Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Johann Rossouw: Só kan ons SA se pyn versag

Ons sal mekaar sáám van die koloniale wond moet genees, en dit met samewerking moet verander.

Ondersteuners waai Maandag in Kaapstad vir hul Springbok-helde. Foto: Getty Images

Minute ná die Wêreldbeker-eindstryd stuur ’n Suid-Afrikaanse vriend van Indiese afkoms vir my ’n meme – ’n forse Siya Kolisi met die woorde NOT TODAY COLONIZER.

In die week ná die Bokke se roemryke vertoning word die openbare beskermer se bevinding dat Helen Zille se twiets oor kolonialisme “geweld op grond van ras kan aanstook” deur ’n waarnemende swart regter gehandhaaf.

In dieselfde uitgawe waarin Rapport oor die uitspraak berig, spreek Helen Zille haar bekommernis uit dat die uitspraak negatief is vir vryheid van spraak in Suid-Afrika. Sy voer ook aan haar siening dat kolonialisme nie net sleg was vir die land nie, strook met wat onder andere ook Nelson Mandela, Moeletsi Mbeki en Julius Malema al gesê het.

Dis duidelik dat die herinnering aan die land se koloniale geskiedenis nog vars is – en dat ons nog ver van eenstemmigheid is oor hoe om die gevolge van kolonialisme vir ons land te beoordeel.

Wié jy is, bepaal dikwels ook hóé jy hoor wie wát sê.

Hoekom so? En kan sulke eenstemmigheid, of ten minste dan ’n mate van eenstemmigheid, ooit bereik word?

Die antwoorde op die vrae behoort myns insiens gesoek te word in die blywende koloniale aard van ons samelewing – en in hoe verskillende groeperinge daarop gereageer het.

Wat die blywende koloniale aard van ons samelewing betref, het ek al by ander geleenthede verwys na ’n aantal kenmerke van ons samelewing wat sedert die laat 19de eeu tot vandag toe duur, insluitend:

  • Die heersende politieke en ekonomiese elite tree op as tussenganger vir buitelandse ekonomiese kragte om plaaslike minerale en bates te onttrek en te verhandel;
  • Die land is nie ekonomies soewerein nie, maar deurlopend afhanklik van buitelandse kapitaal;
  • Die heersende elite soek die model van voortreflikheid buitelands, of dit nou in Londen, die Weste of China is;
  • Die meeste Suid-Afrikaners se woon- en werkplek is geskei;
  • Die belangrike politieke besluite word nie in die parlement of demokraties geneem nie;
  • Netwerke van vervoer en kommunikasie bedien kern-magsbelange pleks van die burgery; en
  • Wanneer die regerende elite sy houvas op mag begin verloor, volg hy ’n strategie van verdeel en heers.

Op dieselfde trant het ek ook al elders aangevoer dat wat Suid-Afrika nog ontwyk, is ’n blywende bondgenootskap tussen die verskillende groeperinge in die land om die koloniale staatstruktuur te demokratiseer en ’n inklusiewe ekonomie te skep.

Daar wás oomblikke in ons geskiedenis wat dit kortstondig verwesenlik is, byvoorbeeld die oorgang vanaf apartheid na die huidige bedeling. Nog so ’n voorbeeld is inderdaad die Springbokke se onlangse triomf. Niemand kon die simboliek miskyk nie van ’n Afrikaner-afrigter, wat self deur apartheid bevoordeel is en terugploeg in die land, en sy Xhosa-kaptein, wat danksy vasberadenheid en barmhartige samaritane moeilike omstandighede te bowe gekom het – en mekaar dan saam na die hoogste sport voer.

Dis juis omdat die burgery van hierdie land so intens verlang na ’n bestaan van samewerking en wedersydse erkenning anderkant die koloniale nalatenskap dat die Bokke se oorwinning so deur ons almal aangegryp is. So, kon ons vir mekaar sê, só wil ons lyk en so kán ons lyk.

Soos ons almal weet, is sport egter nog nie die hele land of samelewing nie.

As die land in belangrike opsigte nog koloniaal is, kan dit ons help verstaan hoekom die gesprek oor kolonialisme nog soveel emosie gaande maak, en hoekom dit so moeilik is om eenstemmigheid daaroor te bereik.

Kolonialisme is onder meer wanneer een groep ’n ander groep se geskiedenis skryf. Op dieselfde trant is dekolonisasie wanneer die voorheen gekoloniseerde groep daarin slaag om weer sy eie geskiedenis te skryf. Eers wanneer dít gebeur, kan die voorheen gekoloniseerde groep genees van die koloniale wond en hulle daarin berus.

Johann Rossouw

Afrikaners kon hierdie proses nagenoeg tussen 1930 en 2000 deurloop. In dié 70 jaar kon Afrikaners suksesvol teen Britse kolonialisme mobiliseer, die staat oorneem, en uiteindelik hulself teenoor Brittanje en Suid-Afrikaners van Britse afkoms in die ekonomie en sport handhaaf – weliswaar nie sonder Britse hulp, in ’n tyd toe Britte en Afrikaners plaaslik die geledere teen swart, bruin en Indiër gesluit het nie.

’n Sleutelaspek van die gesprek is dat Afrikaners deur middel van apartheid dié landgenote van hulle se geskiedenis vir hulle geskryf het – en sodoende die koloniale logika op hierdie landgenote toegepas het. Of Afrikaners dit nou wil weet of nie, daardie pyn lê nog vlak.

Nog ’n rede hoekom daardie pyn nog vlak lê, is omdat die ANC se oorname van die staat in 1994 nie uit die oogpunt van die meeste swart mense ewe suksesvol was as wat Afrikaners se oorname van die staat in 1948 uit die oogpunt van die meeste Afrikaners was nie.

Anders gestel, die hoop wat onder swart mense bestaan het dat ’n party wat hulle verteenwoordig hulle weer in staat sal stel om hul eie geskiedenis te skryf, het tot dusver beskaam – wat baie swart mense vermoedelik steeds in hul eie land gekoloniseer laat voel.

En dit terwyl Afrikaners ná 1994 danksy hul kapitaal, hoë onderwyspeil en kulturele netwerke hulself kon herorganiseer en ekonomies vooruitboer – dog nie sonder voortgaande en verdiepende verliese nie, veral wat betref die agteruitgang van Afrikaans as openbare taal, en die toenemende blamering van Afrikaners vir die regering se mislukkings.

Anders gestel, ondanks Afrikaners se verliese en vervreemding ná 1994, kon hulle hulself handhaaf en ’n volgende hoofstuk in hul geskiedenis begin skryf – terwyl die meeste swart mense vermoedelik steeds voel hul geskiedenis word deur ander geskryf.

En daarom gaan dit opnuut in hierdie land nie oor wát iemand sê nie, maar oor wié dit sê. Dit klink doodeenvoudig anders om uit die mond van Moeletsi Mbeki iets goeds oor kolonialisme te hoor, as wat dit klink om dit uit die mond van Helen Zille te hoor.

Nog verder: Wié jy is, bepaal dikwels ook hóé jy hoor wie wát sê. As jy lid is van ’n groep wat kolonialisme redelik kon verwerk, gaan jy anders daarna kyk as wanneer jy lid is van ’n groep wat dit nog nie kon verwerk nie.

Waar laat dit alles ons met die gesprek oor kolonialisme? Bes moontlik met die besef dat dit tans veel belangriker is om sáám die blywende koloniale aard van ons samelewing met konkrete samewerking te verander as om die voor- en nadele van kolonialisme te debatteer.

Vir solank as wat ons nie sáám mekáár van die koloniale wond kan genees nie, sal ons ook nie hierdie gesprek kan voer nie. En as ons hardkoppig weier om dit in te sien en daarop aandring om die gesprek te bly voer, gáán die ruimtes vir vryheid van spraak kleiner word, en gáán steeds gekwetste regslui se pyn deurskemer.

In ’n koloniaal verwonde samelewing word vryheid van spraak nie slegs deur wetgewing en howe beskerm nie, maar verál deur om so te doen en so te praat dat ons mekaar beter hoor, en dat ons almal gevolglik saam die ruimte vir gesprek wíl vergroot en koester.

Die postkoloniale regstaat is nie die voorwaarde van beter samewerking nie, maar die gevolg daarvan.

Hierdie land is die basterkind van ’n eens wrede, nou verwese koloniale vader. Tot al die kinders van hierdie land nie daarin slaag om ons gegewe verwantskappe met mekaar skeppend uit te leef nie, sal ons nie empatie met mekaar of met ons vader kan ontwikkel nie.

Meer oor:  Johann Rossouw  |  Plattegrond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.