Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Johann Rossouw: Hier’s die revolusie wat SA kort

Suid-Afrikaners was laas in die 1980’s so onseker soos nou. Ons redding was toe die burgerlike samelewing wat die politici gelei het om nuwe bondgenootskappe ter wille van die toekoms te smee. En dis presies wat nou moet gebeur. Suid-Afrika het vandag ’n interessante probleem – hoe om ons oorvloedige bronne reg te gebruik. Die probleem word goed geskets in Pieter du Toit se boek The Stellenbosch Mafia oor ’n groep meesal welwillende Afrikaners ná 1994, die uitstaande groep Stellenbosse sakelui wat deur politieke boewe soos Julius Malema as ’n “mafia” beskryf word.

Daar is al baie gestry oor wat ’n Afrikaner is. My antwoord is eenvoudig: ’n Afrikaner is ’n idealis.

In die Afrikaners se geskiedenis kom ons grootste suksesse en ons grootste mislukkings uit ideale wat geslaag of misluk het. Suksesse soos die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog is ingegee deur die ideaal om vry te wees – nes mislukkings soos apartheid gebore is uit die ideaal om nooit weer ons vryheid te verloor nie . . .

Hermann Giliomee skryf die Afrikaners se geskiedenis word gelei deur die motief van oorlewing. Wie konstant uitgedaag word om te oorleef, moet dink en planne maak, en daardie planne moet gestalte kry in ideale wat met konkrete stappe uitgevoer word.

Du Toit vertel in sy boek hoe ’n eerste geslag Stellenbosse sakelui onder leiding van Anton Rupert, besiel deur die ideale van selfstandigheid en selfrespek, ’n fenomenale sakeryk gevestig het. Sy idealisme is na sy seun, Johann, oorgedra, wat sy sakeryk met onberispelike etiek bestuur, nog nooit ’n sent uit die land geneem het nie, hom nie blink hou nie, en die grootste persoonlike belastingbetaler in die land is.

(Enigeen wat graag kla oor hoe sy belastinggeld vermors word, kan gerus kyk na Johann as voorbeeld van iemand wat ondanks die vermorsing doelgerig aanhou planne maak en presteer.)

Die voorbeeld van die eerste geslag Stellenbosse sakelui het ’n tweede geslag geïnspireer. Mense soos GT Ferreira, Jannie Mouton en Michiel le Roux, wat onderskeidelik FNB, PSG en Capitec van niks af opgebou het om vandag miljoene Suid-Afrikaners te bevoordeel.

Capitec is ’n merkwaardige verhaal van hoe ’n groepie Afrikaner-idealiste hul deel gedoen het om ter wille van ’n beter toekoms miljoene Suid-Afrikaners wat onder die immorele apartheidsbestel nie as “bankbaar” beskou is nie, toegang tot SA se wêreldleidende bankstelsel te gee.

‘Ons behoort deur een enkele ideaal gelei te word . . .’

Daar is ander soortgelyke postapartheid-sakesuksesverhale van Afrikaner-idealiste, soos die Atterbury-groep onder leiding van die nederige Francois van Niekerk, wat vandag waarskynlik Afrika se grootste individuele filantroop is. Toe die stigters van Atterbury in die vroeë 1990’s gaan aanklop het vir kapitaal by die Nywerheidsontwikkelingskorporasie, het hulle weens hul velkleur ’n bloutjie geloop. Hulle het in geloof eenvoudig voortgegaan en so suksesvol geword dat die einste korporasie glo later voelers na hulle uitgesteek het om met kapitaal te help . . . Dog, Du Toit se boek vertel nog ’n verhaal waarmee baie welwillende Afrikaners ná 1994 kan identifiseer, naamlik van ’n regering wat nie met hulle wil hande vat om saam te werk aan ’n beter toekoms nie. Hierdie sakelui word eerder swartgesmeer. Ondeurdagte uitsprake en beleide ondermyn sakevertroue, wat die sakesektor se vermoë wegkalwe, en so weer die belastingbasis verklein. Praat van die tak afsaag waarop jy sit . . .

Dit is dus geen wonder nie dat ’n gevoel van verwerping deurskemer by vele van hierdie sakelui. Hoe nou gemaak?

Die antwoord lê in die bou van ’n nuwe bondgenootskap buite die partypolitiek om. Dis ou nuus dat die werklike besluite in SA nie in die parlement geneem word nie. Voorts is die meeste opposisiepartye in amper ’n vrotter toestand as die ANC. Die rede hiervoor is dat die meeste politieke partye nog ontstaan het uit die stryd teen Britse kolonialisme en apartheid.

Dink mooi daaroor: Nie een nuwe politieke party wat werklik ’n nuwe toekomsvisie vir alle Suid-Afrikaners verteenwoordig, is al ná 1994 suksesvol gestig en bedryf nie.

As ons so ’n nuwe beweging wil sien, wat miskien ook uiteindelik ’n nuwe party kan word, moet ons ’n paar werklikhede onder oë sien.

In die eerste plek het die twee invloedrykste politieke partye van die 20ste eeu, naamlik die NP en die ANC, elkeen ontstaan eers nadat betekenisvolle bondgenootskappe tussen burgerlike groeperinge met ’n gedeelde visie ontstaan het. Vir die NP was dit byvoorbeeld ’n bondgenootskap tussen Afrikanerboere en arm, verstedelikte Afrikaners.

Ons fokus moet dus nie op politieke partye wees nie, maar op burgerlike vennote wat kan saamspan. Aan die hand van ’n uitstekende ontleding wat Moeletsi Mbeki van die SA maatskaplike struktuur gedoen het, is die volgende groeperinge vandag uitgesluit uit die ANC-geleide bedeling: die sakesektor, die beroepslui, die intelligentsia en, les bes, die arm onderklas van nagenoeg 60% Suid-Afrikaners.

(Moenie jou aan hom steur nie)

Elders het ek en Mbeki al gepleit dat die landbousektor die voertuig kan wees om so ’n nuwe bondgenootskap tot stand te bring. Al die groeperinge eet danksy die landbousektor, terwyl die bankwese, die vervoerbedryf, die kleinhandel en vele ander almal regstreekse belang by landbou het. Daarom het ons kommersiële landbou al in 2016 begin aanmoedig om te vergeet van die ANC (wat nie belang daarby het dat grondhervorming slaag nie, want elke suksesvolle swart boer en sy familie gaan nie meer ANC stem nie), en eerder hul eie grondhervormingsfonds tot stand te bring.

Skynbaar is al ver hiermee gevorder.

Tweedens het die Vrystaatse mikro-ekonoom Frederick Fourie en andere aangetoon dat die informele ekonomie ’n reusebydrae tot werkskepping en selfstandigheid lewer. As ons maniere kan vind om van die meer as R500 miljard wat die top-50-maatskappye op die Johannesburgse Effektebeurs nie belê nie, na hierdie informele ondernemers te gelei, kan ons ’n ware revolusie van welwillendheid tot stand bring.

Derdens is dit wesenlik om te sien waarom SA nie lankal in vlamme opgegaan het nie, naamlik omdat gewone mense in hierdie land ondanks die waansinnige politieke beleide van meer as ’n eeu geleer het hoe om in die alledaagse lewe saam te werk.

Dit is hierdie alledaagse intelligensie van die burgery wat miskien ons grootste bate is.

Vierdens behoort die wagwoord nie eenheid te wees nie, maar samewerking. Toe Giliomee, Johan Degenaar en andere die ANC in die vroeë 1990’s gewaarsku het teen “nasiebou” en “nasionale eenheid”, is hulle verketter.

Wel, vandag weet ons dat eenheid volg op samewerking, en nie andersom nie, nes in ’n huwelik. Wanneer twee mense trou en daar verklaar word hulle twee is nou een, moet hulle eers ’n paar sakke sout opeet voor die eenheid ’n werklikheid word.

Daarom, as ons werklik ’n nuwe bondgenootskap en selfs ’n nuwe party wil sien, behoort ons deur een enkele ideaal gelei te word, naamlik die ideaal van samewerking. Al wat skynbaar vandag in die pad van so ’n nuwe bondgenootskap staan, is nie ’n tekort aan bronne, planne of welwillendheid nie, maar eenvoudig die dieet van wanhoop waarvan ons leef omdat al ons aandag op die mislukte regering en die mislukkende opposisie gerig is.

En as nog een mens op my skouer kom huil oor die oorbeligte, tienpersentpartytjie van die EFF, gaan ek sweerlik ’n koronêr skiet. Daar’s werk om te doen. Laat ons die oorbeligte narre vergeet, en hierdie land saam met mekaar van onderaf boontoe verander.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.