Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Johann Rossouw: Die Sondebok is terug

Suid-Afrikaners wat dink jy kan die wanorde in Suid-Afrika verlaat, vergis hulle. Suid-Afrika is nou oral.

Ons kyk na ons skerms en vra, waar sal ons hulp vandaan kom? Só is dit nou skynbaar vir die meeste mense, want ons tyd is apokalipties.

Wie die apokalips wil oorpeins, kan kwalik beter as om te begin by die werk van René Girard (1923-2015). In 1961 publiseer Girard sy eerste groot boek, waarin hy twee groot insigte onthul.

Eerstens begeer ek nie dit wat op sigself begeerlik is nie, maar dit wat vir my begeerlik gemaak word deur diegene soos wie ek wil wees. Tweedens word die groot romans onderskei deur die beskrywing van ’n bekeringservaring waardeur die hoofkarakter bevry word van die begeerte om ander na te boots.

Volgens Girard kan sulke romans slegs geskryf word deur skrywers wat self so ’n bekeringservaring beleef het, waarvan Cervantes, Proust en Dostojefski voorbeelde is. Heel merkwaardig lei die skryf van sy eerste boek Girard self daartoe om hom op 35 met sy gesin tot die Katolisisme te bekeer.

Girard ontwikkel vervolgens sy groot teorie oor die mensdom, geweld en godsdiens. Vóór Christus, voer hy aan, reageer groepe of kulture op onsekerheid of onstabiliteit deur iemand wat anders is en hulle aan hul onsekerheid herinner, tot sondebok te verklaar en te offer.

Hierna voel almal skuldig teenoor die onskuldige slagoffer, en word die voormalige sondebok mettertyd verhef tot held of selfs tot god.

Alles verander wanneer Christus kom – die eerste god wat Homself vrywillig offer vir Sy gemeenskap, die gemeenskap van die gelowiges.

Christus se kruisdood lê die sondebok-meganisme vir eens en altyd bloot. Omdat dit onthul word, kan dié meganisme nooit weer ná Christus werk om ’n groep of ’n kultuur te stabiliseer nie. Voortaan word daardie stabiliserende rol deur die Christendom vervul.

Ons almal weet egter dat ondanks die Christendom ’n tyd van uiterste geweldpleging in die 19de en 20ste eeu losgebars het, wat reeds aangekondig is deur die Katolieke Spanje en Portugal se bloedige kolonisasie van Suid- en Sentraal-Amerika.

Maak gereed vir die apokalips.

Natuurlik het tegnologiese vooruitgang gehelp om miljoene mense die afgelope dekades uit armoede te verhef, maar dieselfde mense is in die eerste plek verarm deur nominaal Christelike lande se koloniale, imperiale en wêreldoorloë.

Bowendien gaan die armoedeverligting gepaard met ekologiese verwoes­ting, wat ons tyd nog meer apokalipties maak.

Volgens Girard misluk die Christendom, omdat die droom van vrede wat dit aankondig, vervang is deur nagmerries van oorlog, ekologiese verwoesting en massamigrasie. In die proses verloor die Christendom sy stabiliserende vermoë, en keer die sondebok terug.

Migrante, minderhede, homoseksuele mense, die Ooste, die Weste, Islam, die Christendom, die Jode (sowaar weer!) en wie nog almal word deur vermenigvuldigende faksies en splintergroepe tot sondebokke gemaak, en almal word woedende slagoffers.

Die verskil, sê Girard, is dat die terugkeer van die sondebok ná Christus vandag kulture en groepe nie weer stabiliseer nie, maar net verder destabiliseer.

En dit bring ons by die politiek wat die afgelope tien jaar en meer wêreldwyd posgevat het. Wie vandag ’n verkiesing wil wen, doen dit deur diegene wat anders is, vir “ons” probleme te blameer. Die huidige presidente en premiers van Brasilië, die VSA, Brittanje, Hongarye, Turkye, Rusland en vele ander blink hierin uit.

In die geval van die Weste is dít ’n baie gevaarlike politiek. Die Weste se groot politieke probleem is dat sekularisasie die finansiële elites van alle idealisme gestroop het. Hierdie finansiële elites is die anonieme skenkers sonder wie geen politikus meer gekies kan word nie, en hierdie elites finansier slegs diegene wat hul belange verskans, ten koste van die middel- en onderklas.

Moet ons moed opgee, of alle hoop laat vaar? Allermins.

Reeds sedert die vroeë 1990’s stem al hoe minder mense in Westerse demokrasieë namate die ontnugtering met die stelsel van verteenwoordigende parlementêre demokrasie verdiep.

Die tendens is tydelik gestuit deur die opkoms van narcistiese politici soos Donald Trump en Boris Johnson, met die goue lepel in die mond gebore, maar wat voorgee om teen die finansiële elites te wees.

Trump en Johnson is statisties onder die oneerlikste politici in hul lande. Trump se strategie van die sondebok sal hom ’n tweede termyn as president besorg, maar wanneer die burgery agterkom hoe ook hy hulle verraai het, gaan ’n intens verdeelde land soos nooit tevore nie in opstand kom en net verder verskeur word.

Johnson dryf met sy fantasie van ’n imperiale Brittanje, wat lankal dood is, Ierland en Noord-Ierland tot hereniging of hernude burgeroorlog.

Hy is die beste bondgenoot waarvoor die Skotse onafhanklikheidsbeweging kon vra, en as dit so aangaan, word hy die premier wat die Britse unie finaal vernietig – met Engeland wat soos vóór die Empire alleen sal staan.

In Frankryk regeer ’n president wat slegs danksy massiewe steun van magnate aan die bewind gekom het. Sy party staan nie vir ’n idee nie, maar vir ’n persoonlikheid. Die gilets jaunes-beweging het ’n idee wat meer as twee eeue staan, naamlik dat die middelklas nie in opstand kom nie, op sy kop gekeer.

In al hierdie lande is ’n ekstreme gevoel van tuisteloosheid nou aan die orde van die dag.

Trump, Johnson en vele ander kan speel op die gevoel van tuisteloosheid om “die ander” wat “ons land wil vat” te demoniseer, maar hulle is lede van dieselfde elite wat hul samelewings so vervreem laat voel in hul eie lande. Moenie dink dat die middelklas minder ontheem voel nie – hulle wys dit (nog) net nie so duidelik soos die onderklas nie.

Verteenwoordigende parlementêre demokrasie leef op geleende tyd. Die internasionale stelsel van state en organisasies is nie meer legitiem of sterk genoeg om ons dodelik siek planeet te red nie.

Op ’n onlangse besoek aan Oostenryk en Frankryk het ek besef die wêreld word soos Suid-Afrika. Oral is die middelklas onder groeiende druk; neem argelose geweldpleging toe; groei die gaping tussen arm en ryk; staan regerings, universiteite en kerke onder die beheer van bestuurders wat klink en dink soos bemarkers.

Suid-Afrikaners wat dink jy kan Suid-Afrika verlaat, vergis hulle helaas. Suid-Afrika is nou oral.

Gesiglose netwerke van groot kapitaal is uiters goed internasionaal georganiseer, maar die netwerke van weerstand daarteen is nie, en dit sal vinnig moet verander.

Omdat die heilige ete van die Nagmaal waar ons saam eet en een word, al hoe minder mense aangryp, wink ’n zombiebanket waar ons mekaar eet en moor, in “reële” tyd op “sosiale” media verfilm en versprei.

Girard leer ons dat omdat diegene wat die Christelike openbaring aanhang misluk het, die apokalips aangebreek het. Apokalips beteken in die oorspronklike Grieks openbaring. Wie oë het om te sien, moet nou meer as ooit kyk na wat geopenbaar word.

So skryf Girard in sy laaste groot boek, die apokaliptiese Achever Clausewitz (2007, in Engels gepubliseer as Battling to the End): “Ons moet vandag veg teen ’n soort geweld wat deur niks meer beperk of bemeester word nie. Maar wat as die belangrikste nie is om te wen nie? Wat as die stryd belangriker as die oorwinning is?”

Tot die apokalips voltrek word en die lank beloofde nuwe aarde en nuwe hemel aanbreek.

* Prof. Johann Rossouw doseer filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.