Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Johann Rossouw: Het jy geweet? Géén van ons voel tuis-tuis

‘Die teerstraat hou abrup op en die straatvlak is nou net gruis, eeue laas geskraap met diep uitgetrapte spore en sandwalle op die skouers vol verdorde kakiebos en ou oliebome.

“Was dit veel anders toe hy as kind hier saam met sy ouers gery het? Hy herken van die geboue, onthou soms die naam van iemand wat jare terug gebly het op ’n erf waarop daar hoenders was en ’n bobbejaan aan ’n paal. Toe hy weg is stad toe, het hy nie meer saam met sy ouers gaan kuier nie. Dit is toe dat die mense vir hom vreemd begin word het. Nou is alles wat hy geken het, besig om te verval en te verword en tot niet te gaan.”

Aldus ’n beskrywing van die waarnemings van dr. Gustav van Aardt, die hoof­karakter in Francois Smith se briljante nuwe roman, Die kleinste ramp denkbaar.

In die sinne hierbo aangehaal skets Smith deur die oë van ’n Afrikanerman van iets in die 50 dié se ervaring van die verval en verlies wat so eie aan die eietydse Suid-Afrika geword het.

In die geval van Van Aardt gaan dit om ’n man wat min of meer om die oorgang van 1994 redelik impulsief besluit het om terug te keer na sy tuisdorp, na sy tuisdistrik, waar hy as enigste kind van welvarende boere grootgeword het.

Ofskoon Van Aardt professioneel floreer en ’n mate van aansien as die dorpsdokter geniet, is hierdie 27 jaar tegelyk jare van voortgaande verval en verdiepende verlies – sowel op die persoonlike vlak as in sy omgewing. Met groot vernuf beeld Smith Van Aardt se poging om sin te maak van ’n onverklaarbare gebeurtenis uit as inderwaarheid die poging om sin te maak van sy eie lewe in sy eie plek, ’n plek wat hy algaande verloor het sonder dat hy dit besef het.

Stedelinge, soos Smith opgemerk het in ’n onderhoud met my, is in ’n mate afgeskerm teen die verval, maar as jy in die Vrystaat woon, word jy op ’n daaglikse basis in die gesig gestaar deur die verval – die bedelaars wat op straat vermeerder, honger kinders en brandsiek honde wat doelloos deur stofstrate dwaal, ’n stuk rommel op die sypaadjie voor jou huis wat netso wel die merker van ’n beplande huisbraak kan wees.

Waar hoort ’n mens as jou huis voor jou gekaap word?

Só gesien, is die Vrystaat en die grootste gedeelte van die platteland buite die Wes-Kaap nie net ver voor stedelike Suid-Afrika nie, maar trouens ’n omgewing waarin die vraag ontstaan: Waar behoort ’n mens dan as jou huis voor jou oë gekaap en leeg gesteel word en stuk-stuk vir hawelose mense se desperate huisbouery weggedra word?

Daarby eindig dit nie: Die lewe in só ’n omgewing konfronteer jou op ’n daaglikse grondslag met wat miskien die brandendste politieke vraag van ons tyd is – waar hoort ons?

Die vraag tref ons almal vandag in die eerste plek soos wat elke nuwe bosbrand, sikloon, droogte, gesmelte gletser of gestroopte renoster ons daaraan herinner dat die toekoms van ons almal se huis vandag bitter onseker is.

Die vraag tref ons ook vandag omdat die huidige vorme van kapitalisme en die nasiestaat doodeenvoudig nie meer daarin slaag om mense tuis te laat voel nie.

Op ’n Kaapse strand in die 1960’s. Foto: Getty Images

Hierdie algemene gevoel van tuisteloosheid word heel ironies dikwels die duidelikste wanneer tuistelose migrante en burgers wat voel die migrante bedreig hul tuiste mekaar magteloos aangluur.

Wanneer daar nie ’n toekomsdroom beskikbaar is om die gevoel van tuisteloosheid in die hede te besweer nie, is dit onvermydelik dat mense op sleeptou geneem sal word deur politieke smouse wat ’n mitiese goue verlede voorhou en weer wil “herstel”.

Dit is bloot menslik en trouens selfs terapeuties om jouself toe te laat om te verlang na wat verby is, soos Smith se hoofkarakter, Van Aardt, ook oplaas agterkom wanneer hy in ’n roerende toneel letterlik op die draad tussen die verlede en die hede sit.

Dog, wanneer hierdie verlange uitgebuit word om mense polities te mobiliseer, kan dit nie anders nie as om te lei tot die toksiese, populistiese politiek wat deesdae die toon aangee en waarin sterkmanne van vlambare papier en hul ontheemde volgelinge mekaar beskreeu en bedreig.

Omdat geen mens sonder ’n tuiste kan leef nie, sou ’n ander soort politiek moes begin by ’n nuwe proses van tuisteskepping. In Smith se roman word dit aangrypend uitgebeeld deur ’n onverwagte gids, wat Van Aardt in die slotgedeelte van die roman terug na die hede begelei deur te begin met ’n verwerking van die verliese van die verlede. Ja, ook die private pyn van ’n gewonde geneser maak saak en moet genees word deur ’n ander as hyself dat dinge weer sin maak en hy kan tuiskom.

Daar is vandag geen grootskaalse kitsoplossings vir die woedende politiek van tuisteloosheid nie. Wat daar wel is, is die moontlikheid om – saam met die vervreemdes en ontheemdes van jou omgewing – van jou plek weer ’n tuiste te maak, ’n plek waar julle aan mekaar ’n tuiskoms gee. Of dit nou is in die vorm van buurtwagte, inwonersverenigings, geloofsgenootskappe of watter ander vorms van samewerking ook.

Dit is ook raadsaam om jouself daaraan te herinner dat niemand in hierdie land vandag heeltemal tuis voel nie. En ook daardie onsekerheid van jou tuiste en jou plek is nie ’n slegte ding nie, want dit daag jou om effens versigtiger met jou eie sekerhede en die sekerhede van ander om te gaan. Ons het dus geen keuse nie as om te bly onderhandel vir wie ons is en wie ons wil wees, en waar op aarde kry jy nou ’n skeppender alledaagse toestand as dit?

Om jou daartoe te verbind is om reeds die reis na ’n nuwe tuiste aan te pak. En die feit bly staan dis makliker om op klein skaal ’n tuiste te bou, en daarvandaan hande te vat met ander wat ook op hul plekke weer tuisgekom het. Só bou ons nuwe bondgenootskappe op reis na ’n ander soort mark en staat as die uitgediende vorms wat voor ons oë meegee.

Dit is die lang pad vorentoe, weg van die kortpad van blindelings terugvlug na ’n verlede wat nooit bestaan het nie. 

* Prof. Johann Rossouw doseer filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat.

Meer oor:  Johann Rossouw  |  Plattegrond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.