Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Johann Rossouw: Erken (en genees) die God-wond

Oor die afgelope twee dekades of wat is navorsing oor die brein gedoen wat bevestig wat ons al lankal uit ander bronne weet – die mens kan nie leef sonder die geloof in iets hoërs nie.

Die ondersoek van die areas van die brein wat met geloof te make het, het daarop uitgeloop dat die verwysing ontstaan het na die brein se “G-kol”, hoewel dat die “God-kol” van die brein inderwaarheid meer as een area van die brein betrek.

Doodgewone gesonde verstand en waarneming van die menslike toestand wys ook vir ons dat mense nie sonder die geloof in iets hoër kan klaarkom nie, al is dit dan nou net ideale.

Selfs die verbintenis daartoe om alle idealisme en gelowe as “vals” te “ontbloot” is natuurlik self ’n vorm van idealisme, want waarom sal jy anders probeer om mense van hierdie “waarheid” te oortuig as ons bloot “net nog ’n dierespesie” is?

Een van die gevolgtrekkings wat hieruit gemaak kan word, is dat om ’n ideaal te verloor waarin ’n mens eens geglo het, ’n traumatiese verlies is.

As jy ook nog kom uit ’n idealistiese kultuur, soos byvoorbeeld die Afrikanerkultuur, is so ’n verlies nog meer traumaties – niemand is meer sinies as ’n ontnugterde idealis wat nog nie van sy verlies herstel het nie, al is dit dan nou bloot deur jou te verbind tot die ideaal van wraak op jou vorige ideaal.

As ons oor ideale praat, is dit moeilik om te dink aan groter ideale as die van geestelike en filosofiese tradisies, byvoorbeeld die waarheid vir Plato, verligting vir die Boeddha, of vergoddeliking en verlossing vir die Christendom.

Ewe min as wat die Afrikaners sonder hul idealisme voorgestel kan word, ewe min kan ons sonder die Christelike tradisie voorgestel word. So gesien, is dit vir ’n Afrikaner in die besonder traumaties om sy of haar eertydse Christelike geloof te verloor.

Mense kan nie sonder geloof in iets hoër klaarkom nie.

Geloof en geloofstradisies is natuurlik nie tydloos en verhewe bo kulturele, politieke, maatskaplike en ander kragte nie. Terwyl Afrikaners van meet af in ons geskiedenis gelowig was en diep gevorm deur die Christelike tradisie in ons idealisme, en terwyl hierdie tradisie ook deur voorgenoemde kragte beïnvloed word, is dit ’n besonder interessante vraag wat met die Afrikaners en ons geloof gebeur het ná die prysgawe van staatsmag in 1994.

Die punt is al meermale gemaak dat ofskoon die Afrikaners ontstaan het uit die Westerse tradisie in die Afrika-konteks, het ons nie noodwendig in alle opsigte die afgelope twee eeue of wat dieselfde neigings as die Westerse wêreld vertoon nie, of het ons dikwels Westerse idees en instellings op ons eie manier in ons plaaslike konteks toegeëien.

Een voorbeeld hiervan is dat die groeiende skepsis wat ná die sogenaamde Verligting aan die einde van die 18de eeu in Europa oor geloof begin posvat het, vir alle praktiese doeleindes eers ná 1994 ’n groot tema onder Afrikaners begin word het.

Ons kan bespiegel dat die groeiende politieke onsekerheid waarmee Afrikaners ná 1994 gelaat is, ook gelei het daartoe dat baie Afrikaners hul geloofsekerhede begin bevraagteken het, en selfs daarvan afstand gedoen het.

Ons kan ook bespiegel dat die ontnugtering waarmee baie Afrikaners oor die drie susterskerke se eertydse steun vir apartheid gelaat is, ook ’n rol in die afstanddoening van hul geloof gespeel het.

Nog ’n faktor is sekerlik die teologiese verstardheid en dwang wat veral in die 1970’s en 1980’s tekenend van Afrikanergeloofsbeoefening geword het, namate die hoofstroomkerke hulleself geroepe geag het om onderdanigheid aan die apartheidstaat in die hand te werk, soos beskryf deur die destydse grappie dat die NG Kerk eintlik die Nasionale Party in gebed is.

Ná 1994 het debatte oor Skrifgesag en seksualiteit – veral homoseksualiteit – tot enorme twiste, verwarring en bontpratery in kerklike kringe gelei, dikwels met ontsettende psigiese skade aan lidmate wat nou deur die kerk verwerp gevoel het.

Die heftigheid waarmee sommige Afrikaners oënskynlik vandag nog op hul geloofsverlies en teen die kerk reageer, noop ’n mens bykans om te praat van ’n Godwond – ’n letsel van ’n ontsettende verlies wat net nie wil genees nie, sodat die versoeking om die wond te vertroetel altyd daar is.

Hierdie verskynsel het mettertyd ná 1994 ’n teenhanger ontwikkel – terwyl sommige Afrikaners op geloofsonsekerheid reageer het deur hul geloof op te gee, het ander die onsekerheid probeer besweer deur totaal fundamentalisties en onbuigsaam daarmee om te gaan.

In dié geval word mense vertel hulle moet blind glo “soos ’n kindjie”, moet die Bybel gelees word as die historiese dokument wat dit nie is nie, en hang die individu se lot af van “hoe sterk jou geloof is” – as dit nie “sterk genoeg” is nie, gaan God jou gewis “beproef” en “louter” met persoonlike verliese en “strawwe” om jou te “leer” om “sterker” te glo.

Een van die groot intellektuele prestasies van die Christendom was om geloof en rede te balanseer.

Dit gebeur dikwels dat wanneer mense se geloofsekerhede versteur word, hierdie balans ook versteur word, en dat mense dan óf die rede óf geloof verabsoluteer – altyd ten koste van die een of die ander.

In filosofiese taal praat ons van rasionalisme en fideïsme – en kan ons sê dat rede sonder geloof bloedarmoedig raak, terwyl geloof sonder rede irrasioneel en dikwels manipulerend raak.

Een van die ergste intellektuele rampe wat die Afrikaners ná 1994 getref het, is dat die rasionaliste en die fideïste se geveg met mekaar vandag die gesprek oor geloof, asook oor geloof en die wetenskap, oorheers.

Die rasionaliste met hul blinde geloof in die rede en die wetenskap bestorm die irrasionele fideïste donderend en hou dié karikatuur van die Christendom voor as tekenend van hoe agterlik en manipulerend die Christendom dan nou kwansuis sou wees.

Die fideïste met hul blinde haat teen die rede bestorm die rasionaliste met hul Godwond en hou dié onsimpatiek voor as goddeloses wat tekenend is van alles wat met die moderne wêreld en sy verwerping van God verkeerd is.

Om ’n redelike bemiddeling tussen die twee getraumatiseerde groepe na te strewe, is waarskynlik ’n tevergeefse hoop, want wie sy of haar onverwerkte onsekerheid met luidkeels verkondigde sekerhede probeer verdoesel, het nog nie eens begin met die werk van rou oor wat verloor is nie.

Menslik gesproke sal dit hopelik help om te begin met ’n veel eerliker gesprek as tot dusver oor wat die oorgang van 1994 aan Afrikaners se geloofsekerhede, teologiese opvattings en aanbiddingspraktyke gedoen het.

Miskien as alle belanghebbendes hierby sodoende begin om mekaar se Godwond te verbind, miskien dan kan ons nugterder oor God, die rede en die geloof praat, en onsself toelaat om weer te verlang na dit wat verloor is.

Soos ’n mens ná ’n liefdesteleurstelling weer kan lief hê, so kan jy ná die opdoen van ’n Godwond weer sowel die rede as die geloof waardeer as die wond eers erken word – so nie, sal die wond bly praat.

*Prof. Johann Rossouw doseer filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat.

Meer oor:  Johann Rossouw  |  Godsdiens  |  Plattegrond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.