Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Johann Rossouw: Hoe laat ons apartheid se spook rus?

Van spoke het die oudstes gesê dit is siele wat om die een of ander rede nog nie rus kon kry nie. Wie nie meer die spook wil sien nie, moet die spokende siel help om rus te kry.

So skyn dit ook met apartheid te wees — ’n siel wat net nie rus kan kry nie, en elke nou en dan weer verskyn om ons te teister.

Waarom kan die siel dan nie tot rus kom nie?

En gee die spook ons miskien tóg nog iets?

Om die rusteloosheid van dié siel te verstaan, moet ons dalk begin by die begrip van ’n maatskaplike orde. ’n Maatskaplike orde is nagenoeg die gedeelde aannames van ’n samelewing of gemeenskap oor die werklikheid, oor wie ons is, oor wat reg en verkeerd is, oor waar ons inpas, oor waar ons plek is.

’n Samelewing kan nie onbepaald onstabiliteit hanteer nie.

So gesien, was apartheid ongetwyfeld ’n maatskaplike orde, hoewel ’n bisarre een waarin ons as samelewing byeen gehou is deur die siening dat ons apart hoort. Wie tydens die apartheidsbedeling in Suid-Afrika gewoon het, sou al bogenoemde gekry het, veral waar ons plekke was.

Maatskaplike ordes is natuurlik nie tydloos nie en dikwels raak hulle omstrede en word hulle selfs omvergewerp. Dit is inderdaad ook hoe die anti-apartheidstryd verstaan kan word – ’n suksesvolle versetbeweging teen ’n maatskaplike orde wat uiteindelik daardie orde ten minste amptelik omvergewerp het.

Ek sê ten minste amptelik, want ’n ander kenmerk van maatskaplike ordes is dat selfs nadat hulle omvergewerp is, hul oorblyfsels nog lank daarna met ’n samelewing kan wees, sê maar opvattings oor ras of taal.

Dit is ook onvermydelik: As ’n mens ’n nuwe maatskaplike orde wil oprig, het jy geen keuse as om te werk met wat jy geërf het nie – oorgelewerde idees; instellings soos die staat, die onderwysstelsel, die private sektor, die burgerlike samelewing; en so meer.

Dit in sigself is nie problematies nie. Die eintlike probleme begin indien jy nie daarin slaag om mettertyd ’n stabiele nuwe maatskaplike orde te bou wat ’n sigbare verbetering op die vorige een is nie.

Een van die redes hoekom dit ’n probleem is, is dat geen samelewing onbepaald onstabiliteit kan hanteer nie – en veral nie as die samelewing psigies diep geskaad is deur die vorige maatskaplike orde nie.

Die wonde van ’n vorige orde genees gouer met die skepping van ’n nuwe orde; gebeur dit nie, bly die wonde sweer.

Hiervoor hoef ons maar net te kyk na die heftige en dikwels geweldige emosies wat telkens openbare debatte oor apartheid kenmerk.

Hierdie reaksies is so heftig omdat elke keer wanneer apartheid ter sprake kom, dit almal in hierdie land herinner aan ons heel grootste verlies, naamlik ons gedeelde toekomsdroom.

Ons is van vooraf woedend omdat ons nog steeds nie ons nuwe plekke kon vind nie en dan is die versoeking groot om weer psigies na ons ou bekende plekke terug te vlug en mekaar van oor die ou afstande heen te begluur.

’n Gedeelde toekomsdroom is soos ’n rolprentskerm waarop ons almal ons beste verwagtinge kan projekteer om saam ’n nuwe rolprent te maak.

Geen samelewing kan ook sonder vorme van gemeenskaplikhede bestaan nie. Die aaklige waarheid is dat solank die rolprentskerm van die toekoms ons bly ontwyk, ons in ons verwondheid teruggedwing word na die gehawende rolprentskerm van die laaste rolprent waarin ons almal spelers was, naamlik apartheid. Selfs diegene wat ná apartheid gebore is, word gedwing om te luister hoe mense oor die rolprent praat.

En tog, op ’n perverse manier is hierdie gemeenskaplikheid rondom apartheid miskien ook ’n bron wat ons kan help om weer terug te draai en vorentoe te kyk terwyl ons saam ’n nuwe rolprent probeer maak. Hoe sou dit dalk kon werk?

Om mee te begin, kan ons vir mekaar sê dat ongeag hoe apartheid op die morele skaal beoordeel word – ’n misdaad teen die mensdom, ’n mislukte idealisme, ’n rasnasionalisme – dit stelselmatig die mense van hierdie land daarvan weerhou het om opbouende verhoudings met mekaar te vorm.

Wanneer ’n stelsel mense van hul natuurlike neiging tot samewerking en verhoudings met ander mense weerhou, is dit diep verontmenslikend. In hierdie sin het apartheid sowel sy bevoordeeldes as sy benadeeldes psigies en sosiaal misvorm.

Dit is een van die redes waarom ons in hierdie land so universeel dankbaar is en juig as seldsame oomblikke van normaliteit in ons samewerking en onderlinge verhoudings voorkom – sê maar gevestigde en opkomende boere wat saamwerk, of ’n nasionale sportspan wat presteer.

Johann Rossouw

Terwyl die huidige bedeling steeds nie aan die verwagtinge voldoen nie, en ons steeds weens partypolitieke opportunisme en rasgegronde wetgewing daarvan weerhou word om mekaar normaal te ontmoet en verhoudings te ontwikkel, bly apartheid ’n spook wat net nie tot rus kan kom nie, wat ons weer herinner aan hoe gestremd ons gelaat is – en gehou word.

Maar hierdie herinnering kan ons ook oriënteer op die weg na normalisering, na saamwees en saamwerk. Dis nie altyd ’n maklike las om te dra nie, maar wat is ons sonder ons bagasie?

Die wyses waarop die vorige en die huidige bedeling ons steeds daarvan weerhou om normaal saam te werk, tesame met die natuurlike verlange na verhoudings met ander, kan nie anders nie as om mense op voetsoolvlak in die alledaagse lewe júis ’n verskerpte bewustheid van mekaar te gee.

In my eie lewe in die geliefde, gehawende stad waar ek woon, gaan daar weens die spook van apartheid nie ’n dag verby wat ek nie opgeroep voel om élke persoon wat anders as ek lyk versigtig te bekyk nie, versigtig te vra wie hierdie mens voor my is, hoe ons saam kan gaan op die trek na die ruimte tussen mense, waarvan Dana Snyman skryf.

Elke keer wanneer ek en ’n persoon wat anders as ek lyk, bloot saam oor iets kan lag of kwaad word, of wanneer so ’n persoon kom dankie sê vir wat sy in my klas kon leer, of ék vir wat ek by háár kon leer, elke keer verbeel ek my dan ek sien die spook van apartheid rustiger raak, nog ’n treetjie nader aan die rus waarna die rustelose siel verlang.

Dan word ek telkens herinner dat begrippe soos Afrikaner, Afrikaans, Afrika, swart, bruin en vele meer eintlik slegs sin maak as hulle sáám eerder as apart gedink word.

Want wie het ons anders as mekaar?

* Prof. Johann Rossouw doseer filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat.

Meer oor:  Johann Rossouw
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.