Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Johann Rossouw: Taal gaan laaste lag...

Met tipiese Suid-Afrikaanse ironie beslis die konstitusionele hof ten gunste van die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid op die dag wat die Solidariteit Beweging aankondig hulle bou ’n residensiële kampus vir 6 000 studente teen R1,5 miljard in Pretoria vir hul private hoëronderwysinstelling, Akademia.

Die vernietiging van Afrikaans as akademiese taal aan die openbare universiteite laat mense wonder of hul kinders se toekoms nie maar in Engelse skole en universiteite lê nie.

Om te verstaan hoekom die toekoms vir ons kinders júis deur studie in Afrikaans is, moet ons begin by waarom die Afrikaanse openbare universiteite verengels.

Afrikaners blameer dikwels die ANC-regering, maar dié verengelsing is hoofsaaklik deur Afrikaanse rektore gedryf.

Wat was hul motivering?

Albei dryfvere ontstaan uit die nadraai van die apartheidsbedeling. R.W. Johnson wys reeds in 2006 op die letsel wat die isolasie van apartheid op Afrikaners gelaat het, sodat hulle ten alle koste deel van die hoofstroom wil wees.

Omdat Engels die enigste van die magtige wêreldtale is wat die meeste Afrikaanstaliges praat, word aanvaar die keuse vir Engels is ’n keuse vir ’n groter wêreld – en ’n keuse vir Afrikaans weer ’n keuse vir isolasie.

Tweedens het Suid-Afrika se hertoetrede tot die internasionale arena in die vroeë 1990’s plaasgevind net toe daar in die Westerse wêreld ’n grondige verandering in die universiteitswese gebeur het. Die skuif is weg vanaf die ideaal van die universiteit as instelling van hoër opvoeding en karaktervorming tot die universiteit as instansie van beroepsopleiding vir die mark.

Prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia, beskryf dit as die oorgang vanaf die Von Humboldt-universiteit tot die Thatcher-universiteit.

Dit is ’n mite dat die wêreld slegs deur Engels oopgaan.

Dit is belangrik om daarop te let dat die veranderinge wat Margaret Thatcher aan die Britse universiteitswese gemaak het, gedryf is deur haar weersin in hoe dié universiteite in haar oë burgers opgelei het wat veels te krities oor haar regering was. Kort voor lank het ondernemers die geleentheid gesien om geld hieruit te maak, en so is die sogenaamde wêreldranglyste van universiteite gebore.

Oor hierdie “wêreldranglyste” sê Timothée Toury van die Troyes-Universiteit vir Tegnologie op 15 Augustus aan Le Monde dat hulle hoofsaaklik op die natuurwetenskappe fokus, en uitsluitlik op wetenskaplike publikasies in Engels. Hulle gebruik dus Anglo-Amerikaanse kulturele maatstawwe – en so haal Engels-medium-universiteite jaarliks die hoogste posisies. Dit is baie soos wat die Amerikaners hul nasionale bofbalkompetisie die “world series” noem – terwyl niemand anders in die wêreld daaraan deelneem nie.

Ondanks alle mooi geluide oor dekolonisasie, die inheemse, inklusiwiteit, diversiteit en wat nog, bly dit so dat – weens die betreklik parogiale wêrelduitkyk van Afrikaanse universiteitsbestuurders vir wie Engels die somtotaal van die buitewêreld verteenwoordig, en weens die feit dat ons voormalige koloniale moondheid en sy taal tog steeds die norm van voortreflikheid bly – die keuse vir die “wêreldklas-universiteit” deur hierdie bestuurders gemaak, tot die verengelsing van die universiteite lei.

Daar is talle voorbeelde van hoe vals hierdie siening is, maar laat ek maar met my eie ervaring volstaan. Op 25 besluit ek in jeugdige voortvarendheid dat omdat die universiteitswese tóé al meer oor mag as oor kennis en karakter gegaan het, ek nie in akademiese tydskrifte sou publiseer nie, en slégs in Afrikaans sou publiseer – weliswaar terwyl ek Frans in my werksomgewing in Johannesburg aangeleer het.

Danksy nagraadse studie later in Frankryk ontdek ek die werk van die filosoof Bernard Stiegler en publiseer ’n lang opstel oor hom in Afrikaans op LitNet.

Twee Vlaminge lees dit en nooi my in 2008 om aan ’n gesprek oor Stiegler by ’n Australiese kongres deel te neem, wat uiteindelik weer tot my doktorale studie in Melbourne sou lei – ek het my proefskrif in Engels geskryf, maar 95% van al Stieg-ler se publikasies was destyds slegs in Frans beskikbaar, sodat Engels my net mooi niks gehelp het nie.

Ondanks die verval van die universiteitswese, het ek uiteindelik ’n dosentepos aan die Universiteit van die Vrystaat aanvaar, omdat ek besef het dat met die nodige durf en vernuf die vervalle eietydse universiteit steeds gebruik kan word om studente tot die hoogste te besiel en hul karakter te vorm – wat self wonderlik vormend vir die dosent is.

Dit is dus ’n mite dat die wêreld slegs deur Engels oopgaan, of dat slegs Engels die taal van universitêre voortreflikheid is.

Trouens, gedurende my nagraadse studie in sowel Frankryk as Australië en oor die jare op talle buitelandse kongresse, is die feit dat ek vanuit ’n Afrikaanse taalomgewing as ’n Afrikaner en ’n Suid-Afrikaner oor die vrae van ons tyd probeer dink, ongetwyfeld my grootste bate, wat nog net deure vir my geopen het.

Uit my eie ervaring het ek besluit om my twee kinders aan te moedig om in Afrikaans skool te gaan en te studeer, en wel om die volgende redes: Eerstens is hierdie taal my band met hierdie unieke konteks.

Engels en enige ander tale is wonderlike verlengings van hierdie taal en hierdie konteks, maar om Afrikaans te laat vaar, is om my beslissend van hierdie land en hierdie vasteland af te sny. Waarom sal ek my tuiste vir vreemdelingskap prysgee, terwyl die res van die Westerse wêreld vandag soos vreemdelinge in hul eie lande voel en net wens hulle kon weer tuis voel?

Tweedens, die geskiedenis van die Afrikaanse taal is deur wit, swart en bruin rebelle geskryf. Hierdie taal het geword wat hy is omdat dromers, digters, wetenskaplikes, vryheidstryders, ingenieurs en wat nog geweier het om die hoofstroom as die norm te aanvaar.

Ek en my huis skaar ons by hierdie mense – ook en veral omdat ons diep verbind is tot die kulturele, godsdienstige en kleurverskeidenheid van hierdie taal – van onder in die Bo-Kaap tot bo by Pella en Phalaborwa.

Ek voed liewer my kinders op om rebelle en dromers te wees, want dít is die vaardighede wat hulle nodig gaan hê om hierdie planeet te help red.

Derdens is dit ’n totale drogredenasie dat mense nie hul beroepe in Afrikaans kan beoefen nie. Derduisende klein Afrikaanse ondernemings is die afgelope 25 jaar suksesvol gestig en bedryf. Dit is die taal van die landbou, en van IT – in Centurion is daar byvoorbeeld ’n hoogs suksesvolle firma, IOT, wat baanbrekerswerk in die digitale bedryf doen, gestig deur Afrikaanse oud-Kovsies en bedryf in Afrikaans.

Dit is ook goed om te onthou dat die Universiteit Stellenbosch en die 900 Afrikaanse skole wat tussen 1850 en 1900 ontstaan het, aanvanklik privaat was! Twee van die regters van die konstitusionele hof, die hoofregter en sy kollega, Johan Froneman, het selfs in ’n minderheidsuitspraak oor die Stellenbosse taalbeleid die stigting van private Afrikaanse hoëronderwysinstansies aangemoedig.

Soos Tito Mboweni onlangs oor Tukkies se keuse vir Engels voorspel het, sal die dag nog kom dat die verdrywing van Afrikaans uit die openbare universiteite berou word. Daardie dag sal kom wanneer die huidige bedeling finaal ineenstort en Suid-Afrikaners ’n bedeling stig gegrond op wedersydse erkenning, samewerking en nuwe bondgenootskappe. Dan sal sulke private Afrikaanse hoëronderwysinstellings uiters waardevolle kundigheid hê om die nuwe land wat nog moet kom, die toekoms in te help.

Inderdaad: Daar ís lewe in Afrikaans ná die dood.

*  Prof. Johann Rossouw doseer filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat.

Meer oor:  Johann Rossouw  |  Plattegrond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.