Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Johann Maarman: Spaar ons dié bitter beker
Johann Maarman

Booker T. Washington, die beroemde Amerikaanse opvoedkundige, het gesê dat enige beskawing begin by mense wat studeer en met dié kennis eksperimenteer.

Dié seun van ’n plantasie-slaaf het een van sy land se voorste hervormers geword. Hy het selde geslaap en nat handdoeke om sy kop gedraai om wakker te bly terwyl hy uit geleende boeke gestudeer het.

Ons land se kampusse is – net soos verlede jaar – weer gekwelde akademiese instellings. Weer sien ons hoe studente aan veiligheidshekke by universiteitskampusse ruk, deure uit die skarniere pluk, kampusse bemors, sitstaak, latrines stukkend slaan en ’n biblioteek afbrand.

’n Spoor van verwoesting is dus die erflating van hul protes. Die beskawing moet dus voor vullisdromme wyk.

Vir Blade Nzimande, minister van hoër onderrig en opleiding, se grandiose planne gee studente nie ’n bloue duit om nie. Die studente wil nie ’n 8%-verhoging in klasgelde hê nie en basta. Maak nie saak of die rykes dit kan bekostig nie. Dis gratis onderrig vir almal of niks.

In die donker dae van 1976 was studente aan die voorpunt van die revolusie. Dit was hulle wat in die voorste bunker gelê en die regering van die dag openlik uitgedaag het. Ons almal weet wat gebeur het. Kinders wat afgemaai is. Lyke in die strate. ’n Hector Pieterson.

In die turbulente 1980’s was dit wéér die studente wat gehelp het om die koers van hierdie land onherroeplik te verander. Klip in die hand ja, maar selde was die vernietiging van hul eie kampusse die skyf van hulle brute proses.

Wat maak vandag dan anders?

Ons sien dat die regering nie eintlik weet of hulle derwaarts of herwaarts gaan nie. Dit wil voorkom asof hulle nie die skok van die studenteproteste kan verwerk nie. Hulle is op die oomblik so gedwee soos ’n klomp nat hoenders nadat die bliksemstraal die hoenderhok getref het.

Maar wat mens tot bekommernis moet stem, is die verskuilde waarskuwing van pres. Jacob Zuma aan die betogende studente. Hoe lank nog voordat ’n student ook soos ’n Andries Tatane gaan sterf? Luister fyn na Zuma se woorde: “Die vernietiging van eiendom is ’n strafregtelike oortreding en sal só deur die wetstoepassingsowerhede hanteer word.”

Die vraag is net hoe die wetstoepassers dit gaan hanteer? Gaan ons weer die Casspirs die strate in stuur? Of ’n noodtoestand afkondig?

Hoe kan daar geld wees vir ’n presidensiële straler, maar daar is nie geld vir arm studente nie?

Vir die ANC is die skoen nou aan die ander voet. Die ANC-meesters, die optogmakers en die petisionarisse van gister, is nou in bevel. Wie het immers gratis onderrig as deel van die bevrydingspakket verkoop? Die ANC. En nou sit hulle met die gebakte pere van onvervulde beloftes.

Hoe verduidelik jy vir studente daar is eenvoudig nie geld vir gratis onderrig nie, maar jaar ná jaar is daar ’n reddingspakket van miljarde vir die sukkelende Suid-Afrikaanse Lugdiens?

Hoe kan daar geld wees vir ’n presidensiële straler, maar daar is nie geld vir arm studente nie? Hoekom word miljarde opsy gesit vir kernkrag, maar studente moet honger gaan slaap?

Verlede jaar het die studente die parlement se hekke oopgeskouer. Hulle was na aan die parlementsdeure. In die volgende ronde is hulle waarskynlik nie buite die parlement nie, maar binne.

En dit moet die regering snags laat rondrol, want bloed kan vorentoe in dik strome vloei.

Mag ons tog nie weer uit hierdie bitter beker drink nie.

  • Maarman is adjunkredakteur van Die Burger.

Meer oor:  Menings  |  Johann Maarman  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.