Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Johann Rossouw: Om weer te leer sing

Dis iewers in die nanag, hoe laat weet ek nie, want ons is hier in ’n tydloosheid wat woorde eggo uit ’n 17 eeue oue teks aangaande een “gebore . . . voor alle tye”.

Soos hiérdie staat van tydloosheid dáárdie een eggo, so eggo swartgeklede, bebaarde sangers in kore weerskante van die waarnemer mekaar.

Silhoeët op silhoeët harmonieer hulle staande in twee kringetjies rondom twee kolle lamplig oorkant mekaar. “Lig uit Lig”, lig op lig, eggo op eggo.

Ek slaan my oë op na die duisendjarige koepel, maar die lig is te min om die geskilderde figure daarop uit te maak.

Ek slaan my oë af en sien nog bebaarde, swartgeklede figure wat onder die sang met ellelange stokke een vir een kerse in die lug aansteek, sodat die groot vergulde wiel wat aan die koepel hang en waarin die kerse gemonteer is, geleidelik sigbaar word.

Wanneer die laaste kers op die vergulde wiel aangesteek is, wanneer die tallose engele, heiliges en ook die menslike vorm waarin God verskyn het, op die koepel verskyn, stoot die kersaanstekers die wiel heen en weer totdat dit ritmies ’n sirkelgang binnegaan, ’n sirkelgang wat die samekoms van hemel en aarde eggo soos eens vergestalt in die god wat ’n mens geword het.

Die “roerlose spieël van die Middellandse See”.

Later sal ek woorde soek vir die belewenis, maar nou kan ek slegs die woorde eggo wat die swartgeklede bebaardes singend aan my oordra. Ek is dankbaar ek kan die oorlading van my siel deur soveel skoonheid begin verlig deur die kore te eggo – soms deur woordeloos met hulle te harmonieer, soms deur die herkenbare woorde ook in mý mond te neem: Kyrié eleison, Kyrie éleison, Kyrié eleison . . .

Ja, voordat ek nog hieroor kon praat, moes ek sing.

Turend oor die roerlose spieël van die Middellandse See, dink ek die volgende oggend hieroor en wonder oor diegene wat ontnugter in my land “so ver en woes geleë” sê “ons benodig nuwe maniere om oor God te praat”.

Hoe word woorde dan so oorskat wanneer dit oor die Woord gaan?

Vanwaar dié versugting? Omdat die maniere waarop in daardie land oor God gepraat is as geyk, gestroop, geledig en ontdaan van alle waarheid beleef word – vir party omdat hoe oor God gepraat is nietig gemaak is deur dieselfde sprekers se steun aan ’n immorele bestel; vir ander omdat die wetenskap ons onherroeplik anders na die skepping en Skepper laat kyk en daaroor praat.

Natuurlik skort niks met die oproep om op nuwe maniere te praat oor dit waaroor ons nooit uitgepraat kan raak nie, selfs al neem die gepratery die vorm van nuwe ateïsmes aan – nes daar ontelbare maniere is om die Onuitspreeklike te erken, so ook ontelbare maniere om dit te ontken.

Die probleem lê elders, naamlik in die aanname dat wat bepalend is die maniere is waaroor ons oor God praat. Oftewel die aanname dat om weer in die Bron van Taal te glo, in dié een wat “in die begin die Woord” was, afhang van hóé ons oor die Bron praat. Hoe word woorde dan so oorskat wanneer dit oor die Woord gaan?

Omdat soveel van ons verleer het hoe om daaroor te sing. Om daaroor te sing? Vanwaar Gehasi?

‘As die laaste kers aangesteek word, verskyn die menslike vorm van God op die koepel.’

Om dieselfde rede as dat die teken van ’n geslaagde bevalling die eerste lewenskreet van die nuweling is. Voordat ons kan praat, weet ons al hoe om met ’n hele spektrum van geluide op die oorweldigende werklikheid te reageer – vanaf die tevrede steungeluidjies waarmee moedersmelk gesluk word, tot die keel wat ons opsit wanneer ons honger, dors of moeg is. Dit is dinge waarvan ons allereers liggaamlik en sintuiglik bewus word, dinge waaroor ons sing voordat ons nog daaroor kan praat.

Namate ons leer praat, verleer ons dikwels hierdie insig. Ons leer die woord oorskat en, ja, verval dikwels ook in geykte segswyses. Die één ervaring wat ons wel herinner dat ons eers oor die wêreld sing voordat ons daaroor praat, is dié van verlies en trauma. Groot rolprente en romans beeld hierdie gewaarwording van die getraumatiseerde dikwels uit deurdat die getraumatiseerde ’n weeklag aanhef wat, so sê ons, deur murg en been sny.

As dit dan met die aardse tydsbestel so skyn te wees dat hoe ons daaroor sing ’n oerkwaliteit bevat wat ons almal instinktief kan eien, en dat ons almal so moet leer sing voordat ons kan praat, hoekom sal dit anders wees met die dinge van die tydlose? Hoekom sal ons nie oor en oor singend die vergulde wiel se sirkelgang dankbaar gadeslaan nie?

Turend vanaf die Heilige Berg oor die Middellandse See wonder ek of die oorskatting van taal en van “nuwe maniere om oor God te praat” is omdat party mense van daardie verre land en van die taal wat soos ’n woestynroos uit daardie woeste leegte gegroei het, nooit in die eerste plek leer sing het nie. Nooit aanskou het hoe die vergulde wiel deur sy sirkelgang wieg nie, nooit geleer het dat nog voordat ons leer praat, ja, nog voordat ons leer síng, is daar die stilte.

Nuwelinge wat die eerste lig aanskou, kom voort uit die gemeenskap tussen twee mense in ’n woordelose beswyming – wat die stilte eggo waaruit die een “gebore uit die Vader voor alle tye” en alle ander dinge in hierdie heelal kom.

En keer ons nie terug tot hierdie stilte wanneer ons siele so oorlaai is van skoonheid óf van afgryse dat ons nie meer kan sing of praat nie?

As ons nie eerstens nuwe maniere benodig om oor God te praat nie, maar eers (weer) moet leer sing, hang dit nie af van die vorme waarin ons aanbid, van die liturgie, nie?

En as die skone vorme in 2 000 jaar selde indien ooit oortref is soos ons dit vind op daardie beskilderde koepel, in daardie geharmonieerde gesange wat die monnike daardie nanag op die Heilige Berg Athos gesing het, in die ontbyte om die eeue oue kliptafels wat volg op die inname van die Mistiese Liggaam en Bloed van die Onuitspreeklike, waarom sal ons nuwe aanbiddingsvorme probeer skep?

Want daar ís diegene wat torring aan die vorme, wat die brood en die wyn vervang met skyfies en Coke, gestroop van die oeroue gebede en die betraande inkering van die aanbidder wat verlang na die mistiese voedsel en drank.

Om so aan die vorme te torring, is om te ly aan die illusie dat die alledaagse in ’n ontnugterde wêreld nou die oortuigingswerk moet doen, terwyl die misterieuse vorme dit vandag nog sterker as ooit in hierdie ontnugterde wêreld doen – juis omdat dit getuig van iets wat selfs die mees ontnugterdes moet roer.

’n Dag later groet ek die singende, biddende monnike onder daardie 100 jaar oue koepel. Voor my vertrek deel ’n bejaarde monnik met die krag van ’n leeu en die gees van ’n engel, Vader Konstantyn, my mee dat ek binne die jaar ’n bedienaar van die oeroue vorme sal word.

Sy woorde is beliggaam met my priesterwyding op die 24ste Maart, die dag waarop die heilige Gregorius Palamas, my gunstelingheilige en die groot voorstander van die stilgebed, geëer word.

Is dit alles fiksie, soos wat Yuval Noah Harari in Sapiens (2015) beweer? Ongetwyfeld, ja. Dog, dit is ook onweerstaanbaar – want die beste fiksie is tydloos omdat dit die waarheid vertel.

*Prof. Johann Rossouw doseer filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.