dat ouerpare met tienermeisies ’n hoër kans op egskeiding het, is daar een uitsondering: Dit is nie waar nie indien die pa in ’n gesin grootgeword het waarin daar ook meisies was. Anders gestel: Die 10% hoër waarskynlikheid op ’n egskeiding vir ouerpare met ’n 15-jarige dogter verdwyn indien die pa van daardie dogter ’n suster gehad het toe hy grootgeword het.

Dat mense sosiale wesens is, is vir niemand ’n verrassing nie. Ons leer deur na stories te luister en te kyk hoe ander mense dinge doen. Dit beteken egter dat die stories waarna ons luister en die mense na wie ons kyk saakmaak. “Jy is wat jy lees,” sê een van my gunsteling-fliekkarakters. Voeg daarby: “Jy doen afhangende na wie en wat jy luister.”

* Prof. Johan Fourie doseer ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Johan Fourie  |  Gesinne  |  Egskeiding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.