Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Johann Maarman: Tyd om Zuma terug te betaal

Wanneer ’n mens hier kort voor die hortende verkiesing van plaaslike owerhede deur die land se strate ry, word jy begroet deur plakkate met pres. Jacob Zuma se glimlaggende foto en die klinkende slagspreuk: “Saam bevorder ons die mag van die mense in elke geselskap.”

Nou toe nou! Van ’n “beter lewe vir almal” tot die “mag van die mense”.

Strooi.

’n Mens moet taamlik moeite doen om nie te grinnik nie, want daardie kaart en transport van die “mag van die mense” het Zuma en die ANC lank­al by die venster uitgeskiet. Dis weg.

Dat die ANC selfs so ver gegaan het om Zuma sy poster boy te maak, hoef ’n mens alleen deur jou tande te laat sis.

Hier sit jy met iemand wat bloot ’n rentmeester van kiesers se stem is, maar in sy presidensiële termyn maak asof hy die heremeester daarvan is.

Dit is ook die einste man wat die draaiboekskrywer, regisseur en hoofakteur is van politieke lokettreffers soos Nkandla, Nene-gate, Omar al­Basjir en die wapenskandaal.

Maar dis nie ál nie. Jy kan die tsaar van die SAUK, Hlaudi Motsoeneng, ook nog hierby voeg. Protégé van Faith Muthambi en by verstek dus ­protégé van Nommer Een.

Die ANC het nog hier gekiep-kiep en daar gekiep-kiep oor Nkandla, maar op die ou einde was dit die hoogste hof in die land wat Zuma tot orde moes roep en hom beveel het om R7,8 miljoen terug te betaal.

In enige werklik demokratiese re­gering sou Zuma lankal ontslaan gewees het of ten minste self geloop het. Maar nie Zuma nie.

Die ANC as kollektief kan ook nie vrygespreek word nie. As daar enigsins kaders met murg in hul pype was, moes Zuma al uit die bevrydings­gemeente verban gewees het.

Zuma het dus nou die toesig oor sy eie chaos, maar voel ­vere wat die res dink.

Beproefde demokratiese beginsels word klaarblyklik ’n al hoe groter struikelblok vir die ANC-regering.

In die aanloop tot die verkiesing het die ANC die ou taktiek gebruik om sy kiesers op te pomp met ’n klomp idealisme en beloftes. Dis deel van sy paradigma. Maar dit is hier waar die ANC met sy talle planne in die hek duik. Sy agendas en skemas (soos die nasionale ontwikkelingsplan) en gedurige gewik en weeg op honderd-en-tien gedagtes, getuig van ’n koersloosheid en krisisbestuur, byna soos die laaste dae van die NP-regering voor die 1994­verkiesing.

Wat moet ’n mens daarvan aflei?

Dít: Beproefde demokratiese beginsels word klaarblyklik ’n al hoe groter struikelblok vir die ANC-regering. Wanneer opposisiepartye dit wil toepas, word hulle op die politieke brandstapel gesit waar hulle verketter word as agente teen hervorming.

Soos alle paradigma-verlamdes ook maar is, blameer die ANC die land se verlede dat dit hom aan bande lê. Dis maar weer die ou vyeblaar se skuld: apartheid.

Die ANC stap weliswaar in hierdie verkiesing as die kampioen van Suid-Afrikaanse politiek, maar die olifant is kwesbaar. Hoe gaan hy uitstap?

Dit is glad nie meer ’n gegewe dat ANC-bastions soos die Nelson Mandelabaai-metropool, Tshwane en Johannesburg onaantasbaar is nie.

As selfs net één van hierdie metro­pole in die opposisie se hande beland, gaan dit diep wonde vir die ANC wees.

Kiesers het doodgewoon nou genoeg gehad van oneerlike politici én oneerlike amptenare. Sulke mense verdien allermins nog ’n kans.

Zuma het die kiesers gestraf met ’n oppulente Nkandla. Woensdag kry kiesers die kans om JZ in eie munt terug te betaal.

  • Maarman is adjunkredakteur van Die Burger.

Meer oor:  Verkiesing  |  Johann Maarman  |  Anc  |  Rubriek  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.